Greyvenstein, Christoffel Lodewicus * 1918

 

gebore

15 Mei 1918

OORLEDE

27 Mrt 2001

UNIVERSITEIT

BA (US)

gelegitimeer

1943

ORDEN

1944

standplase

1944 Loerie

EMERITEER

Ds Christoffel Lodewicus Greyvensteyn (BA) 15/05/1918 – 27/03/2001

Christo Greyvensteyn is op 15 Mei 1918 op Molteno gebore waar sy ouers, Fredrick Coenraad Greyvensteyn en Alida Jacoba Susanna du Plessis, geboer het. Hy het die Laerskool (1923-1927) en Hoërskool (1932-1935) Molteno bygewoon. Hy was versot op lees en het aan verskeie sportsoorte deelgeneem.

Na skool het Christo na die Universiteit van Stellenbosch (1938-1943) gestudeer waar hy die graad BA behaal het. Hy is in 1943 as predikant gelegitimeer. Hy het aanvanklik as proponent uitgehelp in die NG Gemeente Port Elizabeth-Noord (1944); maar later in die jaar is hy beroep en bevestig in die Loerie-gemeente. Hy het sy hele bediening in die gemeente deurloop en onder meer gehelp met die kerkbouprojek en lidmate deur verskeie vloedrampe ondersteun.

Ds Greyvensteyn en sy eggenote was baie gewild op Loerie en hulle het na sy aftrede steeds kontak met die gemeente behou. Aangesien Loerie hulle na aan die hart gelê het, is albei daar begrawe. Op die breër kerklike terrein het ds Greyvensteyn in die Algemene Sinodale Sendingkommissie gedien.

Na sy eerste jaar op Loerie is hy met Maud Arnold getroud. Hulle het drie kinders gehad: Ottofred (1950); Christoff (1954) en Annelise (1956); Die twee seuns is getroud en daar was in 1997 ses kleinkinders.

Na 38 jaar in die gemeente het hy in 1983 emeritaat aanvaar en op Port Elizabeth gaan woon. Hy het nog dikwels in gemeentes afgelos. Nadat sy eggenote hom in 1986 ontval het, het in die Munro Kirkhuis vir bejaardes gaan woon.

‘n Groot tragedie het egter die gesin in 2000 getref. Sy 19-jarige kleinseun het beide sy ouers in Lynnwood, Pretoria, geskiet. Hy is later twee lewenslange vonnisse opgelê.

Die trauma van die moord en sy kleinseun se verhoor het hom diep getref en ds Greyvenstyn het geweier om daaroor te praat. Agt maande later, op 27 Maart 2001, het hy om die blok gaan stap en op sy bed gaan lê. Hulle het hom dood daar aangetref na ‘n hartaanval.

In November 2002 het ook sy ander seun op slag gesterf in ‘n motorongeluk sodat hulle ongetroude dogter, Annalise, alleen met die hartseer agtergebly het.

Ds Greyvensteyn se diens aan die Loerie-gemeente sal egter soos ‘n monument vir hom bly staan.

(Dirk Viljoen, aan die hand van sy biografiese vorm wat hy op 30/01/1997 ingevul het, en gegewens voorsien deur sy dogter Annalise.)