gebore
4 September 1934
OORLEDE
10 Julie 2013
UNIVERSITEIT
BA, MA, DTh
gelegitimeer
1961
ORDEN
1962
standplase
1962 NGKA Grahamstad
1963 NGK Albanie
1967 Burgerspark
1974 Snr lektor Dogmatiek Univ. van Zoeloeland
1976 dosent 1986 profenvise-rektor
1995 rektor Hugenote-Kollege, Wellington
EMERITEER
2000
Jacob Petrus du Toit Furstenberg is op 4 September 1934 in Bloemfontein gebore. Hy word groot op ‘n plaas naby Soutpan, ongeveer 50 kilometer van Bloemfontein. Dit is dan ook daar waar sy eerste skoolopleiding plaasvind, en waar hy saam met sy naamgenoot en latere vakgenoot, Jaap Durand, op die skoolbanke sit. In standerd sewe word hy ‘n leerling aan die Hoërskool Dealesville, waar hy uiteindelik matrikuleer.
Hy voel geroepe om predikant te word en gaan studeer aan die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat. Na ‘n BA (Admissie)-graad, verwerf Jaap ‘n MA, in Wysbegeerte. Hiervoor skryf hy ‘n indrukwekkende verhandeling oor dr. A Kuyper se wetenskapsleer en kosmologie.
Toe is hy Stellenbosch toe, na die Teologiese Seminarium. Na die voltooiing van sy studies daar, vertrek hy na Nederland vir sy doktorale studies. Sy proefskrif heet: “Gesag en genade: Sentrale temas in GC Berkouwer se kritiese dialoog met die Rooms-Katolieke teologie.”
Met sy terugkeer na Suid-Afrika, word hy op 21 Januarie 1962 in die gemeente Soutpan bevestig, met ‘n opdrag in die sendinggemeente Grahamstad. Hier werk hy totdat hy ‘n beroep na die NG Moederkerk op Albanie (Riebeeck-Oos) aanvaar, waar hy op Hervormingsondag in 1963 bevestig word. En hier ontmoet hy ook sy vrou, Dorothy Jansen van Rensburg, ‘n boorling van Grahamstad, wat op daardie stadium onderwyser is op Riebeeck-Oos. Vier jaar later verruil hulle die Oos-Kaap vir die Jakarandastad, en Jaap word 11 Maart 1967 in die NG Gemeente Burgerspark in Pretoria bevestig.
Op 20 Mei 1974 begin sy akademiese loopbaan — as dosent in Dogmatiek by die Universiteit van Zoeloeland. Na twee jaar in Empangeni, verhuis die gesin op 1 Julie 1976 na Wellington, waar Jaap dosent word aan die Hugenote Kollege.
Hier word prof Jaap Furstenberg in 1986 die vise-rektor, en in 1995 volg hy prof Flip van Dyk op as rektor van die Kollege. In 2000 tree hy uit.
Na Jaap se dood, skryf ds. Lambert Jacobs soos volg: “Na sy emeritaat het sy teologiese kennis en skerp taalvaardigheid nie onbenut gebly nie. Behalwe vir sy betrokkenheid by die proefskrifte en verhandelings van talle nagraadse studente, lewer hy onbaatsugtige diens as kursusopsteller, eksaminator en nasiener by die Hugenote Bybelinstituut, ‘n divisie van Bybel-Media. Hy speel ook ‘n reuse rol in die ontwikkeling van talle Studiebybels by die Christelike uitgewer, Lux Verbi. BM.”
Benewens sy liefde vir die teologie, was Jaap ‘n sportentoesias, en ‘n vurige Cheetahs-ondersteuner. By sy aftrede ontvang hy ‘n TV-satellietskottel van sy kollege.
Prof Jaap Furstenberg sterf op Woensdag 10 Julie 2013, nadat sy gesondheid erg verswak het. Hy was 78 jaar oud. ‘n Dankdiens is op 13 Julie 2013 in die NG Moedergemeente op Wellington gehou; dit is deur prof Jaap Durand, sy jeugvriend, waargeneem. Dr Christo Thesnaar, ‘n vorige kollega aan Hugenote Kollege, het ‘n huldeblyk gelewer.
Jaap was ‘n gewaardeerde kollega, iemand met integriteit en waardigheid. In die kringe waar hy beweeg het, het hy Hugenote Kollege met groot onderskeiding verteenwoordig. Hy laat sy vrou, Dot, en drie kinders — Lizette, Ludwig en Dorylee — en drie kleinkinders agter. — Dr Gerdrie van der Merwe VDM (Jaarboek 2015).