Hanekom, Johannes Willem

 

gebore

24 Nov. 1924

OORLEDE

13 Jun. 2003

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1949

ORDEN

1950

standplase

1950 Port Elizabeth

1953 Ficksburg

1957 Rondebosch

1959 Darling

1966 Robertson-Oos

EMERITEER

Ds Johannes Willem Hanekom (BA) 24/11/1924 – 13/06/2003

Jan Hanekom was ‘n nederige, innige, toegewyde kerkman van wie ‘n mens trots was om te sê hy is ‘n predikant van die NG Kerk. Iemand wat sterk standpunt kon inneem en wie se blou oë dan staalgrys geword het, maar steeds op so ‘n manier dat hy nie mense van hom vervreem het nie, hulle eerder waardering vir hom laat kry het. Wie bevoorreg was om Jan Hane kom te ken, sal hom onthou as ‘n man wat die koninkryk van God eerste gestel en die kerk waarvan hy predikant was, voluit gedien het. Ons eer sy nagedagtenis. Hy was God se man onder ons!

Jan is op 24 November 1924 op Ceres gebore. Sy vader was Francois van Schalkwyk Hanekom en sy moeder Elizabeth Johanna du Toit. Hy het sy skoolopleiding ontvang van die Laerskool Malmesbury (1931-1936); die Hoër Seunskool Malmesbury (1937-1938) en die Hoërskool Elliot (1938-1939).

Vir sy universiteitsopleiding het hy na Stellenbosch gegaan en die BA-graad in 1942 ontvang. In 1949 is hy gelegitimeer. Jan was ‘n bekende studenteleier wat in die Studenteraad en die huiskomitee van Dagbreek gedien het. Hy het ook op die sportveld uitgeblink en was kaptein van Maties se eersterugbyspan, asook van die Suidelike Universiteitespan wat in 1949 met 11-9 teen die All Blacks verloor het.

Sy eerste gemeente was Port Elizabeth-moedergemeente, waar hy in 1950 georden en bevestig is. In dieselfde jaar het hy in die huwelik getree met Johanna Christina (Joan) Vermeulen. Hulle het later vyf kinders, nl. Francois (1952, predikant op Melkbosstrand); Arnold (1954, ‘n skoolhoof); Leana (1957, ‘n sekretaresse); Jan (1961, ‘n bedryfsingenieur in Johannesburg) en Niël (1962, lid van die SAPD); Daar was in 1997 reeds tien kleinkinders.

Drie jaar later is ds Hanekom op Ficksburg bevestig, en in 1957 is hy as studenteleraar na Rondebosch beroep. Hy het vir agt jaar met groot toewyding en sukses die Woord daar bedien, voordat hy 1965 na Darling is. Hy het ook nog ‘n draai in die gemeente Robertson-Oos gemaak voordat hy in 1969 in Stellenbosch-Sentraal bevestig is. Hy het 21 jaar later in die gemeente emeritaat aanvaar.

Terwyl hy nog leraar van Stellenbosch-Sentraal was, is hy benoem vir die buitelandse bediening van die NG Kerk in die Kapelaansdiens van die SANW met standplaas Washington, Amerika. Daar was hy vir ‘n ruk verantwoordelik vir die bediening van die diplomatieke personeel en ander Afrikaanse burgers in Amerika en Kanada.

Nadat ds Hanekom emeritaat aanvaar het, het hy en sy vrou hulle in die Strand gaan vestig. Hy het nog dikwels in die gemeentes van die Strand gepreek. Daarna het hulle na die Altena-aftreeoord verskuif aangesien kanker ses jaar vroeër by hom gediagnoseer is. Hy het chemoterapie ontvang, maar teen die einde van 2001 het die limfoom weer gegroei en uiteindelik sy hart aangetas. Hy is op Vrydag 13 Junie 2003 in die hospitaal oorlede. Hy het self sy verassingsdiens beplan. Dit moes ‘n lofdiens tot God wees, ‘ n dankdiens omdat hy huis toe gegaan het. Die diens is deur sy seun Francois waargeneem, en daar is hoofsaaklik lofliedere gesing, geen mensverheerliking vir hom nie.

Jan Hanekom was ‘n begaafde prediker, ‘n gewilde studenteleraar en pastor. Die klem het vir hom geval op mense se persoonlike verhouding met die Drie-enige God. Sy prediking het ook daarop gefokus. Hy was ‘n mooi mens, innerlik en uiterlik, uiters hoflik en beleefd teenoor almal. Sy rysige gestalte het mense beïndruk en aangetrek. Hy was ‘n vredemaker wat altyd in vergaderings die weg van die liefde bepleit het. Dit het dikwels kalmte in stormagtige besprekings gebring. In ‘n stadium toe die kerk vasgedraai het in rassekwessies en nie mooi rigting kon kry nie, was ds Hanekom een van die paar wat ‘n bydrae gelewer het om die destydse kerklike beleidstukke te hersien.

Ook op breër kerklike terrein het hy in talle belangrike kommissies gedien. Hy was assessor van die Wes-en-Suid-Kaapse Sinode (1979-1987); voorsitter van die SJK van Wes-Kaap en jare lank ook voorsitter van die Algemene Jeugkommissie. Hy was ook voorsitter van die Sinodale Sendingkommissie van Wes-Kaap (want sending was sy ander hartsbelangstelling) en het in die Kuratorium van die Kweekskool gedien.

By alles was hy ‘n vaardige skrywer wat dertien boeke geskryf het, onder meer die bekende Bybelkor-kursus: Christenwees vandag – oor die Bergrede. Dit het ‘n trefferkursusgeword wat talle herdrukke beleef het. Vir sy kinders was hy ‘n rolmodel wie se liefde vir God, sy kerk, vir mense in die algemeen en vir sy huisgesin oral raakgesien is.

(Dirk Viljoen, as vriend, en aan die hand van sy biografiese vorm wat hy op 20/05/ 1997 ingevul het en ‘ n berig en ‘n huldiging oor hom in Kerkbode sowel as ‘n gesprek met sy eggenote, Joan, en sy seun, Jan.)