Fourie, Dirk Cornelis Grobler

Ds. Fourie Dirk

GEBORE

28 Maart 1928

OORLEDE

7 September 2014

UNIVERSITEIT

BA. LLB, MA, LLD

GELEGITIMEER

1951

ORDEN

1952

STANDPLASE

Worcestervallei

1957 Bultfontein-Oos

1960 Oberholzer

1964 Rosettenville

1968 Randburg

1975 Bryanston

EMERITEER

1992

Dirk Cornelis Grobler Fourie is op 28 Maart 1927 in die Krugerhuis in Kerkstraat, Pretoria gebore. Krugerhuis was destyds ‘n bekende kraamhuis van die Moedersbond. Dirk se ouers was Jonathan Fourie, ‘n staatsamptenaar in Pretoria, en Elsie Fourie. Dirk het altyd vertel dat sy pa met hoenders en koeie op ‘n plot in Wonderboom-Suid geboer het. Dirk is op 5 Junie 1927 in die NG Gemeente Eloffsdal in Pretoria gedoop.

Dit is depressietyd, en vroeg in 1933 verhuis hulle na die plaas Avondsrus in die distrik Petrusburg. Hy begin sy skoolopleiding aan die plaasskool Houthaalberg, waarheen hy daagliks met ‘n donkiekar ry. In 1935 kom woon Dirk se ouma, Cecilia Grobler, by hulle en sy druk ‘n blywende positiewe stempel op Dirk af. Sy sterf drie jaar later aan beroerte, en in 1940 sterf sy pa, Jonathan Fourie. Hulle woon op Petrusburg, waar sy moeder onderwysers as loseerders inneem om die pot aan die kook te hou.

Dirk voel geroepe om predikant te word en word in 1944 ‘n student aan die destydse Universiteitskollege van die Vrystaat waar hy ‘n BA-graad verwerf. Hy is die redakteur van die studenteblad, Irawa, en voorsitter van die studenteraad. Daar ontmoet hy sy vrou, Susanna Johanna (San) Johnson, wat onderwyser word en hulle trou op 26 Januarie 1952 in die NG Moederkerk op Kroonstad. Uit die huwelik is daar vyf kinders gebore — Ina, Elsa, Jonie, Suna en Willem. Daar is 17 kleinkinders en nege agterkleinkinders.

In 1946 word Dirk ‘n student aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch, waar hy terselfdertyd ook aan ‘n MA-verhandeling werk. Hy is voorsitter van die Strewersvereniging, dien op die Polumnia-bestuur en sing in die Kweekskoolkoor. Aan die einde van 1951 word hy gelegitimeer.

Baie gou ontvang hy ‘n beroep na die NG Gemeente Worcester-Vallei, waar hy op 15 Maart 1952 met handoplegging bevestig word. Op 24 Maart 1957 word hy leraar by die NG Gemeente Bultfontein-Oos. Hier kon hy sy studieskuld afbetaal. Die gesin het die voorreg om ‘n nuwe pastorie te betrek en Dirk kon twee Jerseykoeie aanhou. Op 22 Mei 1960 word hy leraar by die NG Gemeente Oberholzer op Carletonville. Dit is ‘n myngemeenskap waar hy hard werk en waar hy ook akademiese sukses behaal met die verwerwing van ‘n LLB-graad. Hierna loop sy pad na die NG Gemeente Rosettenville in Johannesburg, waar hy op 19 Januarie 1964 bevestig word.

Na sy skoonvader se afsterwe begin hy deeltyds boer. In 1967 slaag hy sy doktorale eksamen in die regte; die graad word deur die PU vir CHO aan hom toegeken.

Die Here stuur sy kerklike pad op 27 Januarie 1968 na die NG Gemeente Randburg in Johannesburg, waar sy sinodale werk in die Sinode van SuidTransvaal ‘n aanvang neem. Na sewe jaar besluit die kerkraad op afstigting en Dirk word op 28 Februarie 1975 leraar by die NG Gemeente Bryanston in Johannesburg. Hier sou hy tot met sy aftrede werk. In 1978 aktuarius van die Algemene Sinode wat hy tot 1989 verrig. In 1979 word hy die moderator van die Suid-Transvaalse Sinode. Die gemeente brei geweldig uit en daar word ‘n nuwe pastorie gebou waar die Fouries hulle intrek neem. Op 1 April 1992 aanvaar hy sy emeritaat.

Na sy aftrede vestig die Fouries hulle op hulle plaas Normandië in die Koppies-distrik. Hy skryf in sy memoires: “Ons verhuis na 40 jaar se kerkdiens plaas toe, woon rustig en waardeer die boerdery in al sy fasette. Ek het in my dienstyd 26 beroepe gekry, ses gemeentes bedien, en twee plase van die Here ontvang. Ek het die geloofsversekering dat al my sondes vergewe is, dat die Here in alle opsigte sal sorg en dat op grond van Jesus se volkome offer aan die kruishout die hemelpoort vir ons sal oopgaan.”

Dirk Fourie sterf op 7 September 2014, nadat hy tydens die erediens in die NG Gemeente Kroonstad-Wes met die laaste gesang skielik gaan sit het. Hy het ‘n aneurisme, word in die hospitaal op Kroonstad opgeneem waar hy oorlede is. Op sy versoek word daar geen begrafnis gehou nie, en ‘n privaat verassing vind plaas. Sy as is op 1 November 2014 in die teenwoordigheid van sy naaste familie op die plaas by Koppies gestrooi. Daar is geen begrafnis brief nie. ‘n Eenvoudige Skriflesing en ‘n laaste gebed het sy finale rusplek gekenmerk. Hy het altyd gesê dat hy met die opstandingsdag eers wil kyk wie boer op sy plaas en hoe word daar geboer. En dat sy vrou langs hom moet lê, sodat hy haar kan vra waarheen hulle nou moet gaan.

Jonie skryf: “Pa was baie trots daarop dat terwyl hy aktuarius van die NG Kerk was, die kerk nooit in enige hofsaak betrokke was nie. Hy kon oor enige onderwerp met gesag praat, en na sy aftrede het hy hom met sy boerdery besig gehou, en ook met kerklike navorsing. Ons aardse pa was ‘n besonderse mens wat altyd tyd vir sy medemens gehad het. Hy het baie goeie verhoudings met al sy kinders, kleinkinders en agterkleinkinders gehad. Hy was ‘n man met vele talente en ‘n baie wye belangstelling in die ekonomie, boerdery, in die regte, in die politiek — en uiteraard in die kerk. Hy het sy Christenskap ten volle uitgeleef en sodoende almal wat hom geken het se lewe verryk.” — Dr Gerdrie van der Merwe VDM (Jaarboek 2015).