Fouche, Michiel Frederik Jonker

GEBORE

25 Feb. 1946

OORLEDE

25 Des. 1999

UNIVERSITEIT

BA, BTh

GELEGITIMEER

ORDEN

STANDPLASE

EMERITEER

Michiel Frederik Jonker Fouche is op 25 Maart 1946 op Christiana op die wal van die Vaalrivier gebore. Hy was die seun van Johannes Lodewickus Fouche en Johanna Catharina Lamberta Nieuwoudt, ouers wat hom van kleins af in die vrese van die Here grootgemaak het. Sy vader was ‘n boer. Dit verklaar sy liefde vir die grond en sy behoefte om as leraar in ‘n boerderygemeenskap te woon en te werk.

Van 1953 tot 1959 was Michiel ‘n leerling aan die Laerskool Hartswater, waarna hy sy hoërskoolopleiding aan die Hoërskool Hartswater (1960 – 1961); Warrenton (1963) en Potchefstroom (1964) ontvang het.

Michiel het van jongs af die innige begeerte gehad om predikant te word. Weens omstandighede het sy pad eers deur die Lugmag op Potchefstroom geloop, waar hy sewe jaar lank diens gedoen en sy getuienis uitgeleef het. In die tyd het hy studeer aan ‘n BA-Admissie graad aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, en is hy aangestel in die universiteit se administrasie afdeling. Hy het in 1978 sy BA-graad voltooi.

Met pligsgetrouheid en harde werk is hy in 1974 as adjunkdirekteur aan die universiteit aangestel, ‘n pos wat hy tot 1986 gevul het.

Sy roepings bewustheid was egter te sterk, en in 1986 het hy sy belangrike pos bedank om na Stellenbosch te verhuis om sy teologiese opleiding aan die Universiteit van Stellenbosch te voltooi. Aan die einde van 1992 het Michiel die graad BTh ontvang en is hy as predikant van die NG Kerk gelegitimeer. In sy finale jaar op Stellenbosch het hy egter ernstig siek geword en moes hy ‘n groot hartoperasie ondergaan. Die Here het mense se gebede verhoor en hy het in so ‘n mate herstel dat hy beroepbaar gestel is. Sy vreugde het geen perke geken nie.

Op Stellenbosch het hy in Vaderlandse Kerkgeskiedenis gespesialiseer en ‘n skripsie oor “Die Afrikaanse Protestantse Kerk: ‘n Inleidende studie oor sy ontstaan en ontwikkeling” geskryf.

Op 30 Desember 1972 is Michiel met Frances Lubbe getroud. Hulle het drie kinders gehad: Annie (1977); Hanna (1979) en Paulus (1983).

‘n Beroep na die plattelandse gemeente Britstown was die bereiking van ‘n wonderlike mylpaal. Hy is daar op 14 Junie 1993 met handoplegging bevestig, en het hom daarna as ‘n harde werker onderskei. Iemand wat met volharding die Woord bedien en met die plattelandse gemeenskap kon meeleef.

Vroeg in 1998 het ds Fouche weer siek geword, en het hy met moeite sy werk voortgesit. Die manier waarop hy egter aangehou het om sy werk met ywer en vreugde te doen, was ‘n bron van geestelike verdieping vir die gemeente van Britstown.

In die winter van 1999 het medici dit baie duidelik gestel dat ds Fouche nie meer voltyds kon werk nie. Hy het geen ander keuse gehad as om vroeë emeritaat weens siekte te aanvaar nie. Dit was as ‘n groot skok vir die gemeente, maar hulle het hom getrou bygestaan. Na slegs ses jaar op Britstown, het ds Fouche op 19 September 1999 sy emeritaat aanvaar, die eerste en enigste gemeente waar hierdie gelouterde leraarspaar die Here gedien het. Die gesin het hulle daarna in Pretoria gevestig.

Die spore wat ds Michiel en Frances Fouche in die naam van die Here op Britstown getrap het, is net so blywend as die Karoo se bossies en klippe. Net soos op Potchefstroom en Stellenbosch, was daar eienskappe wat hom blywende bakens laat nalaat het. Hy was ‘ n nederige mens, iemand wat nooit op mense neergesien het nie, maar hulle met deurleefde

menslikheid en diepe deernis hanteer het. Sy eerlikheid te alle tye het by mense vertroue ingeboesem. Hy het nooit kwaad met kwaad vergeld nie en was iemand wat maklik kon vergewe en vergeet. Gemeentelede het hy met oorgawe bedien met die vrug van die Gees.

Na ‘n lang siekte sterf ds Michiel Fouche op Kersdag, 25 Desember 1999, in Pretoria. Hy word oorleef deur sy vrou, drie kinders en ‘n weduwee-moeder. Na die mens se oordeel is sy heengaan ontydig, want die pad na die gemeentebediening was steil en die tyd in die aktiewe gemeentebediening slegs ses jaar. Maar in ewigheid perspektief is die Here God se tydsberekening volmaak. Daarom word gelowiges opgeroep om in stilte die woorde van die skrywer van die Hebreër brief te oordink: “Dink aan julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Let op hulle lewenswandel tot die einde toe, en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het” (Heb. 13:7); – Dr Gerdrie van der Merwe, effens aangevul deur Dirk Viljoen.