gebore
10 Feb. 1929
OORLEDE
9 Okt. 2009
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1953
ORDEN
1954
standplase
Njassaland
EMERITEER
–
Barend Hermanus Groenewald is op 10 Februarie 1929 op Riviersonderend gebore. Sy vader was Hendrik Siebert Groenewald, wat die Here as boer dien, en sy moeder is Johanna Christina Kriegler, ‘n huisvrou. Bertie begin in 1935 sy skoolopleiding aan die Laerskool Lindeshofen hy is vanaf 1942 ‘n leerling aan die Hoërskool Villiersdorp, waar hy in 1946 matrikuleer. In diê tyd is die gemeenteleraar dr Jac J Miiller, wat later professor aan die Teologiese Seminarium in Stellenbosch sou word. In 1942 gee hy as ‘n Standerd Sesseun sy lewe oor aan die Here en ontvang in dieselfde tyd die roeping om sendeling te word. Hy studeer van 1947 tot 1950 aan die Universiteit Kaapstad, waar hy ‘n BA-graad verwerfen in 1950 toegang verkry tot die Kweekskool op Stellenbosch. Hy is lid van die SVB (Studente Vrywilliger-beweging) en die CSV, en prof GBA Gerdener is vir hom soos ‘n geestelike vader. Hy is intens betrokke by konferensies oor sending – onder meer met die bekende sendingkampe te Bainskloof
Na sy legitimasie aan die einde van 1953 word hy in die NG Kerk Riviersonderend met handoplegging georden vir sendingwerk in Nyassaland (Malawi) – by die hoofstasie op Nkhoma. Hy is toe van 1954 tot 1961 werksaam op die Malembo-sendingstasie, waar hy wonderlik saamwerk met ds Stephen Bulombola. Hieroor skryf Bertie later: “Die eerste drie jaar was ek as ongetroude alWn op die stasie en die eerste jaar was die moeilikste – vreemd, alleen, al sukkelend met die taal, op ‘n plek waar niemand Afrikaans ken nie.” Hy het altyd gebid vir ‘n vrou met ‘n sterk sendingroeping – en diê gebed word verhoor toe hy Nyasa Daneel ontmoet, die dogter van ds Alec en Tina Daneel van Morgenster in die destydse Rhodesië.
In 1961 word Bertie en Nyasa na Lilongwe geroep, waar hulle ook verantwoordelik is vir die Mema-ateljee om die Blye Boodskap na Addis Abeba uit te saai. In sy dienstyd word ‘n nuwe jeugkamp by Malingunde gebou – ‘n reusetaak. In 1970 word hulle verplaas na Chongoni en moes hulle saam beplan aan die oprigting van ‘n groot gebouekompleks waar die sinodesittings ook gehou sou word. In diê tyd word sendelinge deur die owerheid gevra om die land te verlaat – maar voordat dit met Bertie kon gebeur, word hy en sy gesin na Masjonaland verplaas. In 1975 word hy deel van die Reformed Church of Zimbabwe en hy is werksaam by CAVA (ChristianAudio Video Action) in Harare.
In 1994 aanvaar ds Bertie Groenewald emeritaat en die gesin vestig hulle in Somerset-Wes. Hy is ouderling en gaan voort om sending te bevorder; hy is ook ‘n raadslid by die Wycliffe Bybelvertalersorganisasie.
Bertie het drie keer getrou: Op 16 Desember 1956 met Nyasa; sy sterf in 1986. Uit hulle huwelik is ses kinders gebore: Alec, Martina, Samuel, Hanna, Hendrik en Barend. Hy trou ‘n tweede keer, in 1988, met Louise
Francina Kotze, maar sy sterf in 1990 aan kanker. Hy trou ‘n derde keer in 1991 – nou met Hendrina Cecilia van der Walt, en sy versorg hom tot met sy dood op 9 Oktober 2009.
Hy word onthou as ‘n geliefde mens, iemand wie se lewe tot aan die einde omraam was met ‘n sterk sendingroeping. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM