Greeff, Frederick Johannes

 

GEBORE

31 Maart 1951

ORLEDE

27 Junie 2021

UNIVERSITEIT

BA BTh (Lis Teol) MTh (US)

gelegitimeer

1984

ORDEN

1985

standplase

1985 Wellington

1990 Burgersdorp

2016 Laingsburg (Brugleraar)

2018 Nuwerus

 EMERITEER

11 Maart 2016

DS FRIKKIE GREEFF (BA, BTh, MTh) 31 Maart 1951 — 27 Junie 2021

Frederick Johannes Greeff is op 31 Maart 1951 gebore in sy ouma se huis te Kirkwood in Oos-Kaapland. Sy vader is Frederick Johannes Thomas Greeff en sy moeder is Alice Maria Hall. Frikkie is die oudste van vier kinders. Hy begin sy skoolopleiding in 1957 aan die Laerskool Kirkwood waar hy ook in 1964 leerling word aan die Hoërskool Kirkwood. Met sy ouers se verhuising dieselfde jaar na Patensie word hy tot 1966 leerling aan die Hoërskool Patensie. In 1967 word hy leerling aan die Hoërskool Nico Malan op Humansdorp, waar hy einde 1968 matrikuleer. In die tyd blink hy uit in rugby. Hierna doen Frikkie sy militêre diensplig van twee jaar en begin in 1970 werk in Port Elizabeth as administratiewe assistent by die Departement van Gemeenskapsbou. Hier kwalifiseer hy as bou-inspekteur en hy woon en werk van 1976 tot 1978 in Oos-Londen. In die tyd blink hy uit in ‘karate en is in 1974 die Oostelike Provinsie se kampioen in die bruingordel-afdeling.

Die Here roep Frikkie om predikant te word en hy begin in 1978 studeer aan die Universiteit van Port Elizabeth, waar hy in 1980 die BA- (Admissie) graad verwerf. Hy is sekretaris van die Admissiebond en lid van die CSV-bestuur op die kampus langs die see. In die tyd is hy ook voorsitter van die Oos-Kaapse

Stranddienskomitee en hy gee besondere leiding op die gebied en skoliere en studente vind die Here. Hierna loop Frikkie se pad na die Universiteit Stel-lenbosch, waar hy aan die Fakulteit Teologie studeer en ook rugby speel vir die koshuisliga en die kweekskool. Hy verwerf die BTh-graad in 1983 en word op 15 November 1984 gelegitimeer as proponent van die NG Kerk. Frikkie trou op 28 September 1985 met mej. Marlene Brand, ‘n onderwyseres aan die Laerskool Mikro in Kuilsrivier.

Prop FJ Greeff word aan die einde van 1984 as proponent gelegitimeer en begin dadelik as pastorale hulpleraar op Laingsburg werk. Tydens hierdie tydperk kon hy mense ondersteun en begelei om sin te probeer maak van die groot vloedramp wat die Karoodorp in 1981 getref het. Hy ontvang ‘n beroep na die NG Moedergemeente Wellington, waar hy op 10 Mei 1985 as predikant ontvang en bevestig word. Hier werk hy saam met kollegas dr Albert Basson en ds Koos Smith en sy verantwoordelikheid is gemeentebou op Wellington.

Op 5 Mei 1990 aanvaar hy ‘n beroep na die NG Gemeente Burgersdorp, as medeleraar van ds Willem Murray. Destyds was dit ‘n groot gemeente, want daar was ‘n groot spoorwegaansluiting en die hoofkantoor van Albert Koöperasie was op Burgersdorp. Met die verskuiwing van die koöperasie na Ladybrand en die tot niet gaan van die SAS & H word die gemeente so klein dat hy in 1999 die enigste leraar is. Sy vrou Marlene skryf: “Burgersdorp het ‘n groot boerderygemeenskap gehad. Hy is gereeld genooi om te jag en kon daarom tyd in die natuur deurbring. Hy was lief om by mense te kuier, na hulle stories te luister, daarom het hy veeveilings en boeredae bygewoon, waar hy die boere en lidmate op hulle eie terrein kon leer ken. Tydens hulle verblyf op Burgersdorp, was hulle betrokke by al die aktiwiteite van die kerk, dorp en die skole — hy was vir jare ‘n tydhouer by die jaarlikse atletiekbyeenkomste. Hy het gereeld kursusse aangebied, soos die EE111, Volwasse menswees, Kingfisher, Myers-Briggs, en ander kursusse. In 1996 verwerf hy die graad MTh in Bedieningspraktyk, met dr Jurgens Hendricks van Stellenbosch as studieleier.” Onder ds Frikkie se leiding het die gemeente Burgersdorp sterk gefokus op die gemeenskap en die uitdra van die Blye Evangelie.

Na ‘n geseënde dienstyd van 26 jaar aanvaar ds Frikkie Greeff op 11 Maart 2016 sy emeritaat op Burgersdorp. Hy en Marlene vestig hulle op Wellington, die gemeente waar hy in 1985 sy bediening begin het. Terwyl hulle ‘n huis op Wellington bou, help hy in die lente ‘n paar maande lank as brugleraar op Laingsburg, die gemeente waar hy na sy legitimasie gewerk het.

In die winter van 2017 word pankreaskanker by ds Frikkie gediagnoseer en hy word hiervoor behandel en dit is die begin van ‘n unieke pad met die Here. In sy siekte raak hy steeds mense aan met sy positiewe ingesteldheid. Wanneer mense hom gevra het hoe dit gaan, was sy antwoord altyd: “Die Here is goed vir my, ek is in sy hande, ek het baie om voor dankbaar te wees.” Hy en sy vrou het van 2018-2019 as brugleraarspaar in die NG Gemeente Nuwerus gewerk, waar hy die mense van Namakwaland goed leer ken en waardeer het. Sy gesondheid was van so ‘n aard dat hy deur Wellington Moedergemeente genader is om leiding te neem in die bediening aan die senior burgers in die plaaslike ACVV-tehuis vir bejaardes, Silwerkruin, en ander aftree-oorde op Wellington. Met hierdie taak het hy voortgegaan tot sy dood.

Ds Frikkie Greeff was so dankbaar dat hy vier jaar lank met oorgawe kon leef, ten spyte van die pankreaskanker. Hy het sy gesin geniet en waardeer en word onthou as ‘n brugbouer en ‘n vredemaker van -formaat. Sy lewensleuse was altyd: “Leef die waarheid!” Hy sterf op 27 Junie 2021 in die vrede van die Here. Ely word oorleef deur sy vrou Marlene en vier kinders. Rehan woon in Londen, Anmari woon in Somerset-Wes, Cobus en Stefan woon albei in die Paarl.

‘n Gedenkdiens word op 15 Julie 2021 in die Moederkerk waargeneem deur ds Lettie Büchner, die kerkgebou en gemeente waar hy sy bediening begin het. Ds Frikkie Greeff was ‘n weldeurdagte persoon, ‘n getroue bedienaar van die Woord wat in elke gemeente wat hy bedien het sterk gefokus het op die geestelike vorming van lidmate. — Dr Gerdrie van der Merwe VDM (Bl. 367)