GEBORE
6 Sept. 1901
OORLEDE
22 Aug. 1984
UNIVERSITEIT
–
GELEGITIMEER
1927
ORDEN
1928
STANDPLASE
Njassaland
1944 Vergenoeg
EMERITEER
1960
Ds Benjamin Beaumann Eybers (6 Sept. 1901 22 Aug. 1984); wat op sendinggebied baanbrekerswerk in die vroeëre Njassaland en Kenia (Brits-OosAfrika) gedoen het, het sy teologiese opleiding in 1927 op Wellington voltooi. Op 15 Jan. 1928 word hy, met verlof van die Njassa-subkommissie van die Kaapse Kerk se Sendingkommissie, daar “tot arbeider in Nyassaland” georden. In die sendingveld is sy eerste standplaas Mlanda en sy laaste Meinji. Toe hy na 16 jaar besluit het om die Land aan die Meer te verlaat, bied dit aan die kerkraad van Vergenoeg (Eldoret, Kenia) die geleentheid om hom te beroep na die sendingwerkkring wat vroeër daardie jaar (1944) daar gevorm is en waarvoor hulle so graag ‘n geordende en vaste leraar wou hê. Die werkkring het ontstaan uit die praktiese sendingwerk wat etlike van die Afrikanerboere – mans en vroue – met verloop van tyd onder hul plaaswerkers gedoen het, maar veral ook as gevolg van die reusetaak wat die merkwaardige ds M P (oom Tienie) Loubser op ‘n vaste grondslag in daardie geweste verrig het. Na ‘n reis van iets oor die 4 000 myl deur die hart van Afrika, wat onder die moeilike omstandighede van Wêreldoorlog II drie weke duur, kom die “sendelinge” – soos eerw Eybers hom en sy vrou noem – per trein middernag op 27 Okt. 1944 by hul bestemming aan. In die nuwe jaar vestig hulle hul op Broederstroom wat later tot die Bwana Loubser-sendingstasie vernoem word. In die sendingkerkie daar word hy in April 1945 bevestig deur ‘n Transvaalse leraar wat vir die bevestiging van Vergenoeg se nuwe predikant, ds P L. Olivier, na Kenia gestuur is. Toe hulle die taal onder die knie het, begin die “sendelinge” met die voorsiening van die noodsaaklike handboeke vir die werk in Swahili, die belangrikste verkeerstaal in Oos-Afrika. Hulle stel onder andere lesse uit die Ou Testament en uit die lewe van die Here Jesus, ‘n liedereboek en ‘n kerkgeskiedenis op, terwyl hulle ook die Kort Begrip en die kerklike formuliere vertaal en met die uitgee van ‘n kerklike blaadjie begin. Omdat die sendeling man-alleen nie die bearbeiding van die mense in die uitgestrekte gebied van ongeveer 300 by 250 km kan behartig nie, word daar besluit om op voetspoor van die metode wat in Njassaland gevolg is, op sentrale punte op plase buiteposte te begin waar evangelisonderwysers daagliks kan werk. Sodoende word daar toe op die sendingstasie ook met die opleiding van sulke manne begin. Later brei die werk uit na ander plekke waar daar Afrikaners woon. In 1952 begin die sendingleraar, bygestaan deur die predikante van die plaaslike gemeentes van ons kerk daar, selfs met ‘n vierjarige kursusvir die opleiding van leraars. In hierdie tyd begin Uhuru egter soos ‘n vlaag deur Afrika trek. Die “duistere Mau-Mau-voetstappe” wat in Kenia verneem word, maak die sendingwerk onder die Kikujuvolk haas onmoontlik en laat die wolk oor Oos-Afrika toesak wat so baie Afrikaners daarvandaan na ons land laat terugkeer. Die gevolg was dat die Ring van Meru – wat die verantwoordelikheid vir die uitbreidende sendingwerk van die gemeente Vergenoeg oorgeneem het – dit op die duur nie meer sou kon dra nie. Omdat die leraar en sy eggenote se gesondheid ook nie meer na wens is nie, tree hy op 27 Mrt. 1960 af. Hulle keer na Suid-Afrika terug en hier werk hy vir die buitelandse diens van die SAUK totdat hy op Beaufort-Wes gaan woon. Die kerkraad van Vergenoeg sien onder die destyds heersende omstandighede nie kans om weer ‘n sendeling te beroep nie en besluit “dat die hele sendingveld aan ‘n ander goedgesinde genootskap oorhandig word”. Terwyl die Eyberse in 1953 met ‘n studiereis na Noord-Afrika en Europa was, het hy in Nederland met die Hervormde Kerk geskakel wat hom verseker het dat hulle, veral met die oog op terugtrekking uit Indonesië, hul ernstige aandag aan Oos-Afrika gee. Toe die Gereformeerde Zendingsbond – ‘n sendinggenootskap binne die Hervormde Kerk van Nederland – dusteen 1960 juis na “een nuwe taak op het Afrikaansekontinent” soek, lei die onderhandelinge tussen ‘n afvaardiging van die GZB en die Transvaalse Sendingkommissie daartoe dat die Bond die sendingveld wat as ‘t ware deur ds Eybers opgebou is, oorneem. Reeds in Januarie 1961 is twee Nederlandse predikante daar om die arbeid waarmee ons kerk begin het, voort te sit.