
GEBORE
27 Aug. 1939
OORLEDE
23 Nov. 2009
UNIVERSITEIT
–
GELEGITIMEER
1970
ORDEN
1971
STANDPLASE
1971 Stilbaai
1974 Lichtenburg-Oos
1974 Lichtenburg-Sederpark
EMERITEER
1998
Ds Frans Erasmus(BA, BTh) 27 Augustus1939 – 23 November 2009
Francis Augustus Erasmus is op 27 Augustus1939 op Virginia gebore. Hy was ‘n boerseun wat tot die einde van sy lewe lief gebly het vir boerdery. Sy pa was Lourens Francois Erasmus, ‘n boer, en sy ma Anna Josina Hawley. Frans het sy skoolopleiding in 1945 aan die Laerskool Virginia begin en in 1953 het hy ‘n leerling aan die Hoërskool Grey-kollege in Bloemfontein geword. Hy het in 1956 daar gematrikuleer.
Frans het vyf jaar geboer voordat hy in 1964 aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat begin studeer het. Daar het hy in 1966 die graad BA (Admissie) behaal. In 1967 het hy aan die Fakulteit Teologie op Stellenbosch begin studeer en saam met sy BTh-graad ook ‘n landbou diploma by Elsenburg verwerf. In 1970 is hy as proponent gelegitimeer. Frans is op 24 November 1962 met Asje Magdalena Linde getroud, en hulle het drie kinders gehad.
Op 23 Januarie 1971 is Frans met handoplegging in die NG Gemeente Stilbaai ontvang en bevestig. Vroeg in 1974 is hy na die NG Gemeente Lichtenburg-Oos in die Wes-Transvaal beroep, waar hy tot met sy aftrede gewoon het. Kort na sy aankoms in die gemeente het die kerkraad besluit om af te stig en op 7 September 1974 het hy die eerste leraar van die NG Gemeente Sederpark in Lichtenburg geword. Onder sy leiding is ‘n nuwe kerkgebou, saal kompleks en pastorie gebou.
Ds Frans het in die SKDB van Wes-Transvaalse Sinode gedien en oral bekend vanweë sy konsekwente belydenis getroue bediening.
Na sy “aftrede in 1998 het die egpaar hulle op Stilfontein gevestig, waar hulle dertien jaar lank gewoon het. Hy het steeds gepreek en uit gehelp waar die Here hom nodig gekry het. In 2009 het die egpaar weens sy swak gesondheid na Johannesburg verhuis naby sy kinders en mediese versorging te wees. Hier is hy op 23 November 2009 oorlede. Sy vrou woon steeds naby haar kinders in Johannesburg. – Dr Gerdrie van der Merwe.