Greyling, Paul Frederick

 

gebore

2 Des. 1896

OORLEDE

27 Jan. 1982

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1927

ORDEN

1928

standplase

1928 Weenen

1934 Olifantsrivier

1935 Kalkbaai

1938 Sekr. N.G. Kerk-Uitgewers

EMERITEER

1963

Ds Paul Frederik Greyling (2.12.1896 – 27.1.1982); voormalige sekretaris van die SA Bybelvereniging – later die NG Kerk-Uitgewers – is op hoë leeftyd en na ‘n lang siekbed in Kaapstad oorlede. Hy was ‘n seun van Graaff-Reinet, maar hy groei op Zastron op, waar hy ook sy eerste onderwys ontvang. Die intermediêre eksamen van daardie dae lê hy aan die destydse Grey-Universiteitskollege in Bloemfontein af en toe gee hy ses jaar in die Vrystaat onderwys. Op Stellenbosch verwerf hy die grade BA, MA en BD met lof en daar voltooi hy ook die kursus aan die Teologiese Seminarium om einde 1927 tot die bediening toegelaat te word. In sy eerste gemeente, Weenen, word hy 7.4.1928 bevestig en gedurende sy dienstyd daar tree hy as skriba en ook as aktuariusvan die Natalse Sinode op. Terselfdertyd verteenwoordig hy Natal in die Raad van die Kerke en in tussenkerklike kommissies. In 1933 word hy onder die stelsel soos deur die NG Kerk met die destydse Regering ooreengekom, organiseerder van welsynwerk in die Suid-Vrystaat. Vanaf Junie 1934 is hy die eerste vaste leraar van die gemeente Olifantsrivier met sy twee “middelpunte” Vredendal en Neersetting (later Lutzville); waar die kerksaal op Vredendal onder sy leiding byna voltooi en die nodige voorbereidsels vir die bou van ‘n pastorie getref word voordat hy ‘n dienstyd van presies ‘n jaar na Kalkbaai op die Kaapse Skiereiland vertrek. Daar bly hy werksaam totdat hy 1.3.1938, as opvolger van wyle ds A G du Toit, sekretaris-bestuurder word van die SABV wat daardie jaar juis 120 jaar oud was en in die bestuur waarvan hy toe reeds gedien het. In dieselfde jaar verwerf hy aan die Universiteit van Stellenbosch die graad DPhil met lof op ‘n proefskrif oor die armesorgwerk van die NG Kerk. Hierdie verhandelinge wat in 1939 uitgegee is en wat ‘n vraagstuk geraak het wat destyds van buitengewone betekenis was, is deur die promotor, wyle prof N J Brummer, ‘n verdienstelike werk genoem. Van groot belang was dit dat hy daarin ook heelwat aandag aan die probleem van die Kerk en die Staat se onderskeie verpligtinge ten aansien van welsynwerk gegee het. Een van die grootste ondernemings in sy dienstyd by die SABV was die aankoop van ‘n moderne drukpers wat as die NG Kerkpers in Woodstock by Kaapstad opgerig en in Oktober 1949 amptelik in gebruik geneem is. Daarop is nie alleen talle boeke van godsdienstig-geestelike aard gedruk nie, maar ook ‘n tyd lank Die Kerkbode en ander amptelike kerklike publikasies, totdat die Nasionale Pers die hele saak in 1950 oorgeneem het. Ook was hy die voorsitter van die kommissie wat in opdrag van die Kaapse Sinode van 1945 en in samewerking met die sinodes die ou Halleluja ten opsigte van sy musikale, letterkundige en leerstellige inhoud hersien en ook aangevul het. Die eindproduk van hierdie gesamentlike kommissie se pogings is as die “Nuwe Halleluja” deur die Kaapse Sinode van 1949 amptelik goedgekeur en aanvaar om veral in die jeug se behoefte aan so ‘n sangbundel te voorsien. Na ‘n volle kwarteeu, eers by die SABV en toe by die NG Kerk-Uitgewers en Boekhandel, tree hy einde Maart 1963 uit die diens. Hy en sy gade, wat tot haar heengaan etlike jare gelede lank bedlêend was, bly op Clovelly naby Vishoek woon. As enigste Afrikaanssprekende skoolraadslid in Vishoek in die jare vyftig beywer hy hom vir die oprigting van ‘n Afrikaanse skool in daardie omgewing en toe hy en andere daarin slaag om so ‘n laerskool tot stand te bring, kry dit sy naam. (Jaarboek 1983/262).