gebore
12 Aug. 1930
OORLEDE
26 Jun. 2010
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1954
ORDEN
1955
standplase
1955 Oosrand-Indiërsending
1957 Indiërsending Tvl
1969 Wynberg
1971 Wynberg (met opdrag: sending onder Moslems
1977 dosent Bybelkunde Univ van Wes-Kaapland
1985 prof Bybelkunde Univ van Durban-Westville
EMERITEER
1995
Prof Chris Greyling (BA, BD, DD) 12 Augustus 1930 – 26 Junie 2010
Christiaan Joël Andries Greyling is op 12 Augustus1930 op Barberton in die ou Transvaal gebore. Sy pa, Michael, en sy ma, Ciskia, was toegewyde Christene wat geboer het. In 1938 het Chris sy skoolopleiding aan die Laerskool Sheepmoor by Ermelo begin en van 1944 tot 1947 was hy ‘n leerling aan die Hoërskool Ermelo, waar hy betrokke was by die CSV. Chris het van kindsbeen af ‘n besondere hart vir sendingwerk gehad en geroepe gevoel om bedienaar van die Woord te word.
Hy het sy studie aan die Universiteit van Pretoria begin, waar hy in 1950 die graad BA (Admissie) behaal het. Dit het hom toelating gegee tot die Fakulteit Teologie (Afd. B) aan die universiteit waar hy die BD-graad behaal het. Chris is op 15 November 1954 as proponent gelegitimeer en is op 15 Mei 1955 met handoplegging in die NG Sendinggemeente Oos-Rand bevestig, met opdrag bearbeiding van Indiërs in Transvaal. Die gesin het ‘n tyd lank in Germiston gewoon. In 1959 was ds Chris betrokke by die stigting van die Indian Reformed Church in Transvaal.
Na tien jaar in die Indiër Sending in Transvaal het ds Chris Greyling ‘n beroep na die NG Sendinggemeente Wynberg aanvaar. Hier is hy op 13 Desember 1969 bevestig, met die opdrag bediening aan die Moslems in Kaapstad. Dit was ‘n moedige stap van die kerk om die terrein van sending aan die Moslems te betree en hy het diep spore daar getrap. In 1971 het hy organiserende Sending sekretaris van die Sendingkerk geword en steeds medeleraar van die gemeente Wynberg gebly. In 1976 het ds Chris Greyling sy doktorsgraad in die Teologie ontvang, ‘n stap in die rigting van die akademiese wêreld.
In 1977 is dr Chris Greyling aangestel as senior lektor in Bybelkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland, die begin van ‘n loopbaan in die akademie. Hy het ook tentmaker in die Sendinggemeente Uitsig geword. In die herfs van 1985 is hy aangestel as professor in Godsdienswetenskap aan die Universiteit van Durban-Westville. Hy was ook van 1986 tot 1995 ‘n tentmaker in die NG Gemeente Pinetown, ‘n wonderlike tyd waarin hy geleentheid gekry het om te preek en mense geestelik te versorg.
Prof Chris het aan die einde van 1994 emeritaat aanvaar en die gesin het teruggetrek na Bellville in die Kaapse Skiereiland. In die lente van 1994 het hy na die NG Gemeente Klawer vertrek, waar hy ses maande lank uitgehelp het in die plek van die plaaslike leraar wat oorsee is. Later het hy ook uitgehelp met Bybel skoling in die Kaapse Skiereiland en was hy hulp dosent in die Departement Sendingwetenskap aan die Fakulteit Teologie op Stellenbosch.
Chris Greyling is op 8 Desember 1956 met Grace (Teogratia) Claassen getroud en uit die huwelik is vier kinders gebore. Die bekendste is seker ds Christo Greyling, wat baie betrokke is by MIV-programme en tans in Nederland woon.
Prof Chris Greyling is op 26 Junie 2010 oorlede en daar is diep dankbaarheid teenoor die Here vir die groot werk wat hierdie godsman gedoen het om die evangelie van Jesus Christus met oorgawe uit te dra. – Dr Gerdrie van der Merwe.