Gericke, Jacobus Stephanus

Ds. Gericke Jacobus

gebore

3 Nov. 1911

OORLEDE

16 Aug. 1981

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1937

ORDEN

1938

standplase

1938 Uitenhage

6 Mei 1944 – 8 Sep. 1946 Swellendam

1946 Stellenbosch

1959 Stellenbosch-Sentraal

EMERITEER

1977

Dr Jakobus Stephanus Gericke (3.11.1911 – 16.8.1981); gedurende vrywel drie dekades ‘n kerkleier van buitengewone formaat, is op die geskiedkundige Bo-Langkloofse plaas Gansekraal in die distrik George gebore. Hy begin sy skoolloopbaan op Kirkwood in Oos-Kaapland en matrikuleer 1930 op Ficksburg in die Oos-Vrystaat. Begin 1931 gaan hy na die Universiteit van Stellenbosch waar hy 1933 die BA-graad met sielkunde en filosofie as hoofvakke verwerf. Die volgende vier jaar ontvang hy sy teologiese toerusting aan die Kweekskool en einde 1937 word hy tot die bediening toegelaat. Reeds as student gee hy duidelike blyke van sy bekwaamheid om leiding te gee. Onder meer is hy in die tyd voorsitter van sowel die invloedryke universiteitstak van die Christenstudentevereniging as van die Afrikaanse Nasionale Studentebond. Sedert sy ordening en bevestiging op 21.1.1938 arbei hy met groot toewyding en kennelike vrug in die belangrike gemeentes Uitenhage, Swellendam (1944); Stellenbosch (1946) en Stellenbosch-Sentraal (1959); totdat hy in die 40ste jaar van sy bediening op 5.6.1977 emeritusword. Hy en sy gade bly op Stellenbosch woon en in die tyd dien hy as ouderling in sy ou gemeente waar sy skoonseun, ds Pierre Jordaan, hom as leraar opvolg. As begenadigde prediker het hy hom weens sy suiwer Skrifuitleg, sy verstaanbare dog ook diepsinnige aanbieding van die Woord, sy rustige maar terselfdertyd altyd gevoelvolle styl en sy welluidende stem onderskei. Daarby was hy ‘n uitnemende geleentheidspreker op wie daar gereken kon word om by volksfeeste en ander groot geleenthede ‘n woord te spreek waarvan die lig, omdat dit by die Woord van God aangesteek is, tot bemoediging en besieling van sy hoorders en sy lesers sou skyn. Deurgaans het sy innige liefde vir sy volk ook deurgestraal en op die kansel sowel as op die openbare verhoog het hy Afrikaans met treffende eenvoud en suiwerheid, maar dan ook met groot krag, gebruik. Gedurende al die jare en te midde van sy veelvuldige bedrywighede, het hy altyd met die herderlike versorging van sy gemeentes groot erns gemaak. Deurdat hy hom as gelowige mens steeds so innig in die lidmate se lief en leed kon inleef en onder alle omstandighede met hulle kon meeleef, was hy ‘n voortreflike pastor. Op Stellenbosch was sy geestelike arbeid meer as 30 jaar hoofsaaklik op studente en ander jeugdiges gerig. Sy begrip, simpatieke benadering, liefde, genaakbaarheid, wellewendheid, jeugdige gees en gesonde humorsin wat steeds met erns gepaard gegaan het, het van hom ‘n geslaagde studenteleraar gemaak. Hy het die genade ontvang om die Heilige Skrif so te laat spreek dat dit die onsekere gemoed en die weifelende tred van menige jongman en jongdogter na vaste bane en ‘n nuwe lewensbeskouing uitgelei het. In die breër kerkverband onderskei hy hom as ‘n sterk leier. Die Kaapse Sinode van 1965 – die eerste een in die nuwe Kerksentrum in Kaapstad – kies hom as opvolger van dr A J van der Merwe tot voorsitter en in die volgende sinodale vergadering (1969) beklee hy weer die hoogs verantwoordelike betrekking. Sprankelend maar ook beslis, het hy die besondere gawe gehad om ‘n vergadering gemoedelik en ernstig te hou. Eweneens word hy intussen – weer as dr Van der Merwe se opvolger – in die tweede Algemene Sinode (Bloemfontein 1966) as moderator aangewys, terwyl hy in die volgende vergadering van die liggaam (Pretoria 1970) as assessor optree. As voorsitter van die groot en vername kerkvergaderings, en ook in die tydperke wanneer hy in die moderatuurs- en breë moderatuursvergaderings die stoel moes inneem, het hy steeds daarin geslaag om met kalme waardigheid, groot takt en wyse koersvastheid leiding te gee en om moeilike sake met insig te benader en hulle met ‘n gesonde oordeel en ‘n ewewigtige uitkyk te hanteer. Lojaal en ferm het hy die Kerk se standpunt gestel wanneer die geleentheid dit vereis het, sonder om onnodig stryd uit te lok of dit te verskerp. Verder dien hy in verskillende kerklike en tussenkerklike kommissies. Onder andere was hy sowat tien jaar voorsitter van die Kuratorium van die Kweekskool en 1964-1979 landwye voorsitter van die ACSV. Maar ook op ekumeniese gebied laat hy hom nie onbetuig nie. So verteenwoordig hy, saam met ander kerkleiers, sy Kerk by die Gereformeerde Ekumeniese Sinodes in Lunteren (Nederland) (1968); Sydney (Australië) (1972) en Kaapstad (1976); In die vergaderings het hy altyd sy verbasende vermoë gebruik om ‘n situasie vinnig op te som, raak te beoordeel en korrek te hanteer. Sedert 1948 was hy ‘n lid van Stellenbosch se Universiteitsraad en van 1953 tot sy heengaan vise-kanselier van die universiteit. Deur die jare heen was hy die vertroue raadgewer van die verskillende kanseliers en rektore en terselfdertyd ‘n goeie vriend van die studentegemeenskap. Ook het hy ‘n groot bydrae tot die totstandkoming van die Fakulteit van Geneeskunde aan USgelewer. Op grond van sy rol as studenteleier, sy bydrae tot die breër volkslewe en sy verbintenis met sy alma mater, vereer die Universiteit van Stellenbosch hom in Oktober 1966 in die inrigting se eeufeesjaar met die graad DTh. In 1965 en 1966 het hy hom uitstekend van sy taak gekwyt toe hy in die Suidwes-Afrika saak by die Wêreldhof in Den Haag ten behoewe van die RSA moes getuig. Verder het hy as lid en ook as voorsitter van verskeie belangrike regeringskommissies – onder meer as voorsitter van die een wat die instelling van ‘n televisiediens vir Suid-Afrika ondersoek en aanbeveel het – gedien. Tot sy dood was hy voorsitter van die Afrikaanse Taalmonumentkommissie, lid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en direkteur van twee groot maatskappye. In 1978 is die Dekorasie vir Voortreflike Diens, die hoogste burgerlike toekenning in ons land, deur die Staatspresident aan hom toegeken. Hy is na ‘n kort siekbed in die Tygerberg-Hospitaal by Kaapstad oorlede. Met sy aftrede is daar van hom gesê dat hy in die eerste plek verkondiger van die evangelie van Christuswas en daarna die ander dinge gedoen het, terwyl hy na sy heengaan een van die NG Kerk se begaafste seuns, ‘n uitverkore werktuig van God en ‘n ware gawe van die Here aan ons Kerk genoem is. Op sy grafsteen in die Stellenbosse begraafplaas teen die hange van Pappegaaisberg lees ons dat hy “deur Sy genade geregverdig” is (TitUS3:7). (Jaarboek 1983/261).