GEBORE
2 Des. 1914
OORLEDE
06 Mrt. 1998
UNIVERSITEIT
–
GELEGITIMEER
1950
ORDEN
1951
STANDPLASE
1951 Ladybrand
1955 De Villiers
1959 Oudtshoorn-Noord
1961 Somerset-Oos
1966 Grahamstad (Bantoekerk)
EMERITEER
–
Ds Matthys Christiaan Franken (BA, BA Hons, MA, MTh, Drs.) 2/12/1914 – 06/03/1998
Thys Franken is op 12 Desember 1914 op ‘n plaas naby Stanford gebore. Hy het eers verskillende betrekkings beklee, maar word dan ‘n algemene werksman op die sendingstasie Chibi in Masjonaland. Daar ontvang hy die roeping tot sendingwerk en keer terug, eers na die Jongenskool op Wellington en daarna na die Hugenote-Universiteitskollege van destyds, waar hy sy BA-graad behaal. Hy is in 1950 aan die Sendinginstituut gelegitimeer. Hy het egter steeds bly studeer en was ‘n toegewyde student en akademikus. So behaal hy sy BA-Hons. aan die Vrystaatse Universiteit, sy MA-graad in die Wysbegeerte aan die RAU en sy MTh aan die Universiteit van Stellenbosch. sy aftrede het hy ook vir ‘n doktorsgraad ingeskryf.
In 1951 is hy met mej Susie (SJ) Smuts, onderwyseres by die Skool vir Dowes in Worcester, getroud. Sy het hom getrou bygestaan en het byvoorbeeld in Masjonoland, op versoek van ds Henry Murray, ‘n skool vir dowes begin terwyl hulle nog verloof was. Uit die huwelik is twee seuns gebore. Die een is tans ‘n mediese dokter en die ander een ‘n predikant. Daar was reeds 7 kleinkinders ten tye van sy dood.
Sy eerste gemeente was die NG Sendingkerk-gemeente van Ladybrand waar hy in 1951 bevestig is. In 1955 is hulle na die NG Sendingkerk-gemeente De Villiers op Herholdt. Hulle volgende gemeente, waarheen hulle in 1959 gegaan het, was Oudtshoorn-Noord en in 1961 het hulle in die Somerset-Oos-gemeente begin werk. Op 8 Mei 1966 is hy in die Ciskei-Sending van die NGKA (Rini-gemeente) bevestig. In 1971 het hy na die NG Sendingkerk as leraar in Bredasdorp teruggekeer. Uiteindelik is hy in 1975 as leraar van die NG Kerk-gemeente Leeu-Gamka beroep, waar hy tot sy emeritaat in 1980 gewerk het. Die egpaar het hulle daarna in Worcester gaan vestig.
Op 1 Maart 1998, toe hy net ‘n endjie gaan ry het om uit te kom en omdat dit so warm was, was hy in ‘n botsing betrokke en het ‘n week lank in die hospitaal gelê waarna hy beswyk het.
Thys Franken was ‘n opregte en mensliewende mens wat geen vyande gehad het nie en oor ‘n onuitblusbare humorsin beskik het. Hy was streng Calvinisties in sy lewensbeskouing en in sy optrede, en daarom ook sterk anti-charismaties. Daarby het hy ‘n sterk dryfkrag in sy lewe gehad en het hy ‘n groot kerk op Ladybrand help bou en ‘n hoerskool help bou. Op Herholdt het hy vier skole laat oprig, want hy het geglo dat die evangelie ook moet sorg vir die opvoeding van die kinders van die kerk. Omdat hy ‘n sterk teoloog was, wat graag vanuit die Skrif gepraat en geredeneer het, was sy preke ook diepgaande en het hy waarlik die evangelie na mense gebring. Daarby was hy ‘n gesinsman wat lief was vir jag, en die lekkerste was vir sy kinders as hy soms in die aande om die kaggelvuur vir hulle van die sagte biltonge gebraai het.
Ons bring hulde aan ‘n man wat ‘n groot en getroue bediening in die kerk van Christusmet eer voltooi het. – Dirk Viljoen aan die hand van gesprekke met sy eggenote.