Els, Petrus Jacobus Johannes Stephanus

 

GEBORE

14 Aug. 1908

OORLEDE

22 Febr. 1985

UNIVERSITEIT

GELEGITIMEER

1934

ORDEN

1936

STANDPLASE

1936 Molteno

1941 Richmond

1945 Kensington

1949 Uitenhage

1950 Uitenhage-Oos

1953 Vanderbijlpark-Wes

1955 Cradock

1958 Organiserende Sendingsekretaris van Kaapland

1959 Binnelandse Sendingsekr.

1964 Alg. Sendingsekretaris, Kaapland

EMERITEER

Ds PetrusJacobusJohannes Stephanus(Piet) Els (14 Aug. 1908 – 22 Febr. 1985) het gedurende meer as 21 jaar in ses gemeentes in Kaapland en een in Transvaal en daarna 16 jaar lank as Kaaplandse Sendingsekretaris baie diep spore getrap. Hy is in die distrik Pearston gebore en gaan op sy tuisdorp skool voordat hy sy verdere onderrig aan die bekende Gill-Kollege op Somerset-Oos ontvang, Einde 1930 gradueer hy op Stellenbosch en vier jaar daarna word hy, 11 voltooiing van die voorgeskrewe kursusaan die Kweekskool, gelegitimeer. Die naweë van die wêreldwye depressie en die verwoestende droogte in ons land gedurende die vroeë dertigerjare bring onvermydelik mee dat beroepe destyds bra skaars is en dat menige proponent hom lank met ‘n hulppredikerskap moet vergenoeg. So verrig prop Els hulpdiens in Middelburg (K) voordat hy op 25 Jul. 1936 as opvolger van die bekwame en algemene en geagte ds J F Botha op Molteno georden en bevestig word. Heel gou kom die gemeente diep onder die indruk van die groot erns en ywer waarmee hul jong predikant sy roeping vervul en algaande word daar hegte bande tussen hulle en hom gelê. Hy beywer hom grootliks vir die insameling van die noodsaaklike geldelike middele, maar ook vir die kerklike armesorg en die sending. Na ‘n bietjie minder as vyf jaar vertrek die gewilde leraar en sy gesin na Richmond, waar hy in Junie 1941 bevestig word en vir die volgende vier jaar sy volle krag in belang van die gemeentelike werksaamhede gee. Soos in sy ander gemeentes oefen hy ook hier deur sy ernstige prediking, getroue herderlike sorg en opregte belangstelling in alle mense groot invloed uit. Voorts word hy leraar van die pasgestigte gemeente Kensington in die hawestad Port Elizabeth (Julie 1945) en toe in die “onhoudbare” groot Uitenhage (Junie 1949) met sy ledetal van meer as 4 300 (sieletal 7 584) en sy drie predikante, totdat die “moeder” – die eerste maal in ons kerk se geskiedenis dat so iets gebeur – die aand van 22 Jun. 1950 aan drielingdogters geboorte skenk! Die dogters beroep hul moeder se predikante, al drie neem aan en einde September volg ds Els se bevestiging in Uitenhage-Oos. Toe hy in Maart 1953 na Vanderbijlpark-Wes in Suid-Transvaal gaan, moet hy vir die derde keer ‘n jong gemeente met sy eerste treë help. In Augustus1955 is hy ‘n afwesigheid van bietjie meer as twee jaar as leraar van Cradock in Oos-Kaapland terug. Oral waar hy gestaan het, het hy hom in die besonder vir die sending beywer. Verder was hy in die veertigerjare al in die verskillende kerklike vergaderings en kragtige pleitbesorger vir die uitbreiding van die werk in die Transkei en die Ciskei en in Oos-Kaapland in die algemeen, sowel as vir die totstandkoming van ‘n sinode van die NG Bantoekerk (tans die NG Kerk in Afrika) in Kaapland – ‘n grootse ideaal wat op 7 Nov. 1951 in Oos-Londen verwesenlik word. Verstaanbaar was dit dusdat by die benoeming van ‘n Organiserende Sendingsekretaris vir Kaapland in 1957 die keuse op hom geval het. Hy aanvaar die benoeming en begin laat Januarie met die werk. Toe die Sendingkommissie in 1957 die Opedeurefonds vir die uitbreiding van die werk in die Transkei en die Ciskei geloods het, het hy en wyle ds I J Viljoen (toe van Philadelphia, maar vroeër van Somerset-Oos) die insameling van geld-middele vir die onderneming met geesdrif en toewyding aangepak en daarmee ook groot welslae behaal. Toe hy nou Sendingsekretaris word, bly hy voorlopig op Cradock om in die eerste maande daarvandaan veral die gemeentes in Oos-Kaapland in belang van dië saak wat hom so na aan die hart gelê het, te besoek. Later verhuis hy en sy eggenote na Kaapstad. In Augustus1964 word hy Binnelandse en skaars twee maande later Algemene Sendingsekretaris in die plek van ds P E S Smith wat tot sekretaris van die Algemene Sinode se Sendingkommissie verkies is. Terwyl hy hom as Organiserende Sekretaris nog altyd veral op die insameling vir die Opedeurefonds toegelê het, is hy as Binnelandse Sekretaris grotendeels met die daarstel van verskeie sendinghospitale in die Transkei en die Ciskei, asook met die beplanning van sendingwerk in Noord-Kaapland gemoeid. Met sy benoeming as Algemene Sekretaris word die buitelandse werk in Midde-Afrika sy verantwoordelikheid. Ten spyte daarvan dat dit ‘n tyd van staatkundige woelinge, omwentelinge en spanning in die wêreld en in Afrika in die besonder was, kon die Sendingkommissie sy werk ongehinderd voortsit. Nêrens het die deure vir bestaande werk toegegaan nie. Inteendeel, geleenthede tot sendingwerk, beide in die binneland en buiteland, het meer geword, in so ‘n mate dat die kerk nie in al die behoeftes kon voorsien nie. Na sy uittrede einde Februarie 1974 getuig die Sendingkommissie van hom dat hy in kritieke tye sy taak in die Sendingkantoor met groot waardigheid en verantwoordelikheid behartig het en by die heel besondere mens en baie goeie man se begrafnis sê een van sy eertydse kollegas in die kantoor dat die liefde van Christusdie oorheersende drang was wat in sy persoon en werk na vore gekom het. Ten spyte van agteruitgang in sy gesondheid in die laaste paar jaar van sy lewe, het hy en sy eggenote steeds heelhartig meegedoen aan die bedrywighede van die gemeente Suider-Strand waar hulle woonagtig was, en waar hy bykans tien jaar na sy aftrede skielik oorlede is. Sy oudste seun is hoof van die Departement Ou Testament van die Universiteit Wes-Kaapland, die tweede een was vroeër sendingdokter en mediese superintendent van ons Kerk se hospitaal op Sterkspruit in die voormalige Herschel-Reservaat wat tans deel van die Transkei uitmaak, en die jongste is leraar van die NGKA-gemeente Rhini by Grahamstad, nadat hy eers op Orumana in die Kaokoland in SWA werksaam was. Uit sy pen het daar ‘n werkie Praktiese Wenke vir Kerk- raadslede verskyn.