
gebore
14 Jul. 1909
OORLEDE
02 Nov. 1991
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1935
ORDEN
1936
standplase
1936 Upington (Hpr.)
1937 Boegoeberg
1943 Biesiesvlei
1946 Wolmaransstad
1951 Parkhurst
1958 Delmas
1961 Swellendam
EMERITEER
–
Ds Carel Stefanus Hattingh BA, (14.07.1909-02.11.1991); Ds Hattingh het sy bediening in 1936 begin as hulpprediker op Upington en hy was predikant van die volgende gemeentes: 1937 Boegoeberg, 1943 Biesiesvlei, 1946 Wolmaransstad, 1951 Parkhurst, 1958 Delmas, 1961 Swellendam, 1968 Cachet. In 1974 emeriteer hy en vestig hy en sy vrou hulle op Glentana binne die gemeente Outeniqualand waar hulle seun, dr KobusHattingh, predikant is. Solank sy kragte dit toegelaat het, het ds Hattingh besig gebly deur preekbeurte waar te neem of tydelik in gemeentes af te los, onder ander in Salisbury (Harare) en Swellendam. As yweraar vir die sending was hy eens sekretaris van die Mannesendingbond en het hy in die Ring van Worcester as koordineerder van die sendingwerk opgetree. Sy bediening is gekenmerk deur sy evangeliese prediking en sy nougesette pastorale arbeid, veral met huisbesoek. Oral het sy vriendelikheid, sy opregte meelewing en sy nederigheid hom geliefd gemaak. Daarby was hy ‘n vredemaker by uitnemendheid. Van hom is gesê dat die vrug van die Heilige Gees, soos opgeteken in Gal 5:22, sy lewe gekenmerk het. Vir so ‘n lewe dank ons die Goeie Gewer. Op Dinsdag 5 November 1991, in die begraafplaas van die Ned Geref gemeente Outeniqualand, het ‘n klein skare eerbiedig rondom ‘n geopende graf vergader om die laaste eer te bewys aan die ontslape ds Carel Hattingh. Hy was 83 jaar oud. Oor ‘n tydperk van dertien jaar het die siekte waaraan hy gely het, sy kragte geleidelik gesloop en sy liggaam afgetakel totdat hy as ‘n uitgeteerde klompie op sy bed gelê het, sonder die vermoë om te praat of om kos in te neem. Met liefde en selfverloëning is hy bygestaan deur sy eggenote en met toewyding is hy versorg deur die personeel van die siekeboeg in die JJ Watson-Tehuis op George. Vir almal was dit ‘n swaar beproewing om sy lyding te aanskou. Daarom was daar by die droefheid oor sy heengaan tog ook dankbaarheid vir die bevryding uit die langgerekte lyding. So het ‘n lewe van getroue en toegewyde arbeid in diens van die Here tot ‘n einde gekom. Aan sy weduwee, Nora, hulle kinders, Kobusen Frieda en die drie kleinkinders, word die vertroosting van die Heilige Gees toegebid. (- Prof E P Groenewald)