GEBORE
05 Jun. 1920
OORLEDE
27 Okt. 2002
UNIVERSITEIT
THOD, MA, DLITT et PHIL
GELEGITIMEER
–
ORDEN
–
STANDPLASE
–
EMERITEER
–
Dr Johannes Jacobus Fourie (THOD, MA, DLITT et PHIL) 05/06/1920 – 27/10/2002
Johan Fourie was ‘n interessante mens wat ‘n wye belangstellingsveld gehad het. Sedert sy jong dae was hy fiksheidsbewus en het hy onder meer aan liggaamsbou deelgeneem. Hy het ook deur diep waters gegaan met die skokkende heengaan van sy eerste vrou, maar die Here het hom weer met ‘n lewensmaat geseën met wie hy 35 jaar gelukkig getroud was.
Johan is op 5 Junie 1920 op Lindley gebore. Sy vader was Matthys Daniël Fourie, ‘n boer van die omgewing, en sy moeder was Anna Susanna Potgieter, ‘n tuisteskepper. Hy het die Laerskool Lindley (1928-1930); die plaasskooltjie Klipdrif (1931-1933) en weer die Laerskool Lindley (1933-1935) bygewoon. Daarna was hy ‘ n leerling aan die Hoërskool Heilbron (1935-1940); Hy het baie in perde belang gestel en sy pa help perde teel.
Johan het hom eers as onderwyser gekwalifiseer aan die Onderwyskollege op Heidelberg (1940-1941); Hier het hy aan gimnastiek en atletiek deelgeneem en die bynaam “Klein Sedan” gekry omdat hy klein van postuur was. Die Here het hom egter as predikant geroep en in 1942 het hy hom as student aan die Universiteit van Stellenbosch ingeskryf. In Desember 1949 is hy gelegitimeer. In 1961 het verder ge- studeer en die MA-graad in Sielkunde aan Unisa voltooi. In hierdie tyd het hy op Heidelberg gewoon en ‘n studie oor die kinders in die Luckhoff-hulpskool gedoen . As polisiekapelaan het hy sy studies voort- gesit en in 1968 die graad D Litt et Phil behaal met die proefskrif: “‘n Skaal ooremosioneel volwassenheid te bepaal met die oog op die keuring van offisiere vir die Suid-Afrikaanse Poli sie”.
Terwyl hy nog op Heidelberg gestudeer het, het hy vir Soekie Bezuidenhout, ‘n medestudent en dogter van ‘n parlementslid, ontmoet. Hulle is in 1946 getroud en het twee kinders gehad, Matthys Daniël (1947) en Editheo Meiring (1949); Hulle het reeds agt kleinkinders. Aangesien Soe- kie ‘n vrolike mens was, was haar selfmoord in 1960 na siekte ‘n groot skok.
Die Here was egter getrou en het in 1967 weer vir dr Fourie met ‘n huweliksmaat geseën, die keer die weduwee Rauna du Plessis (gebore Von Stapelberg); Hulle was 35 jaar gelukkig getroud en sy het hom tot die end getrou versorg.
Dr Fourie se eerste gemeente was Modderrivier-Ritchie waar hy in 1950 georden en bevestig is. Weens Soekie se siekte het hy egter in 1956 uit kerklike diens getree . Hulle het ‘n ruk in die Strand gewoon en daarna teruggekeer Heidelberg toe. Vanaf 1958 was hy die Randse sekretaris van die Christelike Polisie- en Gevangenisdiensvereniging. In 1962 is dr Fourie as die eerste polisiekapelaan bevestig. Sy stand plaas was Johannesburg. In 1968 is hy Heidelberg verskuif waar hy tot sy aftrede op 5 Junie 1980 met onderskeiding gedien en waardevolle werk vir die koninkryk gedoen het. Tydens sy diens as kapelaan het hy verskeie fiksheidmedaljes by die polisie ontvang. Hy het na sy aftrede steeds op Heidelberg gewoon en aktief deelgeneem aan die gemeentelewe.
Sy gesondheid het egter agteruit gegaan en hy het beroerte gekry. Hy en Rauna het nog twaalfjaar in die Suikerbos-aftreeoord gewoon. In 1996 is kolonkanker by dr Fourie gediagnoseer. Rauna het hom getrou bygestaan en tot op met sy dood in hulle huis versorg. Hy is op 27 Oktober 2002 in die ouderdom van 82 jaar oorlede.
(Dirk Viljoen, aan die hand van sy biografiese vorm wat hy op 19/07/2000 ingevul het, en ‘n gesprek met sy eggenote, Rauna.)