GEBORE
26 Sep. 1902
OORLEDE
29 Des. 1980
UNIVERSITEIT
–
GELEGITIMEER
1948
ORDEN
1950
STANDPLASE
1950 Glaudina
1961 Barend van Rensburg-Kinderhuis, asook Kommandonek (Bantoe) asook Kommandonek
1966 Excelsior
1969 Na Moederkerk: Sasolburg-Fakkel
EMERITEER
1972
Ds Stephanus Andreas Fourie (26.9.1902 – 29.12.1980) het as nederige, toegewyde en getroue dienskneg van die Here die Evangelie nie net verkondig nie, maar dit met sy lewe en voorbeeld ook werklik uitgeleef. Hy is in die distrik Edenburg gebore en na ‘n lang siekbed in die hospitaal op Winburg oorlede. Van jongs af voel hy die roeping om predikant te word, maar weens allerlei omstandighede bekwaam hy hom eers vir die onderwys. Terwyl hy intussen sy studies voortsit, gee hy by verskeie plaasskole onderwys, later ‘n geruime tyd op Reddersburg en toe hy by die Modelskool in Bloemfontein onderwys, voordat hy 1945 na die Kweekskool op Stellenbosch gaan. Einde 1949 word hy gelegitimeer en 28.1.1950 as leraar van Glaudina in Wes-Transvaal bevestig. In 1961 gaan hy na die sending (NGKA) as direkteur van die Barend van Rensburg-Kinderhuis in die distrik Ficksburg en leraar van Kommandonek. Vyf jaar later word hy sendeling van Excelsior, voordat hy 1969 na die moederkerk terugkeer om leraar van Sasolburg-Fakkel te word. Na sy aftrede op 30.4.1972 vestig hy en sy eggenote hulle op Brandfort, waar hy sy pligte as ouderling in alle opsigte getrou nakom en ‘n ware steunpilaar is. Sy prediking was altyd suiwer Skriftuurlik en deeglik voorberei. Siekes en mense in nood het hy met besondere deernis gereeld besoek en hulle uit die Woord van God vertroos, terwyl hy altyd sy liefde vir die sending behou en op sy stil manier baie vir Brandfort se sendinggemeente gedoen het. Verder het sy fyn humorsin opgeval. Ds J J Theron (Roodepoort) is sy skoonseun. (Jaarboek 1982/257).