Fullard, William

 

gebore

19 Jan. 1906

OORLEDE

26 Des. 1988

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1949

ORDEN

1950

standplase

1950 Kimberley

EMERITEER

Ds William Fullard (19.1.1906-26.12.1988) is op Vrede in die Vrystaat gebore. Hy het sy onderwysopleiding in 1930 voltooi en daarna op verskeie plekke in die Vrystaat onderwys gegee. Later aanvaar hy ‘n lektorspos aan die Natalse Tegniese Kollege en is ook ‘n deeltydse radio-omroeper by die SAUK in Durban. In 1935 tree hy in die huwelik. Uit die huwelik word vier kinders gebore. In 1945 begin hy met sy Teologiese opleiding op Stellenbosch. Hy was onder andere ‘n stigterslid van die Kweekskoolkoor. Na sy legitimasie word hy na die Kimberley-gemeente beroep waar hy vir 26 jaar die Woord van die Here bedien het. As gevolg van sy onderwysopleiding het hy veral baie vir die onderwys in Kimberley gedoen. Hy was onder andere betrokke by die stigting van die Hoërskool Adamantia. Ds Fullard was aktief betrokke in die samelewing en het in verskeie skoolrade, die beheerraad van die Kimberley Kestell-Kinderhuis, Die Diamantveld-Utiliteitsmaatskappy vir Behuising en die stadsraad gedien. Ds Fullard het ook ‘n geseënde evangeliebediening gehad. Hy was ‘n kampvegter vir die sending, maar het veral sy aandag aan die diens van barmhartigheid gegee. Deur die ywer van ds Fullard is daar ‘n park en parkeerterrein langs die kerk opgerig. Daar is ook aandag gegee aan die geboue-kompleks van die kerk en die pastorie. Hy sal onthou word vir sy opregte en nederige wandel met die Here. Gedurende 1976 en 1987 het ds Fullard in die gemeentes van Bloemfontein en Alice afloswerk gedoen en in 1982 het hy hom vir ‘n kort rukkie op Jeffreysbaai gevestig, maar weens sy vrou se swak gesondheid, het hulle teruggekeer na Kimberley. Mev Fullard is kort daarna oorlede. Vir ses jaar lank het ds Fullard toe nie-amptelik as medeleraar en amptelik as ouderling en lidmaat in die gemeente gedien. Hy is in Potchefstroom oorlede en op Kimberley begrawe. Hy word oorleef deur sy vier kinders en elf kleinkinders.