gebore
20 Mei 1950
OORLEDE
15 Sep. 2013
UNIVERSITEIT
BA; BTh; Lis Teol. (US)
gelegitimeer
–
ORDEN
1975
standplase
1975 Vasco
EMERITEER
2004
Jacobus Albertus Groenewald is op 20 Mei 1950 op die kusdorp Hermanus gebore. Sy vader, Coenraad Johannes Groenewald, is die eienaar van ‘n motorhawe en sy moeder, Sophia Margarietha Swart, ‘n huisvrou. Kowie begin sy skoolloopbaan in 1956 aan die Laerskool Hermanus en hy matrikuleer in 1967 aan die Hoërskool Hermanus, waar hy uitblink in atletiek en boks. In 1968 verrig hy militêre diensplig.
Hy voel geroepe om predikant te word en skryf in 1969 in as student aan die Universiteit Stellenbosch, waar hy in 1971 ‘n BA-graad verwerf. Hierna is hy ‘n student by die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch, waar hy ‘n BTh en ‘n Lisensiaat in Teologie behaal. Op Stellenbosch boks hy vir die universiteit en ontvang ook erekleure in diê sport.
Kowie trou op 15 Desember 1972 met Adeline Botha, en uit diê huwelik is twee kinders gebore: Jacques, wat met Lucinda trou; en Adele, wat verloof is aan Emile.
Prop JA Groenewald ontvang ‘n beroep na die NG Gemeente Vasco, waar hy op 12 Desember 1975 met handoplegging bevestig word. Die Here beskik dat hy sy hele bediening by gemeente bly. Hy doen uitstekende werk en het die vermoë om relevant te bly in veranderende omstandighede.
‘n Vriend skryf: “Kowie was ‘n vriendelike mens met ‘n innemende en aangename geaardheid. Ek onthou hom as ‘n netjiese en presiese persoon, wat geglo het dat die administrasie van ‘n gemeente belangrik is. Hy het ‘n voorliefde vir syfers en was jare lank lid en later voorsitter van die destydse Kommissie vir Toesig en Kontrole en ‘n lid van die predikante-pensioenfonds. Ek het Kowie leer ken as iemand wat lief is vir mense en dit was vir hom nie moeilik om ander se vertroue te wen nie. Hy het graag mense opgesoek en met fyn begrip geluister na wat hulle met hom gedeel het. Dan het hy saam met hulle gebid en die Here om hulp en leiding gevra.
“Hy het ‘n besondere deemis gehad vir mense wat swaarkry. Sy navolging van die Here was eerlik en opreg – iets waarvoor mense wat hom geken het groot waardering getoon het. Ek dink met groot waardering terug aan ‘n kollega wat deur sy minsame geaardheid en sy positiewe voorbeeld ‘n blywende indruk op baie mense gemaak het. Saam met sy familie en vriende dank ons die Here vir sy lewe.”
In 2004 emeriteer ds JA Groenewald na byna driê dekades as leraar by die Vasco-gemeente. Ds Christo Alheit skryf in 2013: “na sy aftrede het Kowie en sy vrou, Adeline, nog ingestaan as leraarspaar in Thomton, totdat sy gesondheid vroeër vanjaar sodanig versleg het dat hy nie meer kon werk nie. In albei gemeentes was hy ‘n geliefde dienskneg van die Here wat vreugde gevind het in die hantering van die Woord by eredienste en ‘n pastorale betrokkenheid by mense, veral met huisbesoek.”
“In die ring van Goodwood het hy jare lank ‘n leidende rol gespeel as ringskriba, veral toe die plek en funksie van die NG Kerk in die noordelike voorstede baie begin verander het. By die Algemene Sinode van die NG Kerk se Fondsekommissie het Kowie daarin geslaag om rustigheid en koers te bring in die finansiële bestuur van die kerk, in ‘n tydperk van groot woelinge en veranderinge tydens Suid-Afrika se oorgang na ‘n demokrasie. Hy was ‘n ideale soort predikant – iemand op wie ander kon staatmaak vir kalmte en leiding.”
‘n Troosdiens is op 18 September 2013 in die NG Gemeente Gordonsbaai gehou. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM