Ferreira, Ignatius Leopoldus

Ds. Ferreira Ignatius

GEBORE

17 Des. 1936

OORLEDE

16 Okt. 2000

UNIVERSITEIT

GELEGITIMEER

1963

ORDEN

1964

STANDPLASE

1964 Windhoek-Wes

13 Feb. 1971 Gemeente Kalkrand

1975 Randburg-Suid

EMERITEER

1997

Dr Ignatius Leopoldus Ferreira (BA, BD, DTh) 17/12/1936 – 16/10/2000

Ignatius Leopoldus Ferreira is op 17 Desember 1936 op Fouriesburg gebore, ‘ n afstammeling van die bekende generaal JL Fick wat diep spore in die Oos-Vrystaatse grensgebied getrap het.

Leon het grootgeword in ‘n ouerhuis waar hy van kindsbeen af geleer is om die Here met oorgawe te dien. Hy is vernoem na sy pa, Ignatius Leopoldus Ferreira, wat op die plaas Straussburg in die Lindley distrik geboer het. Sy moeder was Elizabeth Margaretha Strydom, ‘n onderwyseres.

Leon was ‘n gebore Vrystater, iemand wat sy lewe lank lief was vir die streek en wat later as kerk  historikusin die Vrystaat bekend was.

Hy het sy skoolopleiding in 1943 aan die Laerskool Lindley begin, waarna die gesin na Durban verhuis het. Van 1944 tot 1951 was hy ‘n leerling aan die Pinetown-Goewermentskool. In 1952 het hy ‘n leerling aan die Hoërskool Port Natal geword, waar hy in 1955 gematrikuleer het. In 1956 het hy by die destydse Spoorweë en Hawens begin werk. In 1957 het hy na Stellenbosch gegaan om as predikant opgelei te word.

Leon het in die Eikestad leiding geneem op kulturele gebied. Hy het die BA-Admissie graad in 1959 geslaag en was sedert

1960 ‘n student by die Teologiese Seminarium op die walle van die Eersterivier. Prof TN Hanekom is in die jaar by die Kweekskool aangestel en het ‘n groot invloed as kerkhistorikusop studente gehad. Leon was die eerste teologie-student wat die geskiedenis van die Seminarium opgeteken het en is akademies vir die studie bekroon.

Hy het die BD-graad in 1963 voltooi, dieselfde jaar wat die Kweekskool die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch geword het. Die tema van sy skripsie was: “Die eerste vier studente aan die Kweekskool.” Aan die einde van 1963 het Leon die Kandidaat diploma in Teologie ontvang en is hy as proponent gelegitimeer.

Op 28 April. 1962 is Leon met Maria Elizabeth Killian getroud, iemand wat hom met liefde en sorg tot aan die einde van sy lewe bygestaan het.

Ds Ferreira is na die NG Gemeente Windhoek-Wes beroep en in April. 1964 met handoplegging bevestig. Ds Steenkamp het die bevestigings rede waargeneem. Die gesin het wonderlike jare in Windhoek beleef totdat Leon in 1969 demissie ontvang het vir verdere studie. Hulle eerste twee kinders, Annemie (1964) en Marius(1966) is in Windhoek gebore.

Onder leiding van sy promotor, prof Hanekom, het die jong leraar sy doktorale tentamens afgelê en sy navorsing oor die Teologiese Seminarium op Stellenbosch voortgesit vir ‘n doktorsgraad in die Teologie. Aan die einde van 1972 het hy die D.Th.-graad in Ekklesiologie ontvang, met ‘n proefskrif oor: “Die Teologiese Seminarium van Stellenbosch 1858 – 1963.” Hy het die werk opgedra aan sy moeder, mev. EM Boonzaaier, en sy vrou, Marietjie. Dit was ‘n besondere stuk navorsing wat in 1979 in boekvorm verskyn het.

Op 13 Februarie 1971 is ds Ferreira in die NG Gemeente Kalkrand in die destydse Suidwes-Afrika ontvang en bevestig, ‘n pragtige boeregemeenskap waar hy sy doktorale proefskrif kon voltooi en met meelewing mense se harte kon bereik. Aan die einde van 1972 het hy sy doktorsgraad behaal. Intussen is daar nog twee kinders vir die gesin gebore, Liesl (Januarie 1971) en Ewald (Desember 1971).

Dr Ferreira is daarna na die Suid-Randgemeente aan die Witwatersrand beroep. In 1975 het hy ‘n beroep na Randburg-Suid aanvaar. Op 1 Desember 1979 het hy die eerste voltydse argivaris van die NG Kerk in die Oranje-Vrystaat geword. In 1986 is die gesin met ‘n voog kind, Lichelle Liebenberg, versterk.

As argivaris het hy die baanbrekerswerk wat die ere-argivaris, ds HCJ Flemming oor jare heen in die Vrystaatse Kerk gelewer het, voortgesit. In die meer as agtien jaar wat hy hierdie pos beklee het, het hy uitmuntende werk gedoen en dertien gemeente gedenkboeke laat verskyn. Hiermee het dr Leon Ferreira ‘n blywende nalatenskap as kerkhistorikusen skrywer gelaat. Hy het ook verskeie artikels in kerklike blaaie geskryf.

Hy was lief vir tennis en draf, iemand wat op ‘n rustige manier sy werk gedoen het. Haastig kon hy nie wees nie, met Job se geduld en met liefde kon hy altyd die humor in ‘n saak sien en mense met deernis en liefde behandel.

Weens hartprobleme moes hy later ‘n groot hartomleiding ondergaan. Hy het sodanig herstel dat hy sy arbeid met ywer kon voortsit totdat hy op 30 ApriL. 1997 emeritaat aanvaar het.

Dr Leon Ferreira was ‘n kultuurmens en versot op boeremusiek. Met ‘n konsertina in die hand het hy van geluk gestraal. Hy het sy eie boeremusiek orkes gestig, wat bekend gestaan het as die Vrystaatse Boereorkes. Hy was ‘ n geseënde en gelukkige man van God, iemand wat sy talente en gawes met ander gedeel het. Die gospelsanger, Leon Ferreira, is ‘n broerskind van hom.

Mense was lief vir Leon, en onthou hom vir die besondere mens wat hy was. Het na sy aftrede nog dikwels gepreek, selfs die naweek voor sy heengaan. Hy is op 16 Oktober 2000 skielik in Bloemfontein oorlede en daar begrawe. ‘n Indiese spreekwoord laat ‘n mens aan hom dink: “Die glimlag wat jy uitstuur, vlieg altyd terug na jou eie hart.” – Dr Gerdrie van der Merwe, effens aangevul deur Dirk Viljoen.