Genis, Jacobus Van Niekerk

 

gebore

16 Mrt. 1933

OORLEDE

31 Des. 1999

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1957

ORDEN

1957

standplase

Njassaland

1965 Na Moederkerk: Bellville-Vallei

EMERITEER

Ds Jacobus Van Niekerk Genis 16/03/1933 – 31/12/1999

Namakwaland was die geboorteland van Jacobus Van Niekerk Genis. Hy is op 16 Maart 1933 op Blaauwstasie naby Springbok gebore. Tot en met sy dood het hy ‘n besondere sagte plek vir die streek en sy mense gehad.

Sy ouers was James Samuel Stone Genis en Margaretha van Niekerk – dit blyk dat hy vernoem is na sy oupa aan moederskant. Hy kom uit ‘n familie wat baie opgeoffer het vir die kerk en die onderwys. In sy ouerhuis is die Here geken, gedien en geëer. Van kindsbeen af het hy geroepe gevoel om vir die Here te werk. Hy het aan die Sendinginstituut op Wellington studeer en is aan die einde van 1957 tot die bediening toegelaat.

Sy sendingarbeid het in 1957 in Njassaland begin en in 1958 is hy na Malingunde waar hy hom onderskei het as iemand met ‘n hart vir mense in nood. In Malawi het hy die moeilike Chichewetaal aangeleer en verskeie geestelike boeke in die taal geskryf wat vandag nog vir diê volk baie beteken. I n 1961 is hy as voltydse sendeling na Bulawayo in die destydse Rhodesië. Vyf jaar later het hy ‘n beroep aangeneem na die NG Gemeente Bellville-Vallei. Hy het ‘n groot rol gespeel in die afstigting van die gemeente Bellville-Riebeeck in 1968 waarheen hy toe ook beroep is. Met die feesviering van die Gemeente Bellville-Vallei in 1987 het ds Genis geskryf: “Toe ons in die winter van 1966 hier aangekom het, het ons gou tuis en gelukkig gevoel in ‘n gemeente met ‘n geestelike warmte en ‘n gemeenskap met ‘n hartlike gesindheid. Wat ons bediening in Bellville-Vallei vir ons uniek gemaak het, was dat die persoon wat die kansel vir ons skoon en reg gehou het en wat my toga Sondae oor die rug van die konsistoriestoel gehang het, niemand anders was nie as my pa wat toe die koster van die gemeente was!”.

Hy het die gemeente Bellville-Riebeeck nege en twintig jaar lank bedien tot en met die aanvaarding van sy emeritaat op 13

ApriL. 1997. Hy het in die Kaapse Skiereiland diep spore getrap en sal altyd as ‘n geliefde herder en leraar onthou word, iemand wat deur toewyding en pligsgetrouheid in die harte van lidmate ingekruip het.

Na sy aftrede het ds en mev Genis hulle op Oudtshoorn gevestig om naby die kinders te wees. Dit het die hartsbegeerte van hierdie gemeenteseun gebly om vir oulaas in die kerkgebou op Springbok te preek. Voordat dit egter kon realiseer, is hy op Oujaarsdag, 31 Desember 1999, oorlede. Hy het hy op sy geliefde plek op ‘n heuwel gaan stilhou vanwaar hy ‘n kennisgewing met die woorde: “Jesusis Koning” kon dophou. Hy het in die motor aan ‘n hartaanval gesterf. Die laaste inskrywing vroeër die dag in sy dagboek lees: “Tot hiertoe het die Here my gehelp. Ek sluit die eeu af met die wete dat ek nie aan myself behoort nie, maar aan JesusChristus”.

Hy laat sy vrou, Malie, vyf kinders en tien kleinkinders agter. – Gerdrie van der Merwe.