gebore
20 Mrt. 1933
OORLEDE
02 Feb. 2001
UNIVERSITEIT
BA Regte, BTh
gelegitimeer
–
ORDEN
–
standplase
–
EMERITEER
–
Burger Gilmour is op 20 Maart 1933 op Carnarvon gebore. Sy ouers was Thomas Purdon Gilmour, ‘n posmeester, en Sophia Olivier (nee Burger); ‘n matrone. Burger het sy laerskool jare op De Aar (1938 – 1939); Wellington (1939 – 1943) en Stellenbosch (1943 – 1945) deurgebring. Hy het sy hoërskoolopleiding van die Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch (1945 – 1950) ontvang. Hy was ‘n sportiewe seun en jongman en het uitgeblink in swem (WP-vryslag kampioen); waterpolo (WP) en rugby en krieket (Paul Roos se eerste span); Hy het ook die private studenteorganisasie se rugbyspan begin en hulle afgerig. Dr Danie Craven het later hierdie organisasie oorgeneem.
In 1951 het hy sy studies aan die Universiteit van Stellenbosch begin en aanvanklik in die regte gestudeer. Hy het die
BA-graad (regte) in 1963 behaal. Daarna het hy eers as staatsaanklaer in ‘n prokureurskantoor in die Kaap gewerk, en as swembad bestuurder en swemafrigter waargeneem. In 1969 het hy na die Kweekskool op Stellenbosch gegaan en sy BTh-graad in 1974 voltooi. Ds Gilmour is in Desember 1974 gelegitimeer.
Terwyl hy nog in die regte studeer het, het hy in die huwelik getree met Louisa Christina Strauss (1963); Hulle het drie kinders: Elsie (1964); Adele (1966) en Sophia-Mare (1968); Met sy afsterwe, het ds Gilmour vier kleinkinders gehad.
Hulle was ‘n hegte gesin en hy het baie aandag aan die kinders gegee, onder andere met swem afrigting.
Ds Gilmour se eerste gemeente was Fauresmith waar hy in Januarie 1975 georden en bevestig is. Navier jaar het hy na die Wilgehof-gemeente verskuif waar hy in 1979 bevestig is. Nege jaar later is hy na Stellenbosch-Noord beroep waar hy in 1988 bevestig is. Soos te verwagte, het ds Gilmour in die Regskommissie van die Vrystaatse Sinode gedien.
Hy was lief vir mense en hulle was lief vir hom. Hy was ywerig in sy preek voorbereiding en het baie gelees.
Toe gebeur die hartseer saak wat deesdae al meer voorkom, dat gemeentes se finansies sodanig verswak dat hulle nie meer ‘n leraars pos kan bekostig nie. Ds Gilmour het dusin 1996 aangebied om af te tree en het op Stellenbosch bly woon waar hy deeltyds in die gemeente gedien het. Hy kry verminderde verantwoordelikhede, maar moes veral aan die senior burgers – wat ‘n besondere sagte plekkie vir hom gehad het – aandag gee.
In 1997 skryf hy nog dat sy gesondheid “goed” is. Hy was egter ‘n diabeet en was by tye siek. In Januarie 2001 is ‘n lewer gewas by ds Gilmour gediagnoseer en hy moes ‘n galblaasoperasie ondergaan. Die operasie was nie suksesvol nie en hy het later in ‘n koma gegaan. Ds Gilmour is op 2 Februarie 2001 oorlede. – Dirk Viljoen, aan die hand van sy biografiese vorm wat hy op 3 ApriL. 1997 ingevul het en ‘n gesprek met sy eggenote.