Eloff, Sarel Johannes

Ds. Eloff Sarel

GEBORE

20 Nov. 1919

OORLEDE

14 Jun. 2005

UNIVERSITEIT

M.A., M.Th., D.Phil., T.O.D

GELEGITIMEER

1948

ORDEN

1949

STANDPLASE

1949 Amalia

1954 Hartbeesfontein

1959 Potchefstroom

1961 Potchefstroom-Die Bult

EMERITEER

Dr Sarel Eloff (BA, TOD, MA, DPhil) 20 Nov. 1919 – 14 Jun. 2005

Sarel Johannes Eloff is op 20 November 1919 te Bultfontein gebore, een van drie seuns van Sarel Johannes Eloff en Johanna Maria Barnard. Sy ouers was 72 jaar getroud, albei bereik geseënde ouderdomme, sy vader sterf op 92-jarige leeftyd en sy moeder op 96-jarige leeftyd. Met Sarel se geboorte boer hulle op die plaas Loffia, die naam is afgelei van hulle van, Eloff. Op hierdie plaas beleef hy wonderlike en sorgvrye jare, maar hy was soms siek aan kroep en sy ouers vertroetel hom met groot sorg.

Hy begin sy skooljare in 1928 aan ‘n eenmanskool op die plaas Excelsior in die distrik Bultfontein, waar die verwoestende 1933 droogte ‘n blywende indruk opsy jong gemoed laat. Toe Sarel veertien jaar oud was verkoop sy ouers Loffia en vestig hulle op Christiana waar hy ‘n meul bedryf en ook soms delf om die pot aan die kook te hou.

Sarel matrikuleer in 1937 aan die Hoërskool Christiana, waar hy eerste span rugby speel en betrokke is by die CSV. Hy katkiseer onder leiding van ds HA de Wet en praat met groot deernis van die bank voor die preekstoel in die klipkerk op Christiana, waar hy op 8 September 1937 tydens ‘n preek van die jeugdige ds JCG Kotzé (later professor aan die Kweekskool op Stellenbosch) tot bekering gekom het. Hieroor skryf dr Sarel uit: “Grepe uit my lewensverhaal”. “Nooit gedurende die afgelope 62 jaar het ek weer getwyfel aan my kindskap nie. Ek het dadelik standpunt ten gunste van my geloofsoortuiging ingeneem”.

In 1938 skryf hy in as student aan die Potchefstroomse Onderwyskollege, met die mikpunt om onderwyser te word. Hy behaal in 1941 die BA-graad en Onderwys diploma en in 1942 die MA in Sosiologie. Hy blink uit in rugby en speel vir die Pukke se eerste span en vir Wes-Transvaal. Gedurende 1943 gee hy klas in die plek van prof DCS du Preez, maar die roepstem om predikant te word is so sterk dat hy die geleentheid tot ‘n lektorspos in Sosiologie aan die universiteit vaarwel roep. In 1944 studeer hy Grieks en Hebreeusaan die Universiteit van Pretoria en skryf in 1945 in as student aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch. Sarel Eloff en Evert Kleynhans (later kerkleier en professor in Ekklesiologie aan die UOVS) woon saam by mevrou Van der Merwe in Dorpstraat naby die Kweekskool en bly jarelange vriende.

Oor die Stellenbosse Kweekskool skryf dr Sarel later in sy herinneringe: “Dit was vir my ‘n buitengewone voorreg en vreugde om die eerste keer die wit trappe na die lesings uit te klim. So baie het dit voor en na my gedoen”. Sarel het hard gewerk en in sy finale jaar ook die MTh-graad in Teologie behaal, met prof JJ Muller as studieleier, terwyl sy proefpreek gehandel het oor Openbaring 6 wat handel oor die vier perde. Aan die einde van 1948 word hy as proponent gelegitimeer, ‘n groot oomblik in die Groote Kerk in Kaapstad.

Aan die begin van 1949 begin prop Sarel Eloff met afloswerk in die vakante NG Kerk Amalia in Wes-Transvaal, ‘n gemeente wat later ‘n beroep op hom uitbring wat hy aanvaar. Hy en sy vrou Toi en hulle seuntjie Sarel word op 16 April 1949 in die gemeente ontvang en bevestig. By die handoplegging is prof dr FJM Potgieter teenwoordig, want hy lewer die bevestigingsrede. Dr Sarel skryf later: “Toe het my ma ‘n toga wat die kerkraad aan my geskenk het, oor my skouers gehang en my omhels. Dit was ‘n roerende oomblik en trane het oor ons wange gebiggel”. Na wonderlike jare op Amalia kom die roepstem van die Here na die NG Gemeente Hartebeesfontein, waar ds Sarel en mev Eloff op 16 Januarie 1954 ontvang word, ‘n groot gemeente wat deel uitmaak van ‘n lieflike boerderygemeenskap. Onder sy leiding word ‘n nuwe kerkgebou in 1959 ingewy, terwyl ds Tienie Britz as medeleraar bevestig word. ‘n Roepstem na Potchefstroom bring ‘n einde aan ‘n wonderlike dienstyd en hy word opgevolg deur sy vriend dr EPJ Kleynhans van Brandfort.

Met sy bevestiging op 1 Augustus1959 as leraar van die NG Gemeente Potchefstroom-Noord, betree hy weer die bekende kampus van die Pukke. Na twee jaar in 1961 word hy leraar van die NG Gemeente Potchefstroom-Die Bult, waar hy as studenteleraar diep spore trap, help met die bou van ‘n nuwe kerkgebou op vele terreine van die samelewing kosbare diens lewer. In 1964 ontvang hy sy doktorsgraad met proff J de W Keyter en HDA du Toit as promotors. Hier werk hy tot in 1975 toe hy predikant in diens van die Algemene Sinode met opdrag opvoeding en onderwys word. Vanaf Bloemfontein speel hy ‘n groot rol op kerklike en sinodale vlak, in ‘n besonder is hy betrokke by die totstandkoming in 1981 van die Fakulteit Teologie aan die UOVS in Bloemfontein. Voorheen dien dr Sarel ook op die kuratorium van die Teologiese Fakulteit in Pretoria, daarom is hy ‘n steunpilaar in die kuratorium van die nuwe Fakulteit Teologie in Bloemfontein.

Een van die hoogtepunte in sy onderwyswerk was die Afrikaner-Onderwyskongres van 18-20 Maart 1982 in Bloemfontein,’n byeenkoms waar 2000 kongresgangers hom aan die einde van sy referaat staande toegejuig het. Hy skryf: “Dit het trane van dankbaarheid in my oë gebring en ek het op my beurt voor die skare gebuig. Vir my was dit een van die heel grootste oomblikke in my lewe”.

Na tien jaar in die warm stoel van onderwys en opleiding, aanvaar dr Sarel Eloff aan die begin van 1984 sy emeritaat na 35 jaar diens in die NG Kerk. Die egpaar tree af op Parys waar hy by kerklike, kulturele en gemeenskapsake betrokke bly, ‘n harde werker en iemand wat tot die einde diensbaar bly in Koninkryksdiens. Dr Markus Gertenbach van Brandfort skryf oor dr Sarel: “Met sy besondere vermoëns dien hy steeds in verskeie belangrike kommissies van beide die Algemene Sinode en die Sinode van die NG Kerk in dic OVS o.a. as lid van die Moderamen van die OVS. Hy trap diep spore en is ‘n nederige, bekwame en soepel denker wat dikwels die sinodes met weldeurdagte argumente uit netelige situasies lei. Ek het hom leer ken as iemand wat naby aan sy Here leef. Hy was Bybelgetrou in sy debatvoering, lief vir die mooi tradisies van sy kerk, maar ook iemand wat veranderinge kon lees en Bybels verantwoord kon inkorporeer in sy gedagtegang”.

Dr Sarel Eloff is op 13 Desember 1945, sy eerste studiejaar aan die Kweekskool op Stellenbosch, getroud met mej Tor Bergmann van Springbok. Uit n wonderlike huwelik van 59 jaar, gekenmerk deur ‘n lieflike saam loop in diens van die Koninkryk, is vier kinders gebore: Sarel, Lana, Johann en Jireh. Met sy afsterwe was daar 14 kleinkinders en 3 agterkleinkinders. Die familie het hom Lof of oupa Loffie genoem. Sy seun Johann volg sy vader se voetspore en is tans leraar in Australië.

Dr Sarel Eloff sterf na ‘n siekte van twee maande 14 Junie 2005 in die ouderdom van 85 jaar, op sy vrou Troi se verjaarsdag. Op 19 Junie 2005 lei sy seun dr JMB Eloff die begrafnisdiens uit die NG Kerk Parys-Suid onder blyke van groot belangstelling. Prof Sybrand Strauss van die Fakulteit Teologie in Bloemfontein lewer ‘n huldeblyk namens die NG Kerk en Sarel Eloff (jr) doen die bedankings. Hy skryf uit Potchefstroom: “My Pa was tot op 5 April 2005, toe hy die laaste keer rolbal en jukskei gespeel het, baie aktief. Hy het op Sondag 4 April nog op Vredefort gepreek. Hy het in November 2004 nog by Johan en gesin in Australië gaan kuier. My pa se wysheid is oral waar hy gewoon en gewerk het, gerespekteer. Sy streng, maar liefdevolle medemenslikheid was ‘n aanwins vir almal wat my pa se pad gekruis het”. – Dr Gerdrie van der Merwe. (Jaarboek ).