gebore
24 Nov. 1906
OORLEDE
10 Mei 1992
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1930
ORDEN
1931
standplase
1931 Goodwood
1933 Jamestown
1938 Rondebosch
1941 Mosselbaai
1946 Bloemfontein-Noord
1951 Bethlehem
1954 Omaruru
1956 Moorreesburg
1960 Rusape
EMERITEER
1964
Ds Pieter De Vos Grobbelaar, MTh, (24.11.1906-10.05.1992); Ds Pieter de Vos Grobbelaar is op 24 November 1906 in Bethulie gebore. Daar het hy grootgeword en skoolgegaan en reeds vroeg al die begeerte gehad om predikant te word. Hy is na die destydse Greykollege in Bloemfontein om hom vir die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch voor te berei, waar hy in 1930 gelegitimeer is. In 1931 het hy te Goodwood die herderstaak aanvaar. Agtereenvolgens bedien hy die gemeentes .Goodwood, Jamestown, Rondebosch (waar hy tyd vind om sy MTh te verwerf); Mosselbaai, Bloemfontein-Noord, Bethlehem en Omaruru. Daarna is hy na Moorreesburg en uiteindelik Rusape in die destydse Suid-Rhodesië. Tydens sy bediening in Rhodesië is hy verkies tot Moderator van die Midde-Afrikaanse Sinode.
Sy bediening is gekenmerk deur sy pragtige manier van optrede teenoor sy mense. Daarby was hy ‘n boeiende prediker wat die kuns verstaan het om selfs tot die eenvoudigste deur te dring. Huisbesoek het al die jare vir hom prioriteit gebly wat selfs lank na sy aftrede deurgeskemer het.
Op 59-jarige leeftyd het hy kankerlyer geword en het hy ‘n groot operasie in Salisbury ondergaan. Dit het meegebring dat hy die bediening moes neerlê. Hy en sy eggenote, Johanna, kom vestig hulle in die Strand in 1966 – maar nie om te sit en verroes nie! Hy herstel sodanig dat ons hom vir byna tien jaar as medeleraar kon gebruik. Die gemeente was vir hulle baie lief. En met sy vlytige eggenote aan sy sy kon hy ook hier mooi dinge tot stand bring. Sy het veral op maatskaplike gebied baie gedoen. Ds Grobbelaar was ‘n gebalanseerde en fyn mens. Hy was baie lief vir die natuur en het gereeld gaan jag. was ook ‘n volksman wat intens meegeleef het met alles wat op die openbare toneel afgespeel het. Selfs na sy “finale” aftrede het hy nie stilgesit in Azaleahof op Stellenbosch nie. Hy was tot aan die einde besig in diens van die Here. (- ds P A M Brink)