Du Toit, Stefanus Jeremia

Ds. Du Toit Stefanus

Gebore

16 Nov. 1918

OORLEDE

7 Jan. 2011

UNIVERSITEIT

GELEGITImeer

1944

ORDEN

1946

STANDPLASe

Vereeniging-Wes

1957 Pietermaritzburg-Noord

1963 Piet Retief

1968 Suidkus

EMIRITEER

1984

Ds Fonnie Du Toit (BA, MA, BTh) 16 November 1918 – 7 Januarie 2011

StefanusJeremia du Toit is op 16 November 1918 op Vredenburg aan die Weskusgebore. Sy vader was ds PW du Toit, ‘n sendeling van Wellington, Wynberg en Kaapstad. Sy moeder, Sarah Elizabeth van Jaarsveld, was ‘n huisvrou wat haar gesin met liefde grootgemaak het. Fonnie het sy skoolopleiding aan die Laerskool Noordhoek op Wellington begin en was van 1933 tot 1934 ‘n leerling aan die Hoërskool Simon van der Stel in Wynberg. In 1935 het hy ‘n leerling aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad geword, waar hy aan die einde van 1936 gematrikuleer het.

Fonnie het na matriek ‘n Matie geword en het in 1940 die graad BA (Admissie) ontvang. Dit het hom toegang verleen tot die Teologiese Seminarium in die Eikestad. Op Stellenbosch het hy aktief deelgeneem aan atletiek en was hy ook by sendingwerk betrokke. In sy Kweekskool jare het hy ook die graad MA behaal voordat hy aan die einde van 1944 as proponent gelegitimeer is. Die titel van sy verhandeling was: “Kant se beskouing van goed en kwaad.” Op 19 Januarie 1946 is Fonnie met handoplegging in die NG Gemeente Vereeniging-Wes ontvang en bevestig, waar hy betrokke was by die bou van ‘n nuwe kerkgebou. Hy was hier in diens totdat hy op 24 Augustus1957 leraar van die NG Gemeente Pietermaritzburg-Noord geword het, waar hy hard gewerk en talle lewens in Natal aangeraak het. Ds Fonnie was 13 jaar lank skriba van die Natalse Sinode en het goeie werk gedoen. Hy het ook 13 jaar lank in die Eksamenkommissie gedien en was in die Kuratorium aan die Kweekskool op Stellenbosch.

Op 19 Oktober 1963 het hy leraar van die NG Gemeente Retief-Despatch in Oos-Kaapland geword, voordat hy op 27 Januarie 1968 teruggekeer het na sy geliefde Natal as leraar van die NG Gemeente Suidkus. Hier was hy betrokke met die bou van ‘n kerkgebou voordat hy op 31 Januarie 1984 emeritaat aanvaar het. Hulle het in Amanzimtoti bly woon, waar Fonnie steeds besig was met die Here se werk, onder meer ses jaar lank as organiserende sekretaris van die Bybelgenootskap in Natal, met standplaas Durban. In 1989 het hy finaal afgetree en die egpaar het hulle in Somerset-Wes gaan vestig, en later na die Strand verhuis. In die laaste jare van sy lewe was hy ‘n inwoner van die ACVV Huis Genot in Algoapark.

Ds Fonnie du Toit is op 25 Desember 1953 met Jacomi Elizabeth Malan getroud, en uit die huwelik is twee kinders gebore, Marieta en Pieter Willem. Ds Fonnie is op 7 Januarie 2011 oorlede en daar is tydens sy roudiens verwys na die groot werk wat hy met oorgawe in Koninkryksbelang gedoen het. – Dr Gerdrie van der Merwe.