GEBORE
8 Januarie 1938
OORLEDE
25 Oktober 2015
UNIVERSITEIT
BA, BD, Drs. Th
GELEGITIMEER
–
ORDEN
–
STANDPLASE
–
EMERITEER
–
Daniël Jacobus Erasmus is op 8 Januarie 1938 in Bothaville gebore. Hy word vernoem na sy vader, Daniël Jacobus Erasmus, ‘n boorling van Kroonstad en boer in murg en been van Bothaville. Sy moeder was Johanna Christoffelina Weldhagen, ‘n boorling van Smithfield wat haar as onderwyseres bekwaam. Danie Erasmus (jnr.) word op 3 April 1938 in die NG gemeente Viljoenskroon gedoop.
Hy begin sy skoolopleiding in 1944 aan die Laerskool Glaudina en geniet sy onderrig onder ‘n bekwame span leerkragte. In 1951 is hy ‘n leerling aan die Hoër Volkskool op Potchefstroom, waar hy in 1955 in die eerste klas matrikuleer. Hy lê belydenis van geloof af in die NG Moedergemeente Potchefstroom onder leiding van die legendariese ds. GD Worst.
Hy is ‘n ywerige lid van die CSV en is hoofspanleier van die Voortrekkers en wen in 1955 die Pietie le Roux-skild.
Hierdie boerseun voel geroepe om predikant te word en vertrek in 1956 na die Universiteit van Pretoria waar hy op 18 Maart 1960 die BA-graad behaal. Hier is hy ook die BA-verteenwoordiger in Deo Gloria. Dit gee hom insig en ‘n vroeë verbintenis met die teologiese studente in Pretoria. Maar ten spyte hiervan en die besondere verbintenis, besluit die jong Danie om aan die begin van 1960 Matieland toe te gaan vir sy opleiding as bedienaar van die Woord.
Hy studeer aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch en behaal die BD-graad (cum laude). In hierdie jaar is hy ook primarius van Huis Fred Liebenberg, ‘n koshuis in die hart van Stellenbosch wat die hoofgebou van die CSV is en ook die boekhandel huisves.
Danie Erasmus word op 5 Desember 1963 asproponent gelegitimeer. Hy is nie dadelik beroepbaar nie en studeer in 1964 op Stellenbosch verder. Sy doktorale eksamens (Drs. Th) word suksesvol afgehandel. Hierna moes hy net sy doktorale proefskrif skryf om graad te verwerf. Dit blyk dat hy in sy bedieningstyd, soos baie studente voor hom, nie sy proefskrif geskryf en voltooi het nie.
Prop Danie Erasmus is verloof aan Leonora Greybe van Kirkwood, ‘n maatskaplike werker. Sy sterf op 22 November 1964, ‘n maand voor hulle huwelik. Hierdie jong dienskneg van die Here vind troos in die Here en keer terug na sy geliefde Wes-Transvaal en ontvang twee beroepe en neem die een na Swartruggens aan. Hy word op 28 Augustus 1965 met handoplegging in die NG gemeente Swartruggens ontvang en bevestig. Hy is ongetroud en bewoon die groot pastorie alleen.
Die Here voorsien en hy trou op 8 Januarie 1966 met Catharina Elizabeth Taljaard, ‘n boorling van Schweizer-Reneke. Uit die huwelik is twee seuns gebore, Daniël Jacobus Erasmus (1967) en Jacobus Hermanus Erasmus (1970). In 1968 gee die kerkraad aan hom demissie en hy verlaat die gemeente om verder te studeer.
Op 1 Februarie 1969 is hy terug in die amptelike bediening toe hy leraar word van die NG gemeente Alice in die Oos-Kaap, ‘n gemeente in die nabyheid van die Universiteit van Fort Hare. Hierna loop sy pad na die NG gemeente Jamestown, waar hy op 14 Julie 1973 bevestig word. Hier loop hy in die voetspore van groot manne soos ds. WL Eaton, ds. P de Vos Grobbelaar en ds. GHP Badenhorst. Dit is ook die geboortedorp van dr Koot Vorster en adv. John Vorster wat tot met hulle dood hulle kinderjare en kerklike band met Jamestown en sy leraars in herinnering roep.
Ds Danie Erasmus dien op die SKAE van die Oos-Kaap en is ook voorsitter van die Ring van Burgersdorp. Hier aanvaar hy op 20 April 1978 sy emeritaat weens swak gesondheid.
Ds Danie se huwelik beland op die rotse en hy skei op 13 September 1978 in Pretoria. Hy trou egter weer op 30 Augustus 1980 met Cecilia Badenhorst in die NG gemeente Delareyville-Oos. Die bevestiging word waargeneem deur die geliefde ds. Japie du Plessis.
Ds en mev. Erasmus vestig hulle na sy emeritaat op die plaas Welgevonden in die distrik Ottosdal. Hy help ook later met geestelike arbeid in Vryburg, Louwna, Viljoenskroon en preek dikwels in Wes-Transvaalse gemeentes. Hy help ook die NGKA gemeentes van Glaudina en Bospoort. Hy stel belang in genealogie en skryf boekies: “‘n Tak van die Erasmusfamilie” in 1982 en “‘n Tak van die Weldhagen-familie” in 1985. Toe die NG gemeente Glaudina in 1985 sy halfeeufees vier, skryf hy ‘n gedenkboekie wat gepubliseer word.
Ds Danie en Cecilia Erasmus is in die jaar 2000 inwoners van die ouetehuis op Hartebeesfontein, en vanaf 2002 tot 2012 woon hulle in die Onse Rus-tehuis op Ottosdal. Hierna is hulle inwoners in die tehuis op Sannieshof waar hy op Sondagmiddag 25 Oktober 2015 in sy woonstel oorlede is. Die begrafnisdiensdiens word deur ds. Johan Rademeyer in die NG Kerk in Sannieshof waargeneem en die as is in die nis van die herdenkingsmuur geplaas. — Dr Gerdrie van der Merwe VDM