Gebore
27 Des. 1907
OORLEDE
01 Jul. 1999
UNIVERSITEIT
–
GELEGITImeer
1933
ORDEN
1934
STANDPLASe
1934 Dullstroom
1937 Goedgegun
1939 Sabie
1945 Chrissiesmeer
1947 Newcastle
1952 Chrissiesmeer
1960 Letsitele
EMIRITEER
–
Ds Willem Hendrik Boshoff Ebersohn (BA, MDiv) 27 Des. 1907 – 01 Jul. 1999
Willie Ebersohn (of Oom Willie, soos sy kollegas hom genoem het) het op sy nederige, vriendelike en ongekunstelde manier, ‘n groot indruk gemaak op almal wat hom geken het. ‘n Ware Christen “heer” wie se hele lewe getuig het van sy innerlike godsvrug en wellewendheid.
Hy is op 27 Desember 1907 op Lindley as die tweede oudste van vyf kinders gebore. Hy het skoolgegaan op Lindley en vanaf 1927 tot 1931 op Stellenbosch gestudeer waar hy sy BA-graad behaal het. Daarna is hy na Princeton College in die VSA en het die graad MDiv in 1933 met lof behaal. Hy het sy proponentseksamen op Stellenbosch afgelê en is in 1934 in die gemeente Dullstroom georden. Daar het hy mej Mossie Geldenhuys ontmoet met wie hy op 10 Mei 1937 in die huwelik getree het. Uit hierdie huwelik is twee kinders gebore naamlik Jan en Henna (nou Minnaar); Daar is vier kleinkinders en twee agter-kleinkinders.
Hy bedien die volgende gemeentes oor ‘n tydperk van veertig jaar: Dullstroom (vanaf 25 Augustus1934).daarna Goedgegun Swaziland (vanaf 29 Mei 1937) en Sabie (vanaf 16 September 1939); Vanaf 1942 tot 1945 was hy veldprediker tydens die Tweede Wêreldoorlog en vanaf 28 April 1945 die leraar van Chrissiesmeer.
Op 22 November 1947 het hulle na Natal verskuif na die gemeente New Castle waar hy ses jaar gearbei het. Hy het ‘n beroep terug na Chrissiesmeer aanvaar (vanaf10 Januarie 1953); Op 08 Augustus1960 het hulle verder noordwaarts getrek in die Oos-Transvaal na Letsitele, waar hy getrou en vrugbaar, tot met sy aftrede op 29 April 1973, gearbei het.
Na sy aftrede het hulle eers in ‘n woonstel in Sunnyside, Pretoria gaan bly, maar het daarna in verskillende aftree-oorde gewoon: Ebenhaeser, Prestige Park en die laaste agtien maande voor sy afsterwe, in die hoësorg-eenheid van De Meerpaal. In hierdie tyd het sy verstand ook agteruit gegaan en was hy so afgetakel dat hy nie meer bewuswas van wat om hom aangegaan het nie. Hy is op 1 Julie 1999 oorlede en die begrafnis is op 6 Julie gehou.
In die begrafnisbrief is die volgende getuienis van hom gegee: “Ons loof en dank ons Hemelse Vader vir die lewe en voorbeeld van ons broer, vader, oupa en vriend. Dit was so maklik om hom lief te hê en te respekteer. Ons sal sy waardigheid, minsaamheid, lewenswysheid, fyn humorsin en belesenheid nooit vergeet nie en ons sal sy nagedagtenis eer en vorentoe as ‘n troos en rigsnoer op ons lewenspad gebruik.”
As leraar in die kerk, het hy uitnemende, maar nederige diens gelewer. Hy was lank lid van die Sinodale Kommissie van Natal en Transvaal en het ook in ander Sinodale Kommissies dien. Hy het ‘n groot aandeel gehad in die totstandkoming van die Letaba-Sendinghospitaal by Tzaneen asook die destydse “Inrigting vir Kreupel Bantoes” aldaar. Hy het lank as voorsitter van hierdie besture gedien asook van die raad van die Van Velden-Hospitaal te Tzaneen. Hy was voorsitter van die Dr Annecke-Skoolkomitee op Letsitele. As voorsitter van die Ring van Soekmekaar, het hy ook onberekenbare diens aan die kerk, die gemeentes en aan sy medepredikante, vir wie hy soos ‘n vader was, gelewer.
Talle dankbare lidmate sal hom onthou as pastor by uitnemendheid. Sy preke was besielend en bemoedigend, sy huisbesoek oomblikke van verkwikking en versterking. Deur sy getrouheid, toewyding en opoffering het hy steeds een doel nagejaag: om die Naam van die Here groot te maak en daarvoor het hy sy kragte ingespan.
Sy vrou, Mossie, het hom getrou bygestaan met haar vriendelikheid, taktvolheid en meelewing. Hulle het ‘n oop pastorie gehad waaruit hartlikheid gestraal het. Sy het hom vroeër vooruitgegaan.
Sy kleindogter, Wilma (18); het die volgende gedig oor hom geskryf, wat deel van die begrafnisbrief was: “Herinneringe aan Oupa; ‘n aartsengel in mensegewaad
die verpersoonliking van sy Vader wat gestalte gee aan goedheid
dit was jy, Oupa,
prediker van die Blye Boodskap.
‘n Vlietende gedagte so kortstondig is die mens se bestaan; net ‘n oomblik in menseheugenis nietig.
In die vergetelheid van die verstand verdwyn dekades se geleerdheid. Vlymskerp logika vergaan stof tot stof.
‘n Siel versonke is bevry van die stoflike die tevergeefse aardse stryd het oorgegaan in ‘n hemelse sterre nag ‘n grote het verskiet
en opgevaar na sy Maker.” – Dirk Viljoen aan die hand van stukke voorsien deur sy dogter Henna en eie hoë waardering. (Jaarboek ).