gebore
18 Apr. 1924
OORLEDE
20 Nov. 1997
UNIVERSITEIT
BA BD (UP)
gelegitimeer
1950
ORDEN
1951
standplase
1951 Pietersburg-Noord
1961 Lyttelton-Noord
1969 Klerksdorp
1973 Kimberley-Vooruitsig
1978 Edenburg
EMERITEER
1984
Ds Johannes Anthonie Bernardus Grobbelaar (BA, BD) 18/04/1924 – 20/11/1997
Johannes Grobbelaar (Grobbie) is op 18 April 1924 in die distrik Soutpansberg gebore. Hy het sy laerskoolopleiding in plaaskole, naamlik Droëkraal (1930-1933) en Driedoornhoek (1933- 1937) ontvang. Hy het in 1941 in Pietersburg gematrikuleer. Daarna het hy vir drie jaar as klerk by Standardbank gewerk voordat hy in 1944 na die Universiteit van Pretoria vir sy teologiese opleiding gegaan het. Hy het sy BA-graad (cum laude) in 1946 en sy BD-graad in 1949 verwerf. Hy is op 27 November 1950 as proponent gelegitimeer.
Op universiteit was hy ‘n ernstige en toegewyde student. Hy wou nooit ydel wees en tyd mors nie, want `dan mors ek die Here se tyd terwyl ek my moet voorberei vir sy werk.’ Hy het hom in sy studies verdiep en was nooit laat of sonder goeie rede afwesig nie. Sy werkstukke was altyd betyds gereed en deeglik voorberei. Hy was opreg vroom (in die mooiste sin van die woord) en uiters konsensieus. Natuurlik het sy klasmaats gekorswel met sy geweldige ernstigheid, maar tog was hy baie gewild. Hy het ook hartlik deelgeneem aan die studentelewe en kon heerlik saamlag en selfs met homself spot wanneer nodig.
Sy eerste gemeente was die nuutgestigte gemeente Pietersburg-Noord, waar hy goed bekend was en waar hy op 10 Februarie 1951 bevestig is. In hierdie tyd het hy heel onkonvensioneel vir Willa Jooste, ‘n ewe toegewyde Christendame, na hulle eerste ontmoeting, gevra om met hom te trou. Hy was oortuig dat die Here hom na haar gelei het. Sy was ook, na gebed, oortuig dat die saak van die Here is, en sonder twyfel het sy `ja’ gesê. Hulle is op 8 November 1952 getroud. Dit was ‘n uiters gelukkige huwelik en ‘n voorbeeldige huisgesin van drie dogters het daaruit voortgespruit. Die dogters, Elizabeth, Aletta en Wilma, is al drie getroud met mans wat ingeskakel het by hierdie vrome huishouding en daar is reeds tien kleinkinders – almal seuns! Een van die mooi eienskappe van hierdie huisgesin is hulle fyn humorsin, veral die van Willa.
Die Grobbelaars het baie hard gewerk in Pietersburg-Noord en ‘n besondere kerkgebou is op 19 Februarie 1959 in gebruik geneem. Die volgende gemeente was ook ‘n nuutgestigte gemeente, naamlik Lyttelton-Noord (25 Augustus1961); Ook hier het Grobbie met dieselfde ywer gewerk en ‘n kerk, saal en pastorie is in 1966 ingewy.
Van hier af het die Here hom na Klerksdorp geroep (1 Junie 1969) waar hy vier jaar gewerk het voordat hy in Oktober 1973 na Kimberley-Vooruitsig gegaan het. Ook hier is ‘n nuwe kerk gebou en tydens sy bediening in gebruik geneem. Sy laaste gemeente was Edenburg (20 Mei 1978) waar hy vrugbaar gewerk het, maar op 60-jarige leeftyd gevoel het hy moet aftree om plek te maak vir iemand anders.
Na sy aftrede het hy en Willa eers op Pietersburg gaan woon waar hy op ‘n nabygeleë plasie met beeste gehoer het. In 1991 het hulle na die Kokanje-aftree-oord naby Nylstroom verhuis.
Grobbie was nie net predikant omdat hy daartoe geroep was of omdat hy daarvoor opgelei was nie. Hy was predikant in sy wese – deur en deur. Daarom het hy na sy aftrede nog gedurig in gemeentes gepreek en die gemeente Dendron gaan bedien die kerkskeuring daar. Hy het ook vir ‘n ruk in die Soekmekaar-gemeente gewerk Toe hulle in Kokanje kom, was almal bewusdaarvan dat hy ‘n predikant was en het hy gehelp met Bybelstudie en eredienste.
Sy luide preekstem en helder sangstem, sowel as sy ernstig-vroom boodskappe, het hom ‘n gewaardeerde evangeliedie¬naar gemaak.
As deel van die groepie teologiese studente wat in 1950 afstudeer het, het hy gereeld hulle reunies oor die jare byge¬woon. Sonder hom sou daardie byeenkomste onmoontlik gewees het. Na so ‘n reunie in Oktober 1997, waar Grobbie hartlik en vrolik aan alles meegedoen het en vertel het hoe goed die Here vir hulle was dat hulle nog so gesond is, het sy hart begin pla en moes hy vir ‘n hartomleiding na Pretoria gaan. Na aanvanklike terugslae herstel hy goed, maar die dag nadat hulle terug is na Kokanje, sterf hy skielik op 20 November in sy tuin waarvoor hy so lief was.
Sy intieme vriendekring sal hom onthou as ‘n voorbeeld en inspirasie vir hulle van iemand wat sy godsdiens met groot erns opgeneem en uitgeleef het. Hy was ‘n heilige wat deur die Heilige Gees gelei is. So het sy gemeentelede hom ook ervaar. Die ewigheid sal getuig van die uitwerking van sy vrome lewe op andere, veral sy huisgesin wat weet dat hulle nie net ‘n vader verloor het nie, maar ‘n ware man van God. – Dirk Viljoen.