
GEBORE
29 Aug. 1795
OORLEDE
27 Mrt. 1875
UNIVERSITEIT
–
GELEGITIMEER
1818
ORDEN
–
STANDPLASE
1818 Graaff-Reinet
1822 Kaapstad
EMERITEER
1867
Dr. Abraham Faure (29 Augustus 1795 in Stellenbosch 27 Maart 1875 in Kaapstad) was 45 jaar lank predikant van die Groote Kerk, Kaapstad, stigter van die NG Kerk se amptelike blad, die Kerkbode en word as die vader van die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch beskou.
Abraham Faure vertrek in 1814 na Engeland vir verdere studie. Twee jaar later gaan hy na Nederland om aan die Universiteit van Utrecht in teologie te studeer. Hy keer in 1818 terug en word predikant van die NG gemeente Graaff-Reinet, waar die gemeente, die sesde in die land, toe 26 jaar oud was. In 1822 vertrek hy na die Groote Kerk waar hy predikant sou bly tot 1867. Op Graaff-Reinet was sy opvolger ds. Andrew Murray sr., vader van onder meer dr. Andrew Murray. Tydens Faure se dienstyd in Kaapstad stig hy op 20 September 1829 die NG gemeente Wynberg, waarvan sy jongste broer, dr. Philip Eduard Faure, op 7 Desember 1834 as eerste leraar bevestig word.
Dr. Faure het hom besonder vir die onderwys beywer en was een van die stigters van die Zuid-Afrikansche Athenaeum, wat later as die Suid-Afrikaanse Kollege sou bekend staan, voorloper van die Universiteit van Kaapstad. Hy het ook ‘n aandeel in die stigting van die opvoedingsinstituut Tot Nut van het Algemeen gehad en kan feitlik as die vader van die Kweekskool (in 1859 opgerig) op Stellenbosch beskou word.
Verder het ‘n leidende rol in die totstandkoming van blaaie soos die Het Zuid-Afrikaansche Tijdschrift (1824); De Honigbij (1843) en De Kerkbode (1849) gehad, terwyl hy vir die daarstelling van die eerste Sondagskool in 1844 verantwoordelik was en baie jare as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Bybelgenootskap gedien het.
In 1862 ontvang Faure ‘n eredoktorsgraad van die Rutgers College in New Brunswick, V.S.A. Die Kaapse Sinode verkies hom in 1837, 1842, 1847, 1852, 1857 en 1862 tot aktuarius. In 1847, 1852 en 1857 is hy ook as skriba verkies. Hy tree in 1864 af en sterf in 1875 in Kaapstad.
Bronne
Albertyn, C.F. (hoofred.); Afrikaanse Kinderensiklopedie (derde uitgawe); Kaapstad, (jaartal onbekend).
Olivier, ds. P.L. (samesteller); Ons gemeentelike feesalbum. Kaapstad en Pretoria: N.G. Kerk-uitgewers, 1952.