
gebore
15 Febr. 1872
OORLEDE
10 Sept. 1932
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1898
ORDEN
1903
standplase
1904 Belfast
1913 Dosent Send.-Inst.
EMERITEER
–
Ds. Henri Theodore Gonin, B.A., was ‘n seun van Ds. H. Gonin, een van die eerste buitelandse sendelinge van ons Kerk in Transvaal. Hy is 15 Februarie 1872 op die sendingstasie Saulspoort in die Rustenburgse distrik gebore. Sy eerste skoolonderwys het hy op ‘n Duitse skool nie ver van die ouerlike huis ontvang. Op Wellington het hy gematrikuleer (1889) en op Stellenbosch gegradueer (1893); Na voltooiing van die teologiese kursusaan ons Kweekskool is hy op 15 Desember 1898 gelegitimeer, waarop hy ook nog ‘n tydlank sy teologiese studie aan die Duitse Universiteit van Halle voortgesit het. Teruggekeer in sy vaderland was hy eers hulpprediker op Beaufort-Wes (1900 – 1901); daarna gedurende die Tweede Vryheidsoorlog (1901-1902) arbeider in die Konsentrasiekamp op Bethulie, en vervolgens waarnemende leraar op Carnarvon waar hy 8 Februarie 1903 georden is. Sy eerste vaste en enige gemeente was Belfast (1905-1913); Op 9 Oktober 1913 is hy as dosent aan die Sending-Instituut op Wellington bevestig. En in hierdie gewigvolle betrekking was hy tot aan sy dood op 10 September 1932 werksaam, hoewel hy deur ‘n sware en toenemende krankheid geruime tyd verhinder was om sy dienswerk te verrig. Hy was stil en ingetoë van geaardheid, baie beskeie en mensliewend van karakter, en sy taak het hy steeds met bekwaamheid, toegewydheid en deeglikheid betrag van die begin tot aan die end van ‘n nuttige en geseënde loopbaan.