gebore
–
OORLEDE
28 Sep. 1984
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
–
ORDEN
–
standplase
–
EMERITEER
–
Ds Duncan Philemon Gareta se dood in ‘n vragmotorongeluk op die jeugdige ouderdom van 40 jaar was veral vir die bearbeiding van die Moslems in Malawi ‘n erg gevoelige verlies. Hy was een van die knap jong leraars in die geseënde en vrugbare eertydse sendingveld van die Kaapse Kerk. Nadat hy in die gemeentes Mdika (1972) en Nkhotakota (1975) gestaan het, word hy weens sy besondere belangstelling in die Islam in 1980 na Nairobi gestuur, waar hy vir twee jaar aan die Instituut vir die Studie van Islam ‘n spesiale studie van die godsdiens maak. Daarna gaan hy vir nog twee jaar na die VSA waar hy ook ‘n meestersgraad behaal. Begin 1984 keer hy na Malawi terug om sy sendingwerk onder die Moslems in Nkhotakota op die meervlakte voort te sit. Kort na sy aankoms aanvaar hy World Vision International se aanbod om die belangrike betrekking van hul koordineerder van programme in Malagri te beklee, op voorwaarde dat hy nog by die werk onder die Moslems betrokke mag bly. In September 1984 waarsku hy die aanwesige leraars tydens ‘n opfrissingskursusop Chongoni baie ernstig ivm. die Moslemaanslag op Malagri. Die laaste oggend lei hy die vroeë biduur en daar praat hy dringend-ernstig oor Joh 9 v 4: “Ek moet die werk doen van Hom Wat my gestuur het solank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie”. Min wetende dat hierdie woorde in ‘n heel besondere sin op homself van toepassing was, dring hy by sy hoorders daarop aan om in die woorde van Paulus die tyd uit te koop. Daardie namiddag op pad huis toe kry hy en nog ‘n leraar ‘n geleentheid op ‘n oorvol vragmotor. Die remme raak op ‘n afdraand onklaar en die voertuig slaan om. Drie mense is op slag dood en ds Gareta beswyk in die hospitaal.