gebore
18 Okt. 1914
OORLEDE
1 Nov. 1985
UNIVERSITEIT
BA; LL.B; LL.D (US)
gelegitimeer
1939
ORDEN
1941
standplase
1941 Eloffsdal (Hpr.)
1942 Pietersburg
1945 Malvern
1949 Olifantsfontein
1954 Pretoria-Oos
1960 Universiteitsoord
EMERITEER
–
Dr Francis Edward O’brien (Frans) Geldenhuys (18.10. 1914 – 01.11.1985); voormalige direkteur van ekumeniese sake en hoof-uitvoerende amptenaar van die Algemene Sinode, het vir etlike dekades ‘n leidende rol in die kerklike lewe gespeel en veral in die Transvaalse Kerk waar nagenoeg sy hele gemeentelike bediening gelê het, baie diep spore getrap. Ofskoon hy gebore is op die familieplaas Braamfontein, Johannesburg – waar die ou `Geldenhuys Deep’-goudmyn nog aan die bekende Randse baanbrekersfamilie van weleer herinner – word hy in die Wes-Transvaal groot. Hy matrikuleer aan die Hoër Volkskool op Heidelberg (T) en in 1932 gaan hy Stellenbosch toe, waar hy mettertyd in die bekende ou Wilgenhof-manskoshuis sowel as in wyer studentekringe ‘n groot rol speel. Twee jaar is hy sekretaris van Wilgenhof se huiskomitee, twee jaar dien hy in die studenteraad en ‘n jaar as redakteur van die Stellenbosse Student, terwyl hy ook ywerig aan die bedrywighede van die Berg- en Toerklub deelneem. Ook op akademiese gebied onderskei hy hom en nadat hy einde 1934 die BA-Admissie met lof verwerf het, slaag hy die jaar daarna in Romeins- Hollandse Reg I, II en III, sowel as in Romeinse Reg. Gedurende die jare 1936-1939 bekwaam hy hom aan die Kweekskool in die teologie en terselfdertyd aan die universiteit verder in die regte, sodat hy einde 1939 nie alleen gelegitimeer word nie, maar ook die LLB-graad behaal wat hom en die Kerk later tot groot voordeel strek. In 1940 maak hy as hulpprediker van dr F J Minnaar van Port Elizabeth-Noord met die praktiese bediening kennis in ‘n gemeente wat ondanks die vinnig stygende ledetal in sy aanvangsjare ‘n swaar bestaanstryd moes voer. Daarvandaan gaan hy na Transvaal waar hy op 8.2.1941 in Eloffsdal, Pretoria, georden en as hulpprediker bevestig word. Hierop volg sy vrugbare verdere bediening in die uitgestrekte gemeente Pietersburg (1942); die tipiese Randse gemeente Malvern (1945); daarna Olifantsfontein (1949) en toe Pretoria-Oos (1954); In sy laaste gemeente, Universiteitsoord met sy groot studentegemeenskap (1966); neem hy as eerste gemeenteleraar saam met ‘n paar studenteleraars die leiding met die oprigting van die groot kerkgebou en daar bly hy ook ingeskakel toe hy ekumeniese skakelbeampte van die Kerk word. As herder is hy in sy gemeentes geliefd en as prediker bring hy die Woord getrou en stylvol. Heel gou sien die Kerk en ander instansies sy besondere talente raak, met die gevolg dat daar 1 meer verantwoordelikhede aan hom opgedra word. Mettertyd dien hy dan ook in talle kerklike en ander kommissies en toe Karfo tot stand kom, is hy die Christelike rolprentorganisasie se eerste voorsitter. Tydens sy bediening in Pietersburg keer hy in 1944 na Stellenbosch terug om vir ‘n jaar aan sy LLD-graad te werk en einde 1945 promoveer hy op ‘n proefskrif oor Die Regsposisie van Kerkraad, Ring en Sinode onder die Gereformeerde Stelsel van Kerkregering soos toegepas in die Gefedereerde Ned Geref Kerke in Suid-Afrika (uitgegee 1951); Met hierdie graad is hy uitgeknip vir die amp van aktuariusen daarvoor kies die buitengewone sinodesitting van die Transvaalse Ned Herv of Geref Kerk in November 1948 hom reeds as jong predikant. Dieselfde gebeur in die vier daaropvolgende sinodes wat elke drie jaar tot die totstandkoming van die Algemene Sinode in 1962 gehou word. Met die verdeling van Transvaal in ‘n Suid- en ‘n Noordstreek word hy moderator van die eerste Noord-Transvaalse Streek-sinode (1957); Die volgende vier sinodes van die streek in 1959, 1963, 1968 en 1972 wys hom weer as hul voorsitter aan, totdat die Algemene Sinode van 1974 hom as direkteur van ekumeniese sake kies. Hiermee geniet hy die vir Transvaal tot dusver ongeëwenaarde onderskeiding dat hy in vyf agtereenvolgende sinodes die voorsitterstoel beklee het. In die verband is daar na sy heengaan van hom gesê dat hy onder andere deur die fyn aanvoeling waarmee hy in sinodes en ander kerklike vergaderings leiding gegee het, uitgeblink het en dat hy as moderator een van die heel bestes was wat ooit in die Kerk in aksie gesien is. Beide die derde (1970) en die vierde Algemene Sinode (1974) kies hom ook as aktuarius en in die hoedanigheid tree hy nie alleen as voorsitter van die Algemene Regskommissie op nie, maar neem hy ook op Stellenbosch en in Pretoria die jaarlikse legitimasie van kandidate waar. Vanaf die begin van sy bediening beywer hy hom vir die onderverdeling van die groot provinsiale sinodes en die vereniging van die verskillende selfstandige NG Kerke in die land tot een Ned Geref Kerk. Self het hy vertel hoe sy skoonvader, ds J F Naudé (oorlede 1948) van Graaff-Reinet, en hy reeds ‘n skema vir sodanige kerkvereniging begin optrek het en hy was dan ook een van die hoofopstellers van die kerkorde wat by die totstandkoming van die Algemene Sinode aanvaar is. Die Algemene Sinode van 1974 benoem hom as die Kerk se eerste ekumeniese skakelbeampte en begin 1975 neem hy sy nuwe pligte op. In die hoedanigheid lê hy hom geesdriftig en met sy hele hart daarop toe om in die bestaande moeilike omstandighede beter kerklike en menslike verhoudinge in en buite ons land te help skep. In 1978 word hy die Algemene Sinode se eerste hoof-uitvoerende amptenaar en daarmee saam ook direkteur van ekumeniese sake en inligting. Waar hy ons Kerk by verskeie ekumeniese en ander byeenkomste in Suid-Afrika sowel as in die buiteland verteenwoordig, bly dit sy strewe om die mooiste beeld van die Kerk uit te dra. Deur al die jare maar veral sedert die Cottesloe-kerkeberaad van 1960, is sy een groot drang en sy toenemende hartstog die antwoord op die vraag na hoe ook ons Kerk in die Suid-Afrika van ons tyd – stormagtig soos dit ongetwyfeld is – waarlik Kerk van Christuskan wees. In baie vergaderings lok sy optrede, aanbevelings en verslae die bespreking en beredenering uit wat tot belangrike besluite lei. Meermale laat sy ruim vergesigte en die sterk standpunte wat hy t.o.v. kwessies soos volkereverhoudinge, die Kerk se taak van versoening en die noodsaaklikheid van hegter ekumeniese bande met binne-sowel as buitelandse kerke inneem, hom in die vaarwater beland, maar dit bring hom nie van stryk nie. Hy het die moed gehad om teen die stroom in te gaan wanneer hy dit nodig gehad het, maar was nogtans geen groot vegter nie. Sy leierskap was eerder in sy innerlike eienskappe en in sy helderheid van gees en insig as in robuuste dryfkrag geleë. Tog was daardie jare vir iemand soos hy wat begrip gesoek het en nie konfrontasie nie, nie sonder hartseer nie. Gelukkig bly hy tot die einde toe ewewigtig en verval hy nie in radikalisme nie. In baie opsigte was hy ‘n brose mens en veral liggaamlik nie baie sterk nie, maar ten spyte van die probleme wat hy van tyd tot tyd met sy gesondheid ondervind, bly hy ‘n onvermoeide werker met ‘n bewonderenswaardige ondernemingsgees en deursettingsvermoë. Einde 1980 lê hy sy betrekking as hoof-uitvoerende amptenaar neer en van 1982 tot 1985 tree hy by Unisa as dosent op in die Afdeling Ekumeniese Studies van die Fakulteit Teologie se Departement Sistematiese Teologie en Teologiese Etiek Van 1954 af verteenwoordig hy vir nagenoeg 23 jaar die Transvaalse NG Kerk in die Raad van die Universiteit van Pretoria en van 1958 af is hy ook voorsitter van die Proponentseksamenkommissie vir die Fakulteit Teologie (NG Kerk) aan die universiteit. In die vroeë 70-gerjare word hy ‘n volle lid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Buiten sy proefskrif en sy veelbesproke boek in die Stroomversnellings (1982); verskyn Die Verlore Geheim (1958); Die Vrug van die Gees (1967); Wat sê die Wet (1968) en Waardig is die Lam (1973) uit sy pen, terwyl hy ook met die opstel van die Kerk se beleidstuk Ras, Volk en Nasie gehelp het en ‘n medewerker aan Stormkompas (1981) was. Hy sterf in Pretoria na ‘n siekbed aan kanker. Profeet was hy, ja, maar dan nie ‘n doemprofeet nie, dog een van hoop en vertroue.