GEBORE
2 Apr 1937
oORLEDE
5 Apr 2020
UNIVERSITEIT
BA (Nagr Dipl Teol) (UP)
gelegitimeer
1961
ORDEN
1962
standplase
1962 Vergenoeg Kenia
1964 Daspoort
1966 Dalunie
1970 Warmbad-Wes
1981 Kloofsig
1983 Monumentpark-Wes
1997 Clarens
EMERITEER
2 April 2002
DS PIET GROBLER (BA) 2 April 1937 — 5 April 2020
Petrus Johannes Grobler is op 2 April 1937 gebore in Rustenburg, op Goeie Vrydag tydens ‘n Nagmaalsnaweek. Piet is een van ‘n identiese tweeling, hy en sy broer Jan word albei predikante in die NG Kerk. Sy vader is Petrus Johannes Grobler, ‘n onderwyser wat deeltyds boer en skriba is van die NG gemeente. Hy kry die eretitel van “oom Piet Meester”. Sy moeder is Johanna Maria Barnard, ‘n huisvrou wat haar gesin met liefde versorg. Albei Piet se ouers is boorlinge van Rustenburg waar sy voorgeslag ‘n groot rol speel.
Piet begin sy skoolopleiding in die plaasskool te Elandskraal te Marikana in die distrik Rustenburg. Hy is later leerling aan die Hoërskool Rustenburg, waar hy matrikuleer en kaptein is van die skool se 2de rugbyspan en briljante losskakel. Hy geniet dit terdeë wanneer die publiek hom en sy broer Jan verwar. Hy was ‘n lid van die CSV wat daartoe bygedra het om sy roeping as predikant te versterk.
Piet studeer na matriek aan die Universiteit van Pretoria waar hy die BA (Admissie) verwerf. Hy dien op die joolkomitee, ASB-bestuur, is lid van Tukkies se skyfskietspan en die universiteit se volkspelegroep. Soos die meeste tokkelokke is hy ‘n inwoner van die koshuis Sonop. Hy studeer aan die Teologiese Seminarium (Afd B) in Pretoria en word aan die einde van 1961 as proponent gelegitimeer. Hierna trou hy op 2 Desember 1961 met Maria Elizabeth Cornelia Theron, ‘n boorling van Fouriesburg in die Oos-Vrystaat waar haar ouers boer. Uit hulle huwelik is vier seuns gebore, Piet, Louis, Hennie en Adolf.
Prop PJ Grobler word op 28 Januarie 1962 beroep as predikant van die NG Gemeente Vergenoeg te Eldoret in Kenia. Hy bedien die Afrikanerboere in Kenia tydens die Mau-Mau-tydperk. Ter wille van die nabyheid van familie en vriende word hy op 21 Januarie 1962 georden vir dié doel te Marikana by Rustenburg. Die geleentheid word bygewoon deur prof AB du Preez, prof AH van Zyl, ds. HF Grobler en ds. MW Pieters. Op 28 Januarie 1962 vind die bevestiging van prop PJ Grobler plaas op Eldoret, waar ds. Chris Murray dit waarneem. Dit was ‘n besondere ervaring vir die jong leraar om in hierdie krisistyd die Woord te bedien aan die Afrikaners in die hart van Afrika.
Op 1 Februarie 1964 word hy bevestig as leraar van die NG Gemeente Daspoort in Pretoria, waar hy met liefde die mense bedien en betrokke is met die bou van ‘n pastorie. Na twee jaar loop sy pad na die NG Gemeente Dalunie by Brits, waar hy en sy vrou Bets hartlik saamleef met die hegte boerderygemeenskap. Hier bou hy ook ‘n kerksaal. ‘n Roepstem kom na die NG Gemeente Warmbad-Wes, ‘n nuut-gestigte gemeente, waar hy op 25 Julie 1970 as leraar bevestig word. Hier lê hy die eerste boustene in die gemeente en is betrokke met die bou van ‘n nuwe kerkgebou en twee pastorieë, ‘n besondere tyd in sy bediening. In die meer as ‘n dekade ontvang hy vyftig beroepe en tydens die Pinkster van 1974 breek daar ‘n herlewing onder die jongmense uit. Hy is ook betrokke in die sending en help die NGKA Moime in Warmbad om twee kerke en ‘n pastorie te bou.
Na elf jaar loop sy pad na die NG Gemeente Kloofsig waar hy op 23 Januarie 1981 die herderstaf opneem. Na twee jaar word hy op 10 September 1983 leraar van die NG Gemeente Monumentpark-Wes, waar hy betrokke is met die bou van ‘n kerkgebou en ‘n pastorie. Met toewyding het ds. Piet huis- en siekebesoek gedoen en met sy besondere geheue het hy elke lidmaat, ouer en kind op hulle naam geken. Hy was besonder lief vir die sending en het in die Ring van Lyttelton leiding geneem met sendingwerk in Frankryk. Ds. Johan de Witt skryf: “Hy was ook besonder betrokke by die Diens van Barmhartigheid en die bou van Rusoord Centurion waar bejaardes versorg kon word. Piet was ‘n man van God wat sy Here op elke terrein van die lewe gedien het. Dit was my voorreg om vir 11 jaar, op ‘n deeltydse basis saam met Piet die Here te kon dien. Vroegoggend een keer per week het ons saam gebid.
Al was ek net deeltyds betrokke in die gemeente het Piet my soos ‘n mede-leraar behandel. Ek dank die Here vir die voorreg om saam met Piet die Here te kon dien.”
Op 19 Januarie 1997 loop ds. Piet en Bets Grobler se pad na die NG Gemeente Clarens in die Vrystaatse grensgordel, waar hy ‘n kontrakpos beklee. Hier leef en werk hulle met oorgawe tot hy op 2 April 2002 op 65-jarige leeftyd sy emeritaat aanvaar. Hy help ook tydelik in die NG Gemeente Gravelotte en vestig hom in 2004 in die Leeupoort-wildreservaat tot 2018 en help in die Koedoeskopgemeente in die Bosveld. Hy is dikwels oor die grens na Zimbabwe waar hy in die bestek van sewe jaar uitstekende werk in die NG Gemeente Bulawayo lewer, terwyl hy ook mediese voorraad en kospakkies vir die gemeente en die sendingstasie Morgenster geneem het. In 2018 verhuis hulle na Pretoria waar hulle in Huis Herfsblaar gaan woon.
In 2019 is ds. Piet Grobler gediagnoseer met leukemie en hy sterf op 5 April 2020 in die ouderdom van 83 jaar, waarna ‘n gedenkdiens ‘n paar dae later op Goeie Vrydag gehou is. Dit is veelseggend dat sy tweelingbroer Jan Grobler slegs vier maande na sy dood sterf. Op Sondag 8 November 2020 word ds. Piet se as deur Bets en die seuns na ‘n kort seremonie geplaas in die gedenkmuur by die NG Kerk Clarens. —Dr Gerdrie van der Merwe VDM (Bl. 374)
Ds Piet Grobler, was die tweelingbroer van ds Jan Grobler. Hul ouer broer was ds Hennie Grobler.