GEBORE
4 Okt. 1951
OORLEDE
13 Mei 1987
UNIVERSITEIT
–
GELEGITIMEER
1975
ORDEN
–
STANDPLASE
–
EMERITEER
–
Hy het op tragiese wyse die lewe gelaat in ‘n motorongeluk by die berugte windbrug buite Worcester. Ds Esterhuyse en twee vriende was met ‘n woonwa op pad, waarin sy gesin sou woon tydens aanbouings aan hulle huis in Belhar. Ds Esterhuyse is op Worcester gebore waar sy vader skoolhoof was van die NG Oefenskool. Hy het sy matriek aan die Esselenpark-hoërskool afgelê en daarna vir sy teologiese opleiding na Bellville gegaan. Daar het hy hom aktief by die NG Sendinggemeente ingeskakel. Hy het as kerkraadslid gedien en saamgewerk met die bouspan wat Saterdae kantore by die kerk opgerig het. Hy was ook ‘n ywerige student en jeugleier. Na sy legitimasie in 1975 het hy as proponent in Worcester hulpdiens verrig totdat hy ‘n beroep na Worcester-Oos aangeneem het. Daar is hy op 6 Maart 1976 bevestig as die eerste gemeente seun wat predikant van die gemeente geword het. Hier het hy hom onderskei as jeugvriend en het die jeugvereniging gedurende sy bediening ‘n ongekende bloeitydperk beleef. Onder sy besielende leiding is ook ‘n kerkgebou opgerig wat op 2 Desember 1978 in gebruik geneem is. In 1980 neem hy ‘n beroep aan na Knysna en kort daarna, op 11 Junie 1981, word hy in sy derde gemeente Retreat bevestig. Hy het hierdie gemeente vyf jaar lank gedien. Hy het ook die kerk in breër verband gedien en was o.a. voorsitter van die bestuur van Nannie-huis. In 1986 ontvang hy demissie met die oog op verdere studie. Terwyl hy ‘n ingeskrewe student was by die Bybelkundedepartement aan die Universiteit van Wes-Kaapland, het hy klas gegee by die Bellvillese Opleidingskollege en die laaste vyf maande voor sy dood het hy hulpdiens verrig in die gemeente Uitsig. Hy word oorleef deur sy vrou, Benita Duncan, en twee seuns.