Fouche, Stephanus Philippus

Ds. Fouche Stephanus

GEBORE

27 Febr. 1871

OORLEDE

4 Mrt. 1945

UNIVERSITEIT

GELEGITIMEER

1902

ORDEN

1903

STANDPLASE

Somerset-Wes (Hpr.)

1903 Hanover

1919 Parow-Goodwood

1920-1929 St. Stephens

1931 Keetmanshoop

EMERITEER

1937

Ds. Stefanus Philippus Fouché is op 27 Februarie 1871 in Rouxville, OVS, gebore. Na sy opleiding aan die Kweekskool te Stellenbosch is hy 1903 as hulpprediker van Somerset-Wes georden. Die werksaamheid het egter nie lank geduur nie want nog dieselfde jaar is hy na Hanover, waar hy ‘n vrugbare bediening van 16 jaar gehad het, toe hy ‘n beroep na Parow-Goodwood aangeneem het. Hierna het hy nog die gemeentes St. Stephens en Keetmanshoop bedien. Die laaste gemeente was ‘n veeleisende werkkring en hoewel hy geklim het in jare het hy die arbeid na die beste van sy vermoë met volle toewyding verrig. Van hom getuig ‘n medebroeder: „Oud en jonk het dan ook in die pastorie tuis gevoel. Deur vriendelike innemendheid het hy mense getrek. Die hoflike manier waarop hy sy meerdere sowel as sy mindere behandel het, het ons by meer as een geleentheid getref. Op die kansel het hy oor ‘n boeiende voordrag beskik . . . Met die gloed van oortuiging kon hy ‘n saak bepleit.” Na sy emeritaat in 1937 het die liggaamskragte voortdurend afgeneem. Op 4 Maart 1945 het hy die tyd met die ewigheid verwissel.