gebore
10 Mei 1936
OORLEDE
6 Augustus 2014
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1971
ORDEN
1972
standplase
1972 Eendekuil
1975 Hoopstad
1980 Parowvallei-Wes
1997 Parowvallei
EMERITEER
2001
Albertus Johannes (Basie) Greyling is op 10 Mei 1936 op Elliot in die Oos-Kaapse platteland gebore. Hy is vernoem na sy oupa, Albertus Johannes Greyling, ‘n boer. Basie se vader is Abram Carel Greyling, ‘n boer op Elliot, en sy moeder is Rose Johanna Magson, ‘n onderwyseres.
Basie het reeds op sesjarige ouderdom geweet dat hy predikant sou word. In 1942 begin hy sy skoolloopbaan op Lady Grey, maar sy vader haal hom op 16 uit die skool en stuur hom na die Pos- en Telegraafskool om daar opgelei te word. Hierna werk hy 12 jaar lank by die poswese in Pretoria. Basie bly deurlopend gefokus op sy droom om ‘n predikant te word, en hy studeer snags totdat hy matriek slaag.
Op 3 November 1956 is hy met Anna Susanna Cornelia (Annatjie) Botha getroud, en uit die huwelik is daar drie kinders gebore: Abram Carl (Braam), wat advokaat word; Johannes Ferdinand (Johan), ‘n entrepreneur; en Johanna Elizabeth (Ilse), wat tans werksaam is by MES (‘n Christelike organisasie wat onder straatbewoners werk). Sy is getroud met ds. Johan Els van die NG Gemeente Bellville-Wes.
Basie en sy gesin trek in 1965 in die geloof na Stellenbosch, waar hy ‘n BA-graad verwerf en in 1968 ‘n student aan die Kweekskool word. Hy behaal ‘n BTh-graad en word aan die einde van 1971 as proponent gelegitimeer. Prop AJ Greyling aanvaar sy eerste beroep en word op 14 Januarie 1972 met handoplegging in die NG Gemeente Eendekuil (naby Piketberg in die Wes Kaap) bevestig.
Na drie jaar kom daar ‘n roepstem na die NG Gemeente Hoopstad die Noordoos-Vrystaat, waar hy op 22 Maart 1975 bevestig word. Dit is ook die gemeente se eeufeesjaar. As voorsitter van die ring hanteer hy die ringsitting
in hierdie feesjaar. In sy dienstyd word die gemeente se uitsonderlike groot pastorie gebou en in gebruik geneem. Basie doen ook die aanvoorwerk vir die oprigting van ‘n tehuis vir bejaardes en ‘n nuwe Sendingkerk.
Op 10 Mei 1980 word hy die leraar by die NG Gemeente Parowvallei-Wes, ‘n gemeente wat hy 21 jaar lank bedien, totdat daar op 27 Mei 2001 van hom en sy gesin afskeid geneem word. As emeritus-predikant doen hy verdere dienswerk in die NG Gemeente Parowvallei en in die NG Gemeente Parow-Noord. ‘n Deel van ds. AJ Greyling se nalatenskap is die bundel met begrafnispreke wat wyd in die kerk gebruik is.
Basie Greyling sterf op 6 Augustus 2014 en sy begrafnisdiens word deur sy skoonseun, ds. Johan Els, waargeneem. Die diens word in huis Andre van der Walt gehou, waar Basie sy laaste dae in die siekeboeg deurgebring het. Ilse Els onthou haar vader “Basie Greyling het sy kinders baie dinge geleer, waarvan die vier uitstaande goed was: Volg jou droom; wat jy begin, maak jy klaar; wees selfstandig; respekteer jou medemens.”
Johannes Barnard, leierouderling by die NG Gemeente Parow-Noord, lewer ‘n kort huldeblyk by die begrafnis en sê onder meer: “Ds. Basie word onthou vir sy vriendelike glimlag, sy ernstige preke en die feit dat hy ‘n man van gebed was. Hy word onthou vir sy besondere menslikheid. Hy was iemand wat bereid was om hom te hou aan die uitsprake van die Bybel wat gehoorsaamheid betref. Hy was byvoorbeeld daarvan oortuig dat as ons onvergewensgesind is, God nie ons gebede verhoor nie.” — Dr Gerdrie van der Merwe VDM (Jaarboek 2015).