Gutu (1907)

Groot uitbreiding vind plaas toe die N. G. Sending in 1907 drie sendingstasies van die Berlynse Sendinggenootskap vir die bedrag van £1750 (R3 500) oorneem. Dit word moontlik gemaak deur die goeie betrekkinge tussen die twee Sendinge van die begin af, die etniese verband tussen die mense onder bearbeiding en die vroeë stadium waarin die werk verkeer. Die rede vir die versoek van die Berlynse Sendinggenootskap aan die N.G. Sending om die drie stasies oor te neem, is finansieel: die werk in Masjonaland het vir hul finansiële verrnoë te veeleisend geword.

Een van hierdie stasies is Gutu, sowat 112 km noordoos van Morgenster, wat in 1892 deur die Berlynse sendelinge Meister en Wedepohl begin word. Binne ‘n paar maande na die aanvang van hul werk volg Meister sy vrou en kind na die graf. ‘n Kis is daar nie vir hom nie en uit die planke van sy boekrak moet Wedepohl ‘n kis vir sy kollega maak. Na die oorgawe word ds. H. L. Webb die eerste sendeling van die N.G. Sending op Gutu (Bron: Cronje, J.M. 1981. Aan God die dank. p. 102).

Gutu is die tweede grootste stasie in die Mashonalandse Sending. Hier is twee superintendente vir skole (een is die predikant). Dan is daar ‘n prinsipaal vir die opleidingskool vir onderwysers. Verder is hier vier onderwyseresse op die personeel – een as matrone van dogters, een by die oefenskool, een in die primêre skool en een by die opleidingskool. Verder is daar ’n  sekretaresse wat die skool- en kerkboeke in orde hou en die poskantoortjie en boekwinkel bestuur. Dan is daar nog die hulp van agt naturelle-onderwysers(esse). Die persoon wat die klas in Iandbou en wetenskap aan die primêre en opleidingskool waarneem, is ook die boer van die stasie. Naas Morgenster het Gutu die enigste hospitaal. Dus moet hier ook ‘n geneesheer en verpleegster wees.

Hier is ‘n mooi kerkie. Die pragtige ou historiese Duitse kerkie word as klaskamer gebruik. Verder is hier, wat geboue betref, die pastorie wat nog deur die Duitsers gebou is, die superintendentshuis, die boer se huis, die prinsipaalswoning, die damestehuis, wat agt dames kan huisves, die dokterswoning, die nuwe opleidingskool vir onderwysers, die primere skoolgeboue, die oefenskool, die dogters- en jongensgeboue. Die grasdakke wyk al meer vir moderne asbesdakke.

Dis ‘n baie droë stasie en die water wat gebruik word, word met karre aankarwei. Geen huis het ‘n water pypleiding nie; alle water kom uit tenks of word aankarwei. (Bron: Olivier, P.L. 1952. Wie is wie in ons sendingvelde? p. 3-4).