gebore
02 Jun. 1905
OORLEDE
22 Aug. 2002
UNIVERSITEIT
BA; MA (US); ThD (Vrije Ams)
gelegitimeer
1931
ORDEN
1932
standplase
1932 Bethulie
1938 Prof. Teol. Fakulteit, Pretoria
EMERITEER
–
Prof Evert Philippus Groenewald (BA, MA, Th DR) 02/06/1905 – 22/08/2002
Evert Groenewald sal veral onthou word vir die uitstaande akademikus wat hy was, vir die feit dat hy voorsitter was van die Konvensie van die destydse vyf sinodes van die Ned Geref Kerk op 11 Oktober 1962 toe die sinodes een geword het, en vir die feit dat hy die voorsitter was van die Bybelvertalingskommissie van die Hersiene Afrikaanse Bybel van 1983. En daar is vele meer kenmerkende dinge van EP Groenewald.
Hy was waarlik ‘n vader van die kerk, deur almal gerespekteer en geliefd. ‘n Waardige mens in alle opsigte en ‘n ware heer in sy omgang met mense. Sy lewe en getuienis is ‘n sieraad in die geskiedenis van die Ned Geref Kerk.
Daarom het hy ook talle eerbewyse ontvang: hy het vier eredoktorsgrade ontvang (van die Universiteite van Pretoria, Stellenbosch, Potchefstroom en die Randse Afrikaanse Universiteit); Hy was die eerste ontvanger van die Stalsprys vir Teologie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (1970); Ook die Staatspresident se Orde vir Voortreflike Diens (Goud) is in 1988 aan hom toegeken. Die hoogste eerbewys van die SA Akademie is aan hom gegee, nl. die Erepenning, asook erelidmaatskap. Ander eerbewyse was van die Nederduitse Hervormde Kerk van Afrika, die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings, die Afrikaanse Studentebond, die Nuwe-Testamentiese Werkgemeenskap, die Deo Gloriavereniging, die Bybelgenootskap van Suid-Afrika en van talle gemeentes.
Evert Groenewald is op 2 Junie 1905 te Ezelsjagt in die George-omgewing gebore. Sy vader, Johannes Groenewald, en sy moeder, Harriet Susan Maria Hough van Rooyen, het geboer. Hy het die Laerskool Ezelsjacht op George (1912-1916) en die Hoërskool George (1918-1922) bygewoon. Hy het matriek as toppresteerder in die eersteklas geslaag en ‘n onderskeiding in Wiskunde behaal, hy was ook vierde op die lys van die Laer Taalbond in Geskiedenis. Op skool was hy ‘n lid van die CSV, en het hy krieket en rugby gespeel.
Evert Groenewald het op Stellenbosch (1923-1928) gestudeer en die grade BA en MA (Grieks) verwerf. Die tema van sy verhandeling was: “Logos in die Griekse Filosofie”. In 1929 het hy sy studies aan die Vrije Universiteit van Amsterdam voortgesit en die Th Dr-graad is in 1932 cum laude aan hom toegeken. Sy proefskrif het gehandel oor “Koinonia by Paulus” (Delft 1932); In 1930 het hy ook aan die Universiteit van Tübingen in Duitsland gestudeer. Hy het egter nie net in die boeke belang gestel nie, en het as student ook aan die CSV deelgeneem, as primarius van Dagbreek-koshuis (1926-1928) gedien en is tot lid en sekretaris van die Studenteraad verkies. Tussen 1926 en 1928 het hy as voorspeler vir Maties se eerste rugbyspan uitgedraf. Hy is in Desember 1931 gelegitimeer.
Prof Groenewald se eerste en enigste gemeente was Bethulie waar hy in 1932 georden en bevestig is. In 1985 het hy sy ervarings van die tyd as ‘n boek gepubliseer. En watter interessante beskrywing is dit nie van die bediening van ‘n jong predikant in sy eerste gemeente nie! Dit was kort na die sogenaamde Du Plessis-saak en aanvanklik het die predikante van die ring hom daarvan verdink dat hy ‘n “Du Plessis-man” was. Daarom was net die konsulent, ds AA van Schalkwyk, uit die Ring van Smithfield teenwoordig by sy handoplegging en bevestiging.
Later het hy egter die Bybelstudie by ‘n predikante-byeenkoms gelei met die oog op Pinkster by Aliwal-Noord en het hy baie van die vooroordele teenoor hom afgebreek. By die eerste ringsitting was die atmosfeer reeds vriendeliker. Ook by sy eerste sinodesitting in 1934 het hy net een keer gepraat en ‘n hele verandering van gesindheid in die bespreking gebring.
Sy bediening in Bethulie het plaasgevind gedurende die droogte en Depressie van 1932 en ’33. Daarna het erge sprinkaanplae gevolg. Dit is gevolg deur grootskaalse armoede en werkloosheid in die gemeenskap. Die jong dr Groenewald het ‘n belangrike rol gespeel in die opheffing en werkverskaffing aan die mense van daardie geweste in ‘n kerk-staat-samewerkingskema.
Ook vir die jeug en op kulturele gebied het hy sy deel gedoen. By ‘n vergadering van die skoolkommissie het hy genoem dat dit wenslik is dat ‘n kommando van die Voortrekkerbeweging by die skool gestig word. Die inlywing van die kommando het op 15 Junie 1934 plaasgevind en onder andere het die onderprovinsiale leidster van die Voortrekkers, mej Gertruida van den Heever, die plegtigheid bygewoon. Sy was in daardie stadium ‘n joernalis van Die Volksblad en Landbouweekblad. Sowat ‘n maand later, in Julie 1934, het ds Groenewald en Gertruida op ‘n jeugkonferensie in Bloemfontein verloof geraak. Op 3 April 1935 is hulle in die Tweetoringkerk in Bloemfontein getroud. Dr HC de Wet het die huwelik bevestig, terwyl dr JD Kestell ‘n gebed gedoen het en die hoofleier van die Voortrekkers, dr CF Visser, ‘n onthaal in sy huis vir hulle aangebied het.
Gertruida Groenewald was in eie reg ‘n merkwaardige persoon. Sy was ‘n gesogte spreker en was later voorsitter van die destydse Bond van Dienaresse wat onder haar leiding ‘n bloeitydperk beleef het. Uit hulle huwelik is drie kinders gebore, Johannes (1939); Evert Philippus (1944) en Gertruida Francina (1946); Daar is vyf kleinkinders.
In 1938 is die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria gestig. Die Vrystaatse Kerk was daarteen gekant omdat hulle dit onder meer as verraad teen die Kweekskool op Stellenbosch gesien het. EP Groenewald is egter, as Vrystaatse predikant, op 37-jarige ouderdom as professor in Nuwe-Testamentiese Wetenskap beroep. Dit het weer spanning in ringsgeledere gebring en nadat hy die beroep aanvaar het, was daar by sy afskeid weer slegs die ring se konsulent teenwoordig. Hy is egter baie liefdevol en met groot hartseer deur die gemeente gegroet.
EP Groenewald het later sinoniem geword met die Teologiese Fakulteit van Pretoria omdat hy sy volle lojaliteit, kragte en bekwaamhede daaraan gewy het. Van die vreugdes in sy lewe was die erkenning van die Transvaalse Teologiese Fakulteit deur die Kaapse Kerk in 1945, en van die Vrystaatse Kerk in 1948. Hy was 33 jaar professor daar, waarvan hy 21 jaar as dekaan gedien het. Hy het steeds op die voorpunt van die teologiese studies gebly. Sy lesings was grondig en interessant, deurspek met fyn droë humor. Hy het ‘n vormende invloed op sy studente gehad en sy stempel op elkeen van hulle afgedruk. Hy het besonder baie van sy studente verwag en ‘n mondelingse eksamen by hom was ‘n formidabele gebeurtenis. Hy was ook ‘n voortreflike dekaan en het die fakulteit met nugterheid, wysheid en integriteit bestuur. Hy was ‘n seder en sieraad vir die fakulteit.
Prof Groenewald was die grondlegger van die Nieu-Testamentiese Teologiese studie in Suid-Afrika en medewerker aan verskeie internasionale publikasies. Hy het 21 boeke geskryf, waaronder verskeie verklarings van die Evangelies. ‘n Lys van sy publikasies kan gevind word in Hermeneutica se huldigingsbundel oor hom van 1970. Sy laaste boek het in 1995 verskyn.
Hy het in feitlik al die belangrike kommissies van die kerk gedien, onder meer die Federale Raad van die NG Kerke, waarvan hy voorsitter was toe die Konvensie van die kerke in 1962 gehou is en die Raad ontbind is. Hy was toe die voorsitter van die Konvensie waardeur die vyf sinodes van die NG Kerk in 1962 een geword het om die Algemene Sinode te vorm. Die verskillende verslae wat aan sinodes voorgelê was en waarvan hy die opsteller was, het groot aandag geniet en ‘n groot verskil gemaak aan die verloop van sekere sake in die kerk. Sy helderheid, saaklikheid en insig het talle male die deurslag in debatte gegee. Hy het ook die kerk by talle internasionale ekumeniese forums verteenwoordig.
Van 1956 tot 1969 was hy voorsitter van die Hersieningskommissie van die Afrikaanse Bybel van 1933. Vanaf 1970 (na sy aftrede) het hy met een van sy grootste take begin, die Bybelvertaling in Afrikaans met die oog op die hersiene uitgawe wat in 1983 verskyn het. Hy het ‘n reuse-aandeel gehad in die noukeurige besinningsproses aan die hand van die Bybelse grondtekste en die vertaling daarvan in moderne Afrikaans. Hy was ‘n dosyn tale magtig, onder andere Oud Siries, Aramees, Klassieke Grieks, Hebreeusen Latyn.
Na sy aftrede het hy en sy vrou aanvanklik op ‘n hoewe in Pretoria gewoon (1970-1979) terwyl hy voltyds besig was met die Bybelvertaling. In 1979 het hulle na Gordonsbaai verhuis waar hy ook nog voortgegaan het met die Bybelvertaling. In 1988 het sy eggenote, Gertruida, hom op 80-jarige leeftyd ontval. Daarna het hy in die Majestic (‘n omskepte hotel) in die Strand gewoon en later was hy en prof David de Villiers bure in Benadehof in die Strand.
Selfs in sy hoë ouderdom was hy nog betreklik gesond, behalwe dat sy oë verswak het. Hy moes later selfs ‘n spesiale toestel gebruik wat aan sy televisie gekoppel is sodat hy byvoorbeeld sy koerant in groot skrif op die televisieskerm kon lees. So het hy nog Bybelstudies gelei en self nog af en toe gepreek. Hy het ook nog opgetree by die 75-jarige fees van die Fakulteit van Teologie in Pretoria, en in April 2002 is ‘n eksemplaar van die feesbundel, NG Kerk 350, aan hom oorhandig in die Groote Kerk in Kaapstad, waar hy ‘n aangrypende gebed gedoen het – sy laaste openbare optrede.
Op 97-jarige leeftyd het sy gesondheid skielik verswak en is hy opgeneem in ‘n kliniek in die Helderberg. Hy is na ‘n hospitaal oorgeplaas waar hy op Donderdag 22 Augustus stil heengegaan het.
Ons dank die Here vir prof EP Groenewald se vormende en verrykende invloed, en sy reusewerk in diens van die Teologie, die NG Kerk en die koninkryk van God.
(Dirk Viljoen, aan die hand van sy biografiese vorm wat hy op 30/01/1997 ingevul het, sy begrafnisbrief, en ‘n huldiging deur prof Cas Vos.)