Grobler, Hendrik Frederick * 1958

 

gebore

17 Des. 1958

OORLEDE

18 Jul. 2008

UNIVERSITEIT

BA, BD (UP)

gelegitimeer

1986

ORDEN

1988

standplase

1988 Raslouw

2008 Welbekend (Hulppred)

EMERITEER

Mei 2007

Hendrik Frederick Grobler is op 17 Desember 1958 in die Jakarandastad gebore, net agter Loftus Versfeld, wat hom van kindsbeen af ‘n Blou Bul in murg en been gemaak het. Hy is vemoem na sy oupagrootjie Hendrik Grobler, met die bynaam Swepies, omdat hy op die plaas geleer het om hard met ‘n sweep te klap. Henk was die tweede van vier kinders, en die oudste seun van drie broers en een suster. Sy vader was Gideon Jakobus (Grobbies) Grobler, ‘n rekenmeester by die Vleisraad, en sy moeder, Johanna Petronella Olivier, was ‘n tuiste skepper.

Henk het sy skoolopleiding aan die Laerskool Susanna Fourie op Despatch in die Oos-Kaap, en die Hoërskool Despatch ontvang, voordat hulle na Pretoria verhuis het. Hy het op ‘n CSV-kamp in standerd sewe op Jeffreysbaai opnuut sy hart vir die Here gegee en was daarna aktief betrokke by jeugwerk in die NG Gemeente Despatch-Suid. Onder leiding van ds Abraham Erasmus was hy betrokke by sendingwerk, kampe, SKJA, KJA en die jeugringsvoorsitter.

In 1976 het Henk aan die Hoërskool Langenhoven in Pretoria gematrikuleer. Hy het op skool in Wiskunde, Skeinat en Boekhou uitgeblink, en was ‘n kranige tennisspeler en gedugte skaakspeler. Dit was vir Henk ‘n groot hartseer toe sy pa in sy matriekjaar oorlede is. Na skool was hy ‘n bewaarder in die Gevangenisdiens, en drie jaar lank ‘n lid van die Staandemag. Maar die saadjie wat sy vader voor sy dood in ‘n gesprek met Henk geplant het oor die evangeliebediening, het tot ‘n boom gegroei waaraan hy gehoor gegee het. Soos baie studente het hy met Grieks en Hebreeus gesukkel. Hieroor vertel sy vrou, Alma: “Hy het daar besef en belowe hy sal gehoorsaam wees aan sy innerlike roeping van predikant word. Sy Hebreeuse dosent het hom aangespoor met `goeie boude en ‘n harde stoel en ‘n beplande studierooster’. Aan die einde van 1983 het hy die graad BA-Admissie aan die Universiteit van Pretoria behaal. Hierna was hy ‘n student aan die Teologiese Fakulteit (Afd B) aan die Universiteit van Pretoria. Hy was intens betrokke by die nywerheidsbediening, en het sy prakties by ds Frans Pretorius gedoen. Hy het einde 1986 die BD-graad en ontvang en is in die NG Gemeente Universiteitsoord as proponent gelegitimeer. Hy het navorsing in gemeentebou gedoen en ook ‘n diploma in besigheidsbestuur behaal. Henk was lief vir sport en het in die Deo Gloria-rugbyspan gespeel. Hy was ook ‘n kranige gholfspeler. Op 28 Augustus 1982 is hy met Alma Ferreira getroud, en uit die huwelik is ‘n dogter, Hanri, en ‘n seun, Henkie, gebore.

Beroepe was skaars, en in April 1987 het hy werk as proponent in die NG Moedergemeente Waterberg met opdrag plaasbediening aanvaar.

Ds Kobie Breedt, ‘n boerseun en boorling van Smithfield in die Suid-Vrystaat, was ‘n uitstaande vriend en kollega in sy bediening in Waterberg. Dit was in die tyd van Kerk en Samelewing, en hieroor skryf sy vrou: “Henk het ‘n onversadigde aptyt vir mense met vrae en probleme gehad. Hy het perfek ingepas tussen mense met uitgesproke standpunte, want dan kon hy redeneer, die Bybel deel en opreg bid. Henk het buite die boks gedink, gedoen, gedroom, en daarom was ander se omstrede denke nooit vir hom ‘n probleem nie, maar eerder ‘n uitdaging en stimulasie.”

Na ‘n jaar het proponent Henk Grobler ‘n beroep as derde leraar na die NG Gemeente Raslouw in Centurion, met opdrag jeugbediening, ontvang. Hy is die naweek van 5 Februarie 1988 met handoplegging ontvang en bevestig, en die rede is deur ds Frans Pretorius gelewer. Dit was wonderlike jare, en ds Henk het hom ten volle in die bediening uitgeleef. In 1992 het daar egter ‘n ernstige draai op sy lewenspad, toe chroniese glomerili nefritis by hom gediagnoseer is. Hy het bly werk, al was hy op peritoniale dialise, maar sy kragte het sodanig afgeneem dat hy in Mei 2007 emeritaat aanvaar het om gesondheidsredes.

Hulle het na Moreletapark verhuis, waar hy in April 2008 hulpprediker in die NG Gemeente Welbekend geword het. Op 18 Julie 2008 is Henk oorlede. Hy is begrawe uit sy geliefde NG Gemeente Raslouw, waar ongeveer 1 000 mense die troosdiens bygewoon het.

Alma skryf: “Hy word onthou as ‘n mens vir alle mense, nie net met mooi praatjies nie; vir ‘n kort humeur as sake en dade hom teen die bors stuit. Eerlikheid en waarheid was fondamente in sy pastorale bediening. Elkeen se storie was vir hom die uitgangspunt van God se reddende genade in elkeen se lewe. Sy gemeentelede en soms buitekerklikes se noodroep het Henk aan die hart gegryp.”