Hammann, Dirk Pieter

Ds. Hamman Dirk

gebore

11 Sep. 1906

OORLEDE

16 Feb. 1982

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1933

ORDEN

1935

standplase

 1935 Peddie

1939 Noordweg

EMERITEER

1972

Ds Dirk Pieter Hammann (11.9.1906 – 16.2.1982); besielde yweraar vir ons kerksang en onvermoeide kampvegter vir die rehabilitasie van alkoholiste , was uit Hartebeesfontein in Wes-Transvaal afkomstig. Tydens sy skooljare aan die Hoër Volkskool op Heidelberg (Tvl.) waar hy later matrikuleer, neem hy sanglesse by die vermaarde komponis, sanger en onderwysman Stephen H Eyssen en gedurende sy studietyd op Stellenbosch geniet hy verdere opleiding in die rigting. Hy ontvang dan ook etlike diplomas vir sang by die Kaapstadse Eisteddfod. Einde 1944 word hy gelegitimeer en as proponent verrig hy hulpdiens onder andere vir ‘n kort tydjie in Kaapstad (Groote Kerk) en langer in Oudtshoorn. Hoewel Peddie in Oos-Kaapland, waar hy op 2.8.1933 met handoplegging bevestig is, sy eerste vaste gemeente was, sal hy eintlik onthou word as leraar van Elsiesrivier – later as Noordweg en tans as Vrijzee bekend – by Kaapstad, waar hy vanaf Oktober 1939 tot sy aftrede op 7.4.1972 ‘n groot werk doen. In die klein gemeente Peddie het daar vir die jong leraar ‘n moeilike taak gewag. Met sy deeglike huisbesoek, ‘n doeltreffende wyksindeling en die opknapping van die insamelingstelsel waartoe hy die kerkraad en gemeente aangespoor het, verbeter die toestand egter aanmerklik. Die Strewerstak wat hy daar gestig het, bestaan na sy vertrek nog voort en met behulp van ‘n ruim skenking deur ‘n suster van die gemeente word daar selfs ‘n kerksaal opgerig. Toe hy en sy gade in Elsiesrivier kom, moet alles daar ook as’t ware “uit die sand” opgebou word: eers ‘n pastorie, toe die statige kerkgebou en later die Vryetydsaal – so genoem omdat die lidmate dit onder die besielende leiding van hul predikant self gebou het. Dit staan dusook daar as ‘n monument nie slegs vir die ondernemingsgees en samewerking van die lidmate nie, maar ook vir die organisasietalent van die gemeente se eerste leraar. Met sy aftrede was hy die predikant met die langste ononderbroke verbintenis met ‘n Skiereilandse gemeente. Met ‘n sterk bariton; stem begaaf, het hy ‘n groot voorliefde vir die kerksang en musiek gehad, wat daartoe meegewerk het dat hy lank ‘n lid en ook voorsitter van die Kaapse Sinodale Kommissie vir Kerksang en -musiek was. As lid van die kommissie wat vir die hersiening van die Halleluja verantwoordelik was, is hy in 1949 een van die ondertekenaars van die voorwoord vir die “Nuwe Halleluja”. Verder sal sy naam altyd met die Kerk se poging tot die rehabilitasie van dranksugtiges in verband gebring word. Jare lank beywer hy hom vir die oprigting van ‘n inrigting waar die werk behartig kan word en toe Ramot, die NG Kerk se inrigting vir alkoholiste, in Parow tot stand kom, dien hy lank en met groot geesdrif in die beheerraad daarvan. Die pogings wat hy aanvanklik in sy eie gemeente aangewend het om gerehabiliteerde alkoholiste te help om staande te bly en mekaar te ondersteun, lei tot die stigting van die Christelike Alkoholistevereniging – tans die Christelike Alkoholistediens – wat dieselfde doel op die wyer kerklike akker nastreef. Met hierdie werk bly hy tot die einde toe besig. Na sy aftrede vestig die egpaar hulle op Kleinmond, waar “Die Plaas” vir sy pragtige veldblomme bekend staan en waar hy ook aktief aan natuurbewaring deelneem. Verder lewer hy in die jare van tyd tot tyd waardevolle hulpdiens in verskeie Kaaplandse gemeentes. Hy is ‘n hartaanval skielik in die hospitaal op Caledon oorlede. (Jaarboek 1983/263).