Nog altyd maak die werk op Fort Jameson deel uit van die werksaamhede van Magwero-sendingstasie. As die enigste dorp in die provinsie en hoofsetel van die regering, besluit die Sending om ‘n geordende sendeling daar te plaas. Die keuse val op ds. C. P. Pauw.
Hy begin op Fort Jameson (tans Chipata) met twee katkisante, afkomstig van die Livingstonia-Sending in Malawi. Waar vandag die Indiërbuurt en woondorp van die Swartmense is, woon toe die distrikshoofman Kapatamoyo en sy mense. Nie lank na die koms van ds. Pauw vind die biddag vir reën op versoek van Kapatamoyo plaas. “Dit was vir my ‘n ernstige en angstige tyd,” vertel ds. Pauw. “As die ding nou misluk en die reën bly weg, hoe nadelig kan dit nie wees vir my invloed en die Here se werk nie! Dit het my tot die
Here uitgedrywe.” En die Here het verhoor: “Onder die laaste gesang begin die eerste groot druppels van die tropiese storm val en netnou stort dit. Kapatamoyo en sy mense is in strome water huis toe. Die posisie was gered. Die mense het nog ‘n mooi mielie-oes gekry. Daar was ook ‘n geestelike oes . . . Die werk het posgevat in die streek. Toe ek in 1931 vergoed na Suid-Afrika teruggekom het, was daar ‘n groot getal Christene en doopklasiede.”
Intussen word die eerste buiteposte van Fort Jameson in die distrik geopen. In 1907 word die sendingpastorie aan die westekant van die dorp gebou ‘n ruim gebou met ‘n groot stoep om die hitte te keer. Die jaar daarop gaan haal ds. Pauw sy bruid (mej. Esther Bremer) op Stelienbosch. Die trein loop nou al verby Lusaka tot by Broken Hill (tans Kabwe) in Zambië. Hulle volg dus hierdie veei korter en makliker roete. Die lokomotief van die trein word met hout gestook. Dit het geen eetsalon aan nie en wanneer die son ondergaan, word stiigehou (die trein ry nie in die nag nie) en dan kry die passasiers geleentheid om af te klim, ‘n vuurtjie te maak en aandete voor te berei! Vanaf Broken Hill gaan die reis met draers en hangmat, 600 km. ver oor die Muchingaberge en Luangwarivier tot by Fort Jameson, waar huile na drie weke veilig arriveer. In 1909 kom die eerste ongetroude sendingwerkster in die N.G. Sending in Zambië aan: mej. B. Helm, wat vir twee jaar deur die N.G. Sending in Malawi geleen word. Sy wy haar hoofsaaklik aan die beiangrike werk van opleiding van buiteposonderwysers (Bron: Cronje, J.M. 1981. Aan God die dank. p. 157-158).