GEBORE
5 Okt 1947
oORLEDE
2022
UNIVERSITEIT
BA; BA (Hons); BTh (US)
gelegitimeer
1981
ORDEN
1983
standplase
1983 Germiston
1992 Demissie
EMERITEER
–
DS PIETER DUMAS (BA Hons, BTh) 5 Oktober 1947 — 25 Mei 2022
Petrus Johannes Dumas is op 5 Oktober 1947 gebore op die plaas Jacobsdal naby Kuilsrivier en word in 1947 in die NG Kerk Kuilsrivier gedoop deur ds. P de Lange. Pieter se vader is Petrus Johannes Dumas wat die Here as boer dien en sy moeder is Helena Sophia Mans, ‘n boorling van Loxton in die Groot-Karoo. Pieter begin sy skool-loopbaan aan die Laerskool Kuilsrivier en matrikuleer in 1970 aan die Hoër-skool De Kuilen waar hy presteer in Afrikaans en uitblink in rugby en atletiek. Hy word in 1970 student aan die Universiteit Stellenbosch waar hy in 1973 die BA-graad en in 1974 die honneursgraad in filosofie behaal. Hierna gee Pieter in 1976 onderwys.
In 1979 word Pieter student aan die Fakulteit Teologie op die Akker en is deel van ‘n groep jongmanne wat hulle voorberei vir die amptelike gemeente-bedien ing. Hy behaal in 1981 die BTh-graad en skryf ‘n lisensiaat skripsie in Dogmatiek onder prof WD Jonker: “Geloof, sekerheid en religieuse twyfel”. Hy getuig dat prof NJ Smith en prof WD Jonker ‘n besondere indruk op hom gemaak het. Na sy legitimasie op 1 Desember 1981 is hy nie beroep-baar nie maar studeer verder.
Op 14 Oktober 1983 word prop PJ Dumas met handoplegging in die NG Gemeente Germiston ontvang en bevestig, dit is sy eerste en enigste gemeente wat hy bedien. Kort na sy bevestiging begin ds. Pieter Dumas die beleid van apartheid en rasseskeiding in Suid-Afrika te veroordeel vanaf die kansel van die NG Moedergemeente Germiston. Dit is sy passie wat sommige ‘n roekelose gehoorsaamheid noem, om klem te lê in sy prediking op versoening en geregtigheid op voetsool-vlak in die NG Kerk. ‘n Eerste poging om die NG Gemeente Germiston in die winter van 1984 oopte stel vir alle rasse het misluk, maar slaag ‘n jaar later in 1985. ‘n Eerste gesamentlike nagmaal vind plaas, waarby die NGKA van Germiston-Suid betrek word, wat die onderliggende spanning op voetsool-vlak verhoog. Aan die einde van 1985 word ‘n groep lidmate van die NG Sendingkerk wat weens die groepsgebiedewet uit Germiston verskuif is, as lidmate van die NG Gemeente Germiston ingetrek en word die eerste bruin ouderling op 15 Maart 1987 in die NG Kerk Germiston bevestig.
Ds. Pieter Dumas het in 1983 getuig: “Ek was altyd die mening toegedaan dat anderskleuriges in die kerk toegelaat behoort te word en dat, Skriftuurlik gesproke, die kerk onvoorwaardelik `oop’ moes wees”. Hierdie siening het hom in botsing met sommige gemeentelede, ringsleraars en die kerklike leiding gebring.
Die Ring van Germiston het ds. PJ Dumas op 2 November 1987 geskors as leraar op grond van die beweerde oortredings van die vyfde en negende gebod, die gehoorsaamheids- en valse getuienis- gebod. Hy appelleer na die Sinode van Suid.-Transvaal, wat slaag weens prosedure foute en word in sy amp as leraar herstel. Maar weens kerk-ordelike bepalings mag hy nie terugkeer na die NG Gemeente Germiston nie. Dit bring geweldige spanning in die gemeente en ringsgebied, wat aan-gevuur word deur sensasionele pers-berigte en briewe van ds. Pieter Dumas in Beeld. Die situasie is so intens en draai in die Hooggeregshof, waarna die NG Kerk na ‘n kerkstryd en regsgeding van agt maande verplig is om ds. Pieter Dumas in sy amp as leraar in Germiston te herstel. Hy bly aan in die gemeente en die kerklike spanning op voetsool-vlak verdwyn nie, maar bly sluimerend en daar is twee groepe wat onversoenbaar is en die wese en die welwese van die Here se koninkryk word nie gedien nie. Op 28 Oktober 1990 preek dr Beyers Naudé in die NG Moeder-gemeente Germiston, volgens oorlewering sy eerste preek na 27 jaar in ‘n NG gemeente in Suid-Afrika.
Ds. Pieter Dumas bly aan in die NG Moedergemeente Germiston en in sy eie woorde gaan hy voort met die verkondiging van die Bybelse boodskap van eenheid, vrede en liefde, wat in sy eie woorde nie deur die NG Kerk in sigbare eenheid sigbaar word in die samelewing nie. Op 25 Oktober 1992 lewer ds. PJ Dumas sy afskeidspreek en op 8 November 1992 ontvang hy demissie weens die finansiële posisie van die gemeente volgens artikel 13 van die Kerkorde.
Hierna verhuis ds. Pieter Dumas en sy gesin na Kuilsrivier omgewing in die Kaapse Skiereiland. Hy skryf: “My kritiese mutasie met die NG Kerk se ongeloofwaardigheid word vir my vrou Elmarie en dogter Marlize ‘n allesoorheersende stryd. Ek dank hulle vir hulle liefde en ondersteuning ten spyte van.”
Ds. Pieter sterf op 25 Mei 2022 na ‘n lang siekbed en na sy dood plaas die gesin ‘n buitengewone huldeblyk met foto in die “In Memoriam”-gedeelte van Die Burger, wat sy hele lewens loop en ervarings met die NG Kerk in herinnering roep. ‘n Gedenkdiens vind op 3 Junie 2022 in die NG Moeder-gemeente Kuilsrivier plaas. — Dr Gerdrie van der Merwe VDM (Bl. 369)