Hattingh, Daniel Adriaan

 

gebore

11 Jul. 1923

OORLEDE

31 Mrt. 1996

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1951

ORDEN

1952

standplase

1952 Wesselsbron

1960 Port Natal

1964 Laeveld (Duiwelskloof)

EMERITEER

Ds Daniël Adriaan Hattingh BA TOD 11.07.1923 – 31.03.1996

Danie Hattingh is op 11 Julie 1923 op ‘n plaas in die distrik Heidelberg in die ou Transvaal gebore. Sy vader was ‘n bekende boer en ouderling in daardie omgewing. Sy skoolloopbaan voltooi hy aan die Hoër Volkskool op Heidelberg. Daarna gaan hy eers na die destydse Onderwyskollege van Heidelberg waar hy sy TOD-diploma verwerf met die oog daarop om onderwyser te word. Hy ontvang egter die roeping om evangeliedienaar te word en gaan na die Universiteit van Stellenbosch, waar hy sy BA-graad verwerf. Hy word in Desember 1951 gelegitimeer.

Op 19 November 1951 tree hy in die huwelik met Johanna Dorothea Rademeyer wat ook op Heidelberg studeer het. Uit die huwelik is drie kinders gebore naamlik. Jozua Francois, Susara Elizabeth en Jacoba Johanna. Daar is verskeie kleinkinders.

Sy eerste gemeente is Wesselsbron waar hy in Julie 1952 bevestig word. Daarvandaan gaan hulle na Port Natal (23.04.1960); Laeveld-Duiwelskloof, (25.01.1964); Brandfort (08.1O. 1966) en Uitsig Bloemfontein (04.04.1970) waar hy sy demissie kry en emeriteer op 15.04.1988.

Hy het veral belang gestel in die diens van barmhartigheid en het dan ook in meer as een Sinodale Kommissie vir die Diens van Barmhartigheid gedien. Hy was ook voorsitter van die Ring van Durban. Hy was deurlopend pastor in die volle sin van die woord: nie net in die gemeentes wat hy bedien het nie, maar ook vir sy gesin, sy familie (wat honderde lede tel) talle vriende.

Hy het die persoonlikheid van Christus met volle oorgawe nagestrewe; hy was koning, priester en profeet in ewewig met mekaar. Daarom was hy so ‘n innemende en meelewende mens. Mense het hom maklik vertrou met hulle diepste geheime en probleme.

Ondanks buitengewone beproewings, het hy die wedloop stylvol voltooi. Sy vrou, Thea – ook ‘n innig vrome mens se siekte het vir 16 jaar voortgesleep en sy het talle ernstige beroerteaanvalle beleef. Hy was vir byna 15 jaar deur akute artritis geteister met pyn dag en nag. Hierbenewens was hy die laaste tien jaar van sy lewe die slagoffer van kanker waarvoor hy verskeie kere geopereer is, bestralings ondergaan het en alleen in sy woonstel die uitwerking van talle chemoterapeutiese behandelingsprogramme moes verwerk. Hierdie swaarkry het hom egter sodanig gelouter dat die Nederlandse metafoor , (vry vertaal) op hom van toepassing is: Daar is een hoër moed dan heldemoed, naamlik deemoed; die naaste wat mens seker aan die persoonlikheid van Christuskan kom.’ Sy hele lewe is een groot voorbeeld hiervan. Dit getuig van sy krag en sterkte in die Here. – JFJ Hattingh, verwerk -en aangevul deur DJ Viljoen.