GEBORE
11 Jul. 1922
OORLEDE
23 Aug. 2004
UNIVERSITEIT
–
GELEGITIMEER
1948
ORDEN
1949
STANDPLASE
1949 Viljoensdrif
1958 Outjo
EMERITEER
–
Ds Tom Etsebeth (Diploma Teologie) 11 Jul. 1922 – 23 Aug. 2004
AlbertusJohannes Etsebeth is op 11 Julie 1922 op Strydenburg in die Noordkaap gebore en vernoem na oupa Albertus Johannes Oberholster aan moederskant, ‘n boer in murg en been. Dit is hierdie godvresende grootouers wat ‘n groot bydrae lewer tot sy geestelike vorming en roeping om later tot die Evangeliebediening toe te tree. ‘n Kleinneef van oupa was ds JAS Oberholster, argivaris van die NG Kerk. Sy vader was Sarel Christoffel Etsebeth ‘n polisieman en sy moeder Catharina Maria Oberholster. Ds Tom, ‘n naam wat hy op skool kry en sy lewe lank saamdra, begin sy skoolloopbaan in 1929 aan Laerskool Strydenburg en matrikuleer in 1941 aan Hoërskool Strydenburg waar hy die Victor Ludorum ontvang vir prestasie in rugby en atletiek.
Aan die begin van 1942 vertrek Tom na Stellenbosch om toelating te kry tot die Teologiese Seminarium, waar hy einde 1948 as proponent gelegitimeer word. Hierna los hy ‘n tyd af as proponent in Windhoek voordat hy bevestig word by Viljoensdrif in die Noord-Vrystaat. Intussen trou hy op 5 Februarie 1949 met Johanna Catharina van Schalkwyk, wat hy op ‘n CSV-kamp ontmoet. Ds Tom en Hennah Etsebeth het vyf kinders, twaalf kleinkinders en vier agterkleinkinders. Die kinders is Sarel, getroud met Cinette Fouche; Tharina, getroud met Louis Rossel; Ina, getroud met Johan Alberts, Bertie was getroud met Elma Muller, sy is drie weke na ds Tom oorlede. Hannalie is getroud met Louis Martins.
Dit was ‘n groot oomblik toe hy op 30 Julie 1949 met handoplegging in die NG Gemeente Viljoensdrif naby Heilbron ontvang en bevestig word. Die jong leraar lewer sy intreepreek oor 2 Kor 4 vers 5. Dit was ‘n pas afgestigte gemeente sonder ‘n bruidskat, pastorie of kerkgebou, waarna die jong dominee na nege jaar met sy vertrek Namibië ‘n nuwe kerkgebou, saal en pastorie agterlaat. In die gemeentegrense was die Stofberg Gedenkskool, ‘n teologiese inrigting waar swart leraars en evangeliste opgelei is. Die dosente was deel van die gemeente en die samewerking in die gemeente was wonderlik, hieraan het ds Tom ‘n groot aandeel.
Op 24 Oktober 1958 word hy die herder en leraar van die NG Gemeente Outjo in die destydse Suidwes-Afrika. 1n sy dienstyd word ‘n indrukwekkende kerkgebou in die middel van Outjo gebou, waarvan hy self die plan opgetrek het. Die gemeente was uitgestrek en het ook Ovamboland en die Ethoshapan ingesluit, ‘n gemeente en gemeenskap wat hy 17 jaar lank met liefde bedien. In 1975 word hy 7 jaar lank ‘n tentmaker sendeling op Outjo, waar hy werk tot met die aanvaarding van sy emeritaat in 1982.
Ds G. Strydom wat hom in 1975 in Outjo opvolg skryf: “1n die mees noordwestelike hoek van die land en die kerk, sou hy vir die res van sy bediening die lig van die Evangelie uitdra, in die spore van die pionier en eerste leraar van die gemeente ds SH van der Spuy. Met ds Tom Etsebeth se forse gestalte en sterk persoonlikheid, was hy ideaal geskik daarvoor om juis hierdie destyds minder ontwikkelde en uitgestrekte boerdery gebied, ‘n gemeente te bedien. Gedurende groot droogtes, toe baie van die beesboere soms baie vêr van die huis af moes trek om weiding te bekom, het hy as pastor hulle besoek en bemoedig met ‘n boodskap uit die Skrif’.
Oor sy sendingarbeid skryf sy vrou Hennah: Toe ds Tom na Outjo gekom het, is die plaaslike sendingwerk hoofsaaklik deur die Rhynse- en Finse Kerkgenootskappe gedoen. Maar hy het gevoel dat die gemeente Outjo en ook ander gemeentes in Namibië ‘n verpligting het om hulle eie sendingwerk in gemeentes te doen. Hy het so sterk daaroor gevoel dat hy in oorleg met die kerkraad besluit het om vir 7 jaar die plaaslike sendingwerk te doen sonder salaris, om so aan die gemeentes in Namibië te wys dit werk. Outjo gemeente het ‘n deel van sy pensioenbydrae en ‘n bedrag as reiskoste verskaf Met sy aftrede het die twee gemeentes op Outjo en Kamanjab ‘n eie sendeling beroep en was ds Tom se lewensideaal verwesentlik”.
Na ds Tom Etsebeth se aftrede vestig die gesin hulle op Vermont naby Hermanus waar hy ‘n erf koop en ‘n dubbelverdiepinghuis bou. Binne enkele jare verhuis hulle na Secinceu, ‘n woonstelblok in Kusweg in die Strand waar hulle ongeveer twee dekades bly. Ongeveer sewe maande voor sy dood verhuis die egpaar na Altena aftreeoord in die Strand. In die winter van 2004 gaan kuier ds en mev Tom Etsebeth by al vyf kinders, ook by hulle dogter op ‘n plaas naby Leonardville. Hier sterf hy skielik op 23 Augustus2004 aan ‘n hartaanval en word op 30 Augustus2004 uit die NG Kerk Gobabis-Suid begrawe.
By die geleentheid het ds Peet Strauss ‘n huldeblyk gelewer: “Ds Tom Etsebeth en my paaie het in 1969 gekruis en soms het veral die paaie van die sinode se sendingaksies in die volgende 13 jaar saam gestap. Alhoewel hy op verskeie kommissies van die Sinode gedien het, het sy grootse bydrae op sendingterrein gele. Saam het ons vergaderings met die leiers van ander kerke bygewoon, samesprekings met senior hoofmanne in byna alle dele in die noorde gevoer – in stamkantore, onder bome, in krale. Te alle tye kon ek staat maak op die lojaliteit en ondersteuning van ds Etsebeth. Dit is dusvir my ‘n voorreg dat die Here so beskik het dat ek die een moes wees om hom ter ruste te lê”. – Dr Gerdrie van der Merwe.