Greyling, Ebenhaezer

Ds. Greyling Ebenhaezer

gebore

30 Nov. 1898

OORLEDE

22 Nov. 1981

UNIVERSITEIT

A., M.Th., Th.Dr.

gelegitimeer

1924

ORDEN

1927

standplase

 1925 Velddrif

1927 Tulbagh

1934 Sekr. Sondagskole

EMERITEER

1967

Dr Ebenhaezer Greyling (30.11.1898 – 22.11.1981); wat jare lank as Algemene Son-dagskoolsekretaris met geesdrif en seën aan die spits van die NG Kerk se uitgebreide werksaamhede op die gebied van die godsdiensonderwys aan sy jeug gestaan het, is op Andover naby Dordrecht in Noordoos-Kaapland gebore en op Ficksburg in die Oos-Vrystaat oorlede. Na sy skoolopleiding wat hy onder andere in die Paarl en aan die Hoër Seunskool op Stellenbosch ontvang het, geniet hy sy akademiese en teologiese vorming op Stellenbosch. Sy legitimasie volg einde 1924 en toe vertrek hy, vergesel van sy eggenote met wie hy kort tevore in die huwelik getree het, vir verdere studie na die VSA. Eers studeer hy aan die Teologiese Seminarie en toe aan die Universiteit van Princeton waar hy hom op die opvoedkunde en die sielkunde toelê. In beide vakke lê hy die eksamen met lof af en nadat hy die MTh-graad verwerf het, gaan hy na die Seminarie van die Suidelike Baptistekerk in Louisville, Kentucky, om hom verder in die Christelike opvoedkunde en die praktiese teologie te verdiep. In die besonder maak hy ‘n grondige studie van die Sondagskool, sowel as van Bybelonderrig in die openbare skool. In die proefskrif Adolescence – some of its problems and their significance for the Sunday School, waarop hy in Mei 1927 sy doktorsgraad in die teologie met die hoogste lof verwerf, stel hy hom ten doel om die weg na ‘n versoening tussen die wetenskaplike opvoedkunde en die Christelike leer aan te wys. Volgens sy promotors was dit die beste werk wat tot daardie tyd toe oor die puberteitstyd verskyn het. Ook sou dit voortaan as handboek aan die genoemde seminarie gebruik word. Voordat hy, drie maande nadat hy in sy vaderland terug is, op 30.9.1927 met oplegging van hande in die ou Wes-Kaaplandse gemeente Tulbagh bevestig word, werk hy ‘n rukkie in Velddrif wat die jaar daarna van Aurora afstig. Op Tulbagh reeds laat hy ‘n spesiale Sondagskoolsaal met die nodige klaskamers, meubels en hulpmiddels oprig. Na iets meer as sewe jaar van vrugbare arbeid op die gemeenteakker, aanvaar hy begin 1935 in Bloemfontein as Sondagskoolsekretaris sy eintlike lewenstaak. In die 32 jaar – 1.1.1935 tot 31.12.1966 – wat hy as mede-sekretaris en na die geliefde ds P K Albertyn (Oom PK) se aftrede einde 1938, as algemene sekretaris in die groot en belangrike werk staan, wy hy hom onverdeeld aan die bevordering van die Kerk se Sondagskoolwese . Uit die staanspoor beywer hy hom vir eenvormige optrede deur die hele Kerk heen, onder meer deur die voorsiening van vaste roosters en standaard handboeke en die reëling van jaarlikse Bybelkenniseksamens vir leerlinge en ‘n eksamen vir katkisante, sowel as van gereelde kursusse vir onderwysers. Verder bly dit deurgaans sy strewe om die Sondagskoolwerk van die NG Kerk los te maak van alle skadelike buitelandse invloede wat nie by die aard en die geskiedenis van die Kerk pas nie en om ‘n eie stelsel volgens die Calvinistiese en kerkregtelike beginsels daarvan te ontwikkel. Met die doel voor oë beywer hy hom ook daarvoor dat die Bybelonderwys aan die jonger kinders en die leerstellinge onderrig aan katkisante as ‘n eenheid beskou moet word, terwyl hy hom daarop toelê om die kategetiese onderrig in alle opsigte so doeltreffend moontlik te maak en die beste wetenskaplike onderwysmetodes, op die Bybel en die belydenisskrifte gegrond, daarvoor aan te wend. Benewens die aandag wat hy aan die Skriftuurlike en opvoedkundige grondslae van hierdie beleid wy, besef hy alte goed dat vir die uitvoering daarvan die nodige voorligting en toerusting verskaf moet word. In 1935 neem hy die redaksie van Die Kindervriend van ds Albertyn oor en hierdie werk behartig hy met groot bekwaamheid en kundigheid tot sy aftrede, waarna dit by Die Voorligter ingelyf word. Teen daardie tyd was dit tot ‘n tweemaandelikse blad van 48 bladsye en ‘n oplaag van 28 200 uitgebou. Die Kindervriend word deur die sekretaris se bekende Godsdiensonderrig in die Kerk en later deur die standaardwerk Die Sondagskool aangevul. Ook neem hy die voortou in verband met die opstel en die verskyning in 1950 van Die Katkisasieboek – ‘n werk waarvan daar later jaarliks 20 000 gedruk word. Vir die behartiging van die vak op breër terrein verskyn Godsdiensonderrig in die Skool en Godsdiensonderrig in die Huisgesin, beide ook uit sy pen. Dit ly dusgeen twyfel dat hy ‘n leidende rol in die vestiging en uitbouing van ons huidige kategetiese stelsel gespeel het nie. Origens onderskei hy hom as ‘n uitstekende, indien dan ook konserwatiewe en baie versigtige, sakeman. Op sy inisiatief word die vyfverdieping-Sondagskoolgebou in Bloemfontein opgerig en kom die Sentrale Pers (later by die Sendingpers ingelyf) tot stand, terwyl hy ook daarvoor verantwoordelik was dat die Sondagskooldepot wat uit 1932 gedateer het, tot die groot Sondagskoolboekhandel (tans die Jeugboekhandel) ontwikkel het. Die ideaal wat hy sedert die Voortrekker eeufeesjaar 1938 gekoester het om vir die kinderhelde van die Afrikanervolk ‘n waardige monument op te rig, word op 1.1O. 1959 verwesenlik toe die destydse Eerste Minister, wyle dr H F Verwoerd, aan die begin van die groot sewende Uniale Sondagskoolkongres die Kindermonument voor die Sondagskoolgebou onthul. Gedurende sy lang dienstyd deurkruis dr Greyling die hele land en woon hy meer as 40 sinodesittings in die verskillende provinsies, SWA en die vroeëre Rhodesië by. Verder wy hy op onbaatsugtige wyse ‘n vername deel van sy tyd en kragte aan die bevordering van talle Christelike , opvoedkundige , kulturele en nasionale ondernemings en liggame. So dien hy ongeveer 30 jaar in die Oranje-Meisieskool se kuratorium en skoolkommissie, terwyl hy in 1939 ‘n stigters- en later ‘n aantal jare bestuurslid van die Instituut vir Christelike Nasionale Onderwys vir die Unie is. Verder is hy ‘n stigters- en bestuurslid van die Vrystaatse Reddingsdaadbond, ongeveer twaalf jaar voorsitter van die Kindersorg in Bloemfontein en ‘n tyd lank ook bestuurslid van die Vrystaatse Kunsvereniging. Daarbenewens lewe hy as lid van verskeie regeringskommissies ‘n gewaardeerde bydrae, terwyl hy ook drie jaar as dosent in godsdiensonderwys by die Normaalkollege en sedert 1946 aan UOVS as deeltydse lektor in die Departement van Kerklike Armesorg optree. In hom het die Sondagskoolkommissie ‘n hoflike en vriendelike, dog ook ‘n besliste en beginselvaste sekretaris gehad, terwyl kantoorpersoneel hom vir sy netheid, noukeurigheid, pligsgetrouheid en regverdigheid, maar dan ook vir sy beleefdheid, bedagsaamheid en minsaamheid, hoog geag het. Nadat hy die tuig neegelê het, woon hy en mev Greyling op die plaas Mooi Uitsig naby Danville in die distrik Dordrecht en later op Vrede in die OVS. (Jaarboek 1983/261).