Fourie, Fanie

 

GEBORE

30 Apr. 1943

OORLEDE

28 Feb. 2000

UNIVERSITEIT

BA, Hons BA, BTh, Lis, Teol

GELEGITIMEER

ORDEN

STANDPLASE

EMERITEER

Fanie Fourie is op 30 April. 1943 te Jansenville in die Oos-Kaap gebore. Sy vader, Andries StephanusFourie, was ‘n boer en sy moeder was Anna Sophia du Toit, dogter van ds CGR du Toit. Toe hy slegs sewe jaar oud was, het sy moeder gesterf en is sy vader weer getroud. Die kinders was almal baie lief vir Tannie Bettie, soos hulle haar genoem het. Hierdie twee ouers – wat vir Fanie een van die kosbaarste kleinode van sy lewe was – het met die ter perse gaan van die publikasie albei nog geleef. Hulle het hulle kinders aan die hand van die Here grootgemaak en deur die jare vir hulle net die mooiste voorbeeld gestel.

Fanie het eers na die laerskool op Jansenville (1949-1951) gegaan en daama na die Bloukrans-plaasskool (1951-1952); Hy het sy skoolloopbaan voltooi by die Laer-Volkskool (1952-1955) en HoërVolkskool op Graaff-Reinet (1956-1960); In 1961 is hy Stellenbosch toe waar hy ‘n BA-graad in 1963, BA Hons in 1965, en BTh in 1966 verwerfhet. Nadat hy in 1967 sy Lisensiaat in Teologie verkry het, is hy gelegetimeer. Beskeie soos hy was, beskryf hy sy skoolloopbaan en sy universiteitsdae as “niks besonders” nie en “doodgewoon”. Maar hierdie jongman sou nog ‘n besondere merk maak in die kerk en in die koninkryk van God.

Sy eerste gemeente was Hofmeyr waar hy in 1968 georden is. Die volgende jaar op 13 Desember het hy ook hier in die huwelik getree met Anna Magdalena Nieuwoudt. Vier seuns is vir hulle gebore: Andries, Carel, FanUSen Charlé. Twee van hulle is getroud.

In Januarie 1973 het hy ‘n beroep aangeneem na Cradock-Oos waar hy ses jaar gearbei het en behulpsaam was met die bou van ‘n saal. In Maart 1979 het hy diens aanvaar as gevangeniskapelaan in die Buffelsrivier-gemeente in Oos-Londen. Vanaf Maart 1984 was hy leraar van die Cambridge-gemeente in Oos-Londen.

Fanie was ‘n kosbare gawe van die Here aan die kerk en in besonder vir Oos-Kaapland. Behalwe vir sy geseënde bediening in vier gemeentes, het hy diens van onskatbare waarde op die breëre kerkterrein gelewer. Hy was hulpskriba van die Sinode van Oos-Kaap 1975-1983; skriba vanaf 1987 tot 1995 en assessor vanaf 1995 tot 1999. Tydens die sinode van 1999 is hy as moderator verkies en was as sodanig in diens tot en met sy dood.

Net so netjies as wat hy op sy persoon was, so netjies en afgerond was hy ook in sy werk vir die Here op elke kerklike terrein. Hy was ‘n skriba Sinodi soos ‘n mens min sal kry. Gedurende die jare van hervorming en rasionalisasie binne die sinode van Oos-Kaapland het hy as skriba ‘n byna bomenslike taak verrig. Nooit het hy egter anders as met sy kenmerklike vriendelikheid en opgewektheid, sy werk verrig nie. Vir sy mede-moderatuurslede was hy ‘n geliefde broer in die Here en vir die jonger leraars met wie hy te doen gekry het, was hy ‘n rolmodel. Vir die NG Kerk in Oos-Londen was hy ‘n gawe van die Here wat nog lank gemis sal word. Ook op die breëre kerklike terrein het hy die liefde en agting geniet van almal wat met hom te doen gehad het.

Op ekumeniese terrein het Fanie ‘n leidende rol gespeel. Die samewerking van die verskillende kerke in die samelewing was vir hom ‘n saak van groot belang. Veral in Oos-Londen het hy sterk ekumeniese bande help bou. Na diê Sinode van Oos-Kaap, waar hy as moderator verkies is, het hy gesê: “Ons moet verby kleinlike verskille tussen denominasies kyk en op groot skaal begin saamwerk. Elke kerk is maar ‘n stukkie van die Here se kerk Ons sal moet leer om hande te vat as ons ‘n verskil wil maak in die onderwys, sending en die opbou van agtergeblewe gemeenskappe.”

As persoon was Fanie ‘n model van hoe ‘n dienskneg van die Here moet lyk. Die liefde, vriendelikheid en deernis van Christushet uit sy hele lewe en persoon gestraal. Hy was te alle tye ‘n ware Christen-heer. Die liefde en toegeneentheid van lidmate en kerklike personeel getuig van hierdie gesindheid wat daar altyd van hom uitgegaan het. Hy was bekend vir sy netheid, noukeurigheid en afgerondheid in alles wat hy aangepak het. Hy kon ‘n verstommende hoeveelheid werk afhandel sonder om ooit die indruk te laat dat dit vir hom te veel moeite is of hom paniekerig maak. Maar ten spyte van ‘n besondere vol program, was sy gesin altyd vir hom ‘n prioriteit.

Sy heengaan was vir almal ‘n onverwagte skok. Hy het skielik bloeding op die brein gekry en is opgeneem in ‘n privaat-hospitaal in Oos-Londen, waar hy in ‘n koma gelê het totdat hy op 28 Februarie 2000 gesterfhet. Die dagbestuur van die Sinodale Kommissie het twee keer bymekaar gekom om vir hom te bid. Die dankdiens is in sy tuisgemeente Cambridge Oos-Londen gehou en sy teraarde bestelling was op sy geboortedorp Jansenville.

Vir sy eggenote, kinders, kleinkinders en ouers, vriende, gemeentelede en kollegas is sy heengaan ‘n groot verlies, maar ons dank God vir sy lewe en ons eer sy nagedagtenis. – Pierre Jordaan, aangevul deur Dirk Viljoen aan die hand van sy biografiese vorm en verskeie huldigings berigte.