Haarhoff, Louis

Ds. Haarhoff Louis

gebore

06 Mrt. 1933

OORLEDE

23 Sep. 2003

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1957

ORDEN

1958

standplase

Vanderbijlpark-Wes

1963 Taaibosspruit

EMERITEER

Ds Louis Haarhoff (BA, MA) 06/03/1933 – 23/09/2003

Louis Haarhoff is op 6 Maart 1933 in Potchefstroom gebore, waar sy oupa Izak Haarhoff ‘n drukkery bedryf het en die bekende Die Herald gedruk is. Oupa Izak het gewerk tot op die ouderdom van 69 jaar. Louis se pa, Nic Haarhoff, het die tradisie voortgesit as drukker by die koerant in Potchefstroom. In die Depressie jare het hy in Johannesburg gaan werk om ‘n groter salaris vir sy gesin te verdien, maar as gevolg van die negatiewe invloed wat Johannesburg op sy twee jong seun kon hê, het hy na Potchefstroom teruggekeer om weer by dieselfde koerant te werk. Hy was getroud met Margaret Stapelberg, en vier van hulle vyf kinders het volwassenheid bereik.

Louis het in 1939 sy skoolloopbaan aan die Laerskool Mooirivier op Potchefstroom begin en is in 1947 na die Hoërskool Gimnasium op Potchefstroom waar hy in 1951 gematrikuleer het. Louis was al vroeg in die laerskool oortuig dat hy ‘n predikant moes word, en niks en niemand kon hom beïnvloed om iets anders te doen nie.

Na matriek het hy BA (Admissie) aan die PU vir CHO gestudeer. Hier het hy sy toekomstige vrou by ‘n KJA-waatlemoenfees by die dam ontmoet. In 1954 het hy na Stellenbosch vertrek waar hy aan die Teologiese Seminarium gestudeer het. In die tyd het hy ook die MA-graad in Semitiese Tale verwerf onder leiding van prof Charles Fensham aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy was besonder doelgerig in alles wat hy aangepak het, ‘n eienskap wat hom die res van sy lewe by gebly het. Aan die einde van 1957 is hy as proponent gelegitimeer en het hy na die NG Gemeente Queenstown vertrek waar hy tydelik in die plek van dr JC (Pippen) Oosthuizen gehelp het. Naburige gemeentes soos Tarkastad en Rhodes het hom leer ken en beroep, maar hy het hom geroepe gevoel om ‘n beroep na die gemeente Vanderbijlpark in Suid-Transvaal te aanvaar.

Prop Louis Haarhoff is op 31 Mei 1958 in die NG Gemeente Vanderbijlpark-Wes met handoplegging bevestig. Hier het hy op versoek van die kerkraad ‘n kerkgebou ontwerp, en het hy eiehandig ‘n yslike paneel van die saaier in die portaal met mosaïek werk gelê. Sy vrou, Esmé, skryf oor hierdie talent: “Wat uitgestaan het in Louis se bediening, was dat hy naas sy arbeid as leraar in elke gemeente ook ‘n kerkgebou opgerig het, sowel as ses buite sy gemeente wat die totaal op tien te staan gebring het. Hy het ook twee pastorieë en twee kerksale gebou. Hy was ‘n skilder van formaat en het drie tentoonstellings gehou, die laaste en mees suksesvolle een ‘n week ra sy begrafnis.”

In die vroeë winter van 1963 het Louis leraar van die Vrystaatse gemeente Taaibosspruit in die omgewing van Coalbrook geword, daar waar die hartseer mynramp plaasgevind het. In 1968 het hy roepstem na die Kerk in Midde-Afrika gehoor en leraar van die gemeente Marandellas in die huidige Zimbabwe geword. Op 13 Oktober 1973 het hy teruggekeer na die Republiek as leraar van die gemeente Parys-Suid. Oor jare heen het ds. Louis Haarhoff hom onderskei as ‘n uitstekende finansier, daarom is sy talente ook in Koninkryksbelang gebruik. Na ‘n sinodale besluit het ds. Louis Haarhoff in 1983 sakebestuurder van die Vrystaatse kerk geword, ‘n kerklike pos wat nie sonder enorme spanning vir die leraar en sy gesin gekom het nie. Weens probleme met sy gesondheid is hy genoodsaak om in Augustus1989 vroeg af te tree. Hieroor skryf Esmé: “Louis is weens spanning altyd, veral as sakebestuurder, deur hoofpyne en ‘n maagseer geteister. Vyf jaar na sy aftrede was sy gesondheid uitstekend sonder enige hoofpyne.”

Ds. Louis Haarhoff is 29 Desember 1956 getroud met Esmé Wiese, ‘n bibliotekaresse wat voor haar man se toelating tot die bediening op Potchefstroom en Stellenbosch gewerk het. Uit hulle huwelik is drie kinders gebore: Louis (‘n elektroniese ingenieur van Vanderbijlpark); Theodor (‘n advokaat van Pretoria); en Theresa (‘n sielkundige in Pretoria).

Na sy aftrede het hulle twee jaar lank op sy plaas naby Parys gewoon waar hy dikwels in omliggende gemeentes uitgehelp het met preekbeurte en Pinksterdienste. Daarna het hulle vyf jaar in Pretoria gewoon en toe weer vyf jaar op die plaas. Die laaste twee jaar het die egpaar op Nylstroom gewoon waar hy op 23 September 2003 oorlede is. Aan die einde het hy teenoor sy kinders getuig: “My lewe was geseënd. Die Here was vir my so goed. Om na die Here toe te gaan is vir my ‘n wonderlike vooruitsig.” Die begrafnisdiens het op 26 September 2003 in die gemeente Nylstroom-Oos plaasgevind, en sy jare lange vriend, ds. Jan Hom van die Bybelgenootskap in Bloemfontein, het ‘n troosboodskap uit 1 Kor. 15:54 gelewer. – Dr Gerdrie van der Merwe.