GEBORE
02 Mei. 1947
OORLEDE
03 Jul. 2000
UNIVERSITEIT
BA, MTh (US)
GELEGITIMEER
1981
ORDEN
1982
STANDPLASE
1982 Waterford
1985 Brakpan-Oos
1999 Sterkstroom
EMERITEER
–
Pieter Fourie is op 2 Mei 1947 te Maitland gebore en het in die Kaapse voorstede en die Swartland grootgeword. Hy het aan die Hoërskool Sentraal op Beaufort-Wes gematrikuleer, waar hy ook sy eggenote Ester Esterhuisen ontmoet het. Drie kinders is uit hulle baie gelukkige huwelik gebore.
Pieter het eers op 27-jarige ouderdom aan die Universiteit van Stellenbosch begin studeer, nadat hy vir die Spoorweë en op die Mangaan-myne gewerk het. Hy is in 1981 gelegitimeer.
In 1982 is hy in sy eerste gemeente, Waterford, georden. Daarna het hy sy bediening in 1985 in Brakpan-Oos voortgesit totdat hy in Junie 1993 losgemaak is van die gemeente kragtens artikel 13 van die Kerkorde. Hy het demissie ontvang en is beroepbaar gestel. Na baie swaarkry en worsteling het hy in Januarie 1999 ‘n kontrakpos op Sterkstroom gekry.
Ds Fourie het op 3 Julie 2000 onverwags gesterf nadat hy sowat twee weke tevore ‘n nekoperasie ondergaan het. Hy was ‘n opregte vriend, seun, eggenoot en vader, iemand wat op sy eenvoudige manier die Here wou dien. Hy het uit ‘n diepe depressie opgestaan en op sy unieke, diep menslike manier, tot op die laaste oomblik siele vir Christus probeer wen.
‘n Verassingsdiens is op 7 Julie 2000 op Sterkstroom gehou. Sy as is op Bergplaas naby Beaufort-Wes begrawe. Hy het sy vrou destyds daar ontmoet. Ds Fourie se grafskrif getuig van sy lewenslange afhanklikheid van God: “My genade is vir jou genoeg.”
Hy word oorleef deur sy vrou en drie kinders, Eslo Minnie, Jacobus en Barend, ‘n skoonseun, twee kleinkinders asook sy bejaarde ouers, drie broers en ‘n suster.
(Hierdie huldiging is oorgeneem uit ‘n huldeblyk deur Esther Fourie wat op 02/ 08/2002 in Die Kerkbode verskyn het, effens aangevul deur Dirk Viljoen.)