Gebhardt, Johan Wilhelm Ludwig * 1960

 

gebore

8 Mrt. 1960

OORLEDE

7 Feb. 2012

UNIVERSITEIT

BA, BTh, MBA (US)

gelegitimeer

1984

ORDEN

1987

standplase

1987 Turffontein

1990 Toringkerk (SAP Kapelaan)

1995 Polisiekollege

EMERITEER

Johan Wilhelm Ludwig Gebhardt is op 8 Maart 1960 in Sasolburg in die Vrystaat gebore en het sy pa se name gekry. Die eerste Gebhardt het as predikant na Suid-Afrika gekom en ds Jean Guillaume Louis Gebhardt het van 1810 tot 1823 die NG Strooidakkerk in die Paarl bedien. Ludwig se pa was ds Johan Wilhelm Ludwig Gebhardt en sy ma Catharina Maria (René) de Kock, ‘n knap Engels-onderwyseres. Uit hulle huwelik is vier kinders gebore: Ludwig, Ren, Stefan en Isabel. Ludwig se pa het die volgende NG Gemeentes bedien: Sasolburg-Wes (1960); Bethlehem-Wes (1964); Bethlehem-Eureka (1966) en die Moedergemeente Wellington. Hier was hy sedert 1973 studenteleraar tot met sy dood op 20 Mei 1984 aan ‘n hartaanval.

Ludwig het sy skoolloopbaan aan die Laerskool Hoogland in Bethlehem begin en was ‘n ywerige lid van die Voortrekkers. Met die gesin se verhuising na die Boland het hy leerling aan die Hugenote Hoërskool in Wellington geword, waar hy in 1977 gematrikuleer het. Hy was hoofseun, is ‘n lid van die skool se swem- en karateklub en is uitgenooi na Die Burger se jeugleierskonferensie. Hy het soos sy pa geroepe gevoel vir die Evangeliebediening en het in 1980 die graad BA (Admissie) aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Daar was hy ‘n inwoner van Eendrag. Ludwig was betrokke by die Joolblad en ander publikasies op die Akker en het van 1980-1981 onderwater-hokkie vir Maties gespeel.

Hierna was hy ‘n student aan die Fakulteit Teologie waar hy in 1983 die graad BTh en in 1984 die MTh-graad verwerf het. Hy het dit onder leiding van dr DJ Louw geskryf en sy onderwerp was: “Die pastorale begeleiding van ‘n kinderlose egpaar met die oog op aanneming.” In sy finalejaar is sy pa op Wellington oorlede. Hieroor skryf Cari: “Ludwig sou die volgende dag sy prakties by sy pa in die Moedergemeente op Wellington begin, en het dit toe afgelê onder leiding van ‘n kollega van sy pa, ds Albert Basson. Twee weke na sy pa se dood het Ludwig sy proefpreek gelewer vanaf dieselfde kansel in die NG Moedergemeente Wellington.”

Aan die einde van 1984 is hy as proponent gelegitimeer. In 1985 en 1986 het hy sy nasionale diensplig gedoen as kapelaan in die Vloothoofkwartier.

Prop JWL Gebhardt het ‘n beroep na die NG Gemeente Turffontein in Johannesburg ontvang en is op 11 Januarie 1987 met handoplegging ontvang en bevestig. Hier het hy hom uitgeleef as pastorale berader, het hy gepreek en met die gemeente se administratiewe bestuur gehelp. Sy intreepreek het oor Efesiërs 6:18-19 gehandel en sy afskeidspreek op 25 Maart 1990 uit 1 Korintiërs 2:4. Hy het ‘n beroep na die NG Gemeente Toringkerk in die Paarl as polisiekapelaan aanvaar en was in die Paarl ‘n ywerige EE3-opleier. Hy het die distrikte Paarl, Vredendal en Springbok bedien, ‘n wye gebied waar hy diep spore getrap en hard gewerk het. In 1995-1996 het hy lektor in Etiek aan die Polisie-Kollege in die Paarl geword. Maar soos alle ander kapelane in die SAP, het hy ook n 1994 ervaar dat deure toegaan en het hy die SAP verlaat en ‘n tentmakerleraar in die NG Toringkerk in die Paarl geword.

In 1997 het hy ‘n kantoor vir Xcel Information Technologies in die Wes-Kaap gevestig en het hy nou saamgewerk met maatskappye soos Sanlam, Metropolitan, Ou Mutual en Engen. In die lente van 2010 het hy ‘n direkteur van die maatskappy Faranani DocTec geword. Intussen het hy ‘n MBA-graad aan die Bestuurskool van die Universiteit Stellenbosch verwerf. Hierna het hy van 2005 tot 2007 as gasdosent in Kenia en Dar-es-Salaam in Tanzanië opgetree.

Prof Louis Fourie skryf: “Benewens sy teologiekennis en praktiese predikant kennis, was Ludwig ‘n kenner van die inhoudbestuur van ondememings, kennisbestuur, menslike hulpbronne, beelding en dokumentbestuur. Sy lys van suksesvolle projekte sluit groot name soos die Departement van Kommunikasie, Departement van Gesondheid, Departement van Handel en Nywerheid, Nedbank, PetroSA en Anglo American in. Sy werkywer was alombekend.”

Ludwig is op 25 Junie 1983 met Catharina Johanna (Cari) van der Merwe van Wolseley getroud. Uit die huwelik is drie seuns gebore: Johan, Bertie en Heineman.

Cari skryf: “Ludwig was ‘n positiewe, humoristiese persoon wat vir elke geleentheid ‘n grappie gehad het. Hy kon so ‘n moeilike situasie vinnig ontlont! Ludwig kon skilder met woorde, daarom het hy wonderlike preke gemaak. Hy was ‘n `go-getter’ wat altyd kans gesien het vir alles. Niks was te veel moeite nie! Alles wat hy aangepak het, het hy met ywer en groot deursettingsvermoë gedoen. Sy humorsin is iets wat ek en die kinders altyd sal onthou. Vir ons was hy ‘n voorbeeld, ‘n geestelike leier en ‘n ware steunpilaar!

“En tog het die depressie sy tol geëis toe hy op 7 Februarie 2012 sy lewe beëindig het. Ons laaste Bybelstudie saam was uit Klaagliedere 3:31-33 en hy wou ‘n mooi preek hieroor maak, want hy het gereeld as dominee nog gepreek. Hy was baie nederig en wou graag vir almal vertel van God se ewige liefde en dat die hiernamaals so wonderlik is.” -Dr Gerdrie van der Merwe VDM