Fick, Jacobus Johannes

.

Ds JJ Fick

GEBORE

5 Sept. 1913

OORLEDE

10 Mei 1986

UNIVERSITEIT

PUK; US

GELEGITIMEER

1938

ORDEN

1939

STANDPLASE

1939 Pretoria-Wes

1941 Germiston-Suid

1947 Graaff-Reinet

1950 Port Elizabeth-Wes

1952 na CARFO

EMERITEER

Oud-Senator Jacobus Johannes (Koos Doom) Fick (5.9.1913 – 10.5.1986) was voor sy toetrede tot die politiek in die laat vyftigerjare, die geesdriftige en gloedvolle leraar van twee Transvaalse en twee Oos-Kaaplandse gemeentes en organiserende sekretaris van die Christelike Afrikaanse filmorganisasie Carfo. Hy word op Pietersfontein in die distrik Reitz groot, matrikuleer op Reitz en sit sy studie toe aan die Potchefstroomse Universiteitskollege en die Kweekskool op Stellenbosch voort. Einde 1938 word hy gelegitimeer en nadat hy ‘n kort tydjie in die gemeente Paarl hulpdiens verrig het, aanvaar hy ‘n beroep na Pretoria-Wes waar hy op 10.6.1939 as medeleraar van wyle ds John Adler bevestig word. Ofskoon daar vir ‘n groot kerk voorsiening gemaak is, brei die gemeente so vinnig uit dat Voortrekkerhoogte in Junie 1940 afgestig word. Vroeg 1941 word hy in ‘n tent op ‘n leë standplaas wat vir kerkbou aangekoop was, as die eerste predikant van die half-jaar-oue Germiston-Suid bevestig. Terwyl planne vir die oprigting van ‘n kerk goed op dreef is, tref ‘n swaar slag die jong gemeente toe sy leraar in die vroeë more van Heldedag (Krugerdag) 1941 onder die heersende landsomstandighede gedurende Wêreldoorlog II geïnterneer word. Hy was die enigste predikant van ons Kerk wat destyds geïnterneer is. Veertien maande lank word hy in die kampe by Ganspan (Andalusia) en Koffiefontein aangehou en toe vir nog agt maande op sy vader se plaas ingeperk, sodat hy eers in Augustus 1943 na sy gemeente kan terugkom. In die kampe lewer hy onberekenbare groot dienste ter bevordering van die godsdienstig-geestelike lewe van die paar honderd geïnterneerdes en die onderskraging van die wat deur vertwyfeling en moedeloosheid oorval word. Terselfdertyd doen hy ‘huisbesoek’, hou hy katkisasie en aanneming en bly hy voortdurend in verbinding met sy gemeente wat so goed met hul bouplanne vorder dat die kerk in Oktober 1942 ingewy kan word. (Uit die kamp bedank hy twee maal as leraar van sy gemeente, maar die kerkraad aanvaar dit nie.) Uiters interessant, skryf hy later self oor die tyd, “was dit om in die kamp (Koffiefontein) lede van die Ned Geref Kerk, die Geref Kerk, die Ned Herv Kerk en die Lutherse Kerk saam te organiseer as lede van die Boerekerk. Onder hierdie naam het ons ons kerklik gelukkig saamgesnoer en ‘n loflike eenheid en samewerking gevind.” Nadat hy saam met hul eie verantwoordelike kampbestuur die interneringsowerheid baie dringend versoek het om vir die kamp ‘n kapelaan aan te stel en die saak ook ernstig onder die kerk se aandag gebring is, kon ds David Botha, die plaaslike leraar, kort daarna sy eerste besoek aan die geïnterneerdes bring en van toe af hou hy sover moontlik elke Sondag in die kamp ‘n diens, terwyl hy ook met die tyd en die verlof tot sy beskikking huisbesoeke probeer aflê – iets wat vir die kampbewoners baie beteken, veral omdat die Nagmaal nou ook gereeld gevier kan word. In Germiston-Suid word die hoeken gedenkstene volgens besluit van die kerkraad eers na die terugkeer van die leraar en presies ‘n jaar na die inwyding van die kerk gelê. Vyf jaar later, in 1950, verlaat hy na sy tiende beroep daar, die jong stadsgemeente aan die Rand om na die oudste van al die Oos-Kaaplandse gemeentes, Graaff-Reinet met sy pragtige Grootkerk, te gaan. Na verloop van minder as drie jaar lei sy weg egter weer stad toe, die keer na Port Elizabeth-Wes, wat een van die vooruitstrewendste voorstede, Newton Park, insluit. Hier volg hy die ywerige en pligsgetroue ds G J J Boshoff op in wie se dienstyd groot ondernemings aangepak en deurgevoer is. Die vasberade gemeente werk dan ook hartlik saam met die kerkraad en leraar wat o.a. daarna strewe om die laaste deel van die gemeente-skuld so spoedig moontlik te delg. Daarna slaan ds Fick heeltemal ‘n ander rigting in deur op 22.4.1952 organiserende sekretaris van Carfo te word. In die hoedanigheid besoek hy gemeentes so ver as in die destydse Rhodesië en tot in Suidwes-Afrika in belang van die filmorganisasie. Einde Julie 1953 tree hy uit die bediening en van 1958 af verteenwoordig hy eers Hercules en daarna Gezina in die Transvaalse Provinsiale Raad. In 1971 word hy senator en die betrekking behou hy tot die ontbinding van die Senaat einde 1980. Vanaf 1976 woon hy en sy eggenote in die Strand. Hy sterf in die Hottentotsholland-Hospitaal op Somerset-Wes na twee swaar beroerteaanvalle. In die gemeentes wat hy bedien het, was hy ‘n toegewyde en blymoedige werker. Tydens sy bediening kry hy 17 beroepe, twee waarvan na vorige gemeentes. Nie alleen in die tyd nie, maar ook toe hy twaalf jaar LPR en nege jaar senator is, gooi hy sy volle gewig op onderwysgebied en by die verskillende Afrikaanse kultuurbewegings in.